Reaksie op misdaadsyfers: ‘SA raak ál meer gewelddadig’

Argieffoto: Kent Williamson

Die jongste misdaadstatistieke van 2019-’20 toon dat Suid-Afrika al hoe meer gewelddadig raak met onder meer 21 325 moorde wat in dié tyd gepleeg is.

“Hierdie statistieke wys Suid-Afrikaners leef in ʼn onveilige en gevaarlike omgewing,” het dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, gesê.

Indien gekyk word na die sewe kategorieë van kontakmisdaad wat teen mense gepleeg is, is daar in slegs twee van die kategorieë, naamlik poging tot moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer, ʼn afname.

“Dit is die derde jaar agtereenvolgens wat hierdie kategorieë gesamentlik toeneem en dit dui op die gewelddadige aard van Suid-Afrika se samelewing. Dit dien ook as bewys van waarom mense onveilig voel in die land.”

Die VF Plus het ʼn beroep op die regering gedoen om toe te sien dat ʼn onafhanklike liggaam die misdaadstatistieke behoorlik oudit om seker te maak dit is ʼn ware toonbeeld van die misdaadsituasie in Suid-Afrika.

(Foto: Reint Dykema)

Andrew Whitfield, DA-woordvoerder oor polisie, meen die bekendmaking van die jongste misdaadsyfers laat meer vrae as antwoorde. Die party gaan Bheki Cele, minister van polisie, versoek om duidelikheid te verskaf rakende “talle problematiese en verwarrende aspekte” rakende die misdaadstatistieke.

“Die misdaadsyfers dui weereens aan dat die polisie die stryd teen die meeste groot misdade verloor.”

Die insluiting van statistieke oor plaasaanvalle en -moorde is deur Whitfield verwelkom. Hy meen die volle inwerkingstelling van die landelike veiligheidstrategie moet egter bespoedig word.

“Die misdaadstatistieke is ʼn aanklag teen die polisie en spesifiek die minister wat meer bekommerd is oor alkohol en sigarette as gewelddadige misdadigers. Dit is duidelik dat die ANC-regering daarin misluk om ons gemeenskappe veilig te hou.”

Die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) meen doelgerigte ingrypings is nodig om hardnekkig hoë vlakke van moord en gewapende roof in Suid-Afrika te verminder.

(Foto: SA Polisie)

Moord en gewapende roof het vir die agtste agtereenvolgende jaar gestyg en volgens Gareth Newman, hoof van geregtigheid en geweldvoorkoming by die ISS, gee die twee misdaadkategorieë die beste besef van die stand van openbare veiligheid in die land.

“Die polisie moet die vermoë hê om misdaadintelligensie en ontleding, getuienisgegronde praktyke en geteikende ingrypings toe te pas om hierdie uiters ernstige misdade aan te raak.”

Die ISS is steeds bekommerd oor die afwesigheid van ʼn toegewyde strategie vir die professionalisering van polisiëring in Suid-Afrika. Polisiebronne word nie optimaal benut nie en wydverspreide polisiebrutaliteit en korrupsie ondermyn steeds die pogings van eerlike, toegewyde en hardwerkende polisiebeamptes aan die voorste linies, het die ISS gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Blikke ·

Sou nogal interessant wees om die huidige moordsyfer statistiek te vergelyk met die van 1993 vir dieselfde tydperk…..????

Blikkantien ·

Wonder of die twee kategorieë wat ‘n afname toon, nl. Poging tot moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer, nie dalk nou onder moordstatistieke is nie. Maw, hulle het geslaag en dit was nie net pogings nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.