Reaksiebeampte se lewensmaat in hof na sy dood

Natasha Beyers in die hof (Foto: NVG)

Natasha Beyers (32) is Maandag op borgtog van R3 000 vrygelaat nadat sy in die landdroshof in Pretoria-Noord verskyn het vir die moord op haar lewensmaat Arthur Dobson.

Dobson het op 14 Februarie in Lambert Lee-laan in Parktown, Pretoria, met sy motor teen ’n boom gebots nadat hy sy bewussyn verloor het. Hy is glo oomblikke voor dit deur Beyers met ’n mes in die bors gesteek.

Dobson, ’n Brinant-reaksiebeampte, is deur paramedici op die toneel dood verklaar. Beyers is kort hierna in hegtenis geneem.

Volgens Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het die hof gehoor Beyers en Dobson het op Valentynsdag oor ’n sigaret in ’n rusie betrokke geraak. Beyers voer aan Dobson het haar aangerand en dat hy in die proses met ’n mes gesteek is.

Dobson het Beyers in die huis toegesluit en glo na ’n hospitaal vir behandeling gery toe hy teen die boom gebots het. Die polisie het Beyers toegesluit in die huis gevind en sy het hulle ingelig dat Dobson die huissleutels gevat het. Die sleutels is in sy motor gevind.

Arthur Dobson

In die hof het Beyers se prokureur ’n beëdigde verklaring voorgelees waarin sy erken het dat sy die oorledene gesteek het en sy versoek het om op borgtog vrygelaat te word.

Nkhangweleni Phanuel Mudavhi, die staatsaanklaer, het aan die hof gesê dat die staat ’n sterk saak teen die beskuldigde het en dat dit nie in die beste belang van geregtigheid is dat die beskuldigde op borgtog vrygelaat word nie. Die beskuldigde het twee vorige veroordelings van diefstal en meineed.

“Sy is voorheen aan meineed skuldig bevind; so watter bewyse het die hof dat sy eerlik sal wees en haar borgtogvoorwaardes sal nakom.” Die staat het versoek dat Beyers nie op borgtog vrygelaat word nie.

Die landdros het egter bevind dat die beskuldigde nie ’n vlugrisiko is nie en dit onwaarskynlik is dat sy haar verhoor sou ontduik, waarna borgtog toegestaan is. Die saak is tot 24 Maart vir verdere ondersoek uitgestel.

Beyers en Dobson het ’n jong seun. Dobson was ook die pa van drie ander seuns uit vorige verhoudings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Misky ·

Tragiese storie en bakleiery begin oor ‘n sigaret….. en dit boonop op Valentynsdag. Nou is vier seuns sonder ‘n pa. Simpatie met naasbestaandes.

Herman ·

Waar kry jy die antwoord? Jy moenie so vroeg begin drink nie.

Swerwer ·

‘n Saak het altyd 2 kante en mag geregtigheid hier seëvier.
Al is jy hoe kwaad vir iemand, geweldadigheid is nie ‘n oplossing nie.

Casper ·

Hoe verdedig ‘n vrou haar teen so ‘n man.Feit is sy het nie gelieg oor die huis wat toegesluit was nie.Wat was werklik die oorsaak van sy dood.Na hy met die mes gesteek is het hy haar eers in die huis toegesluit en toe hospitaal toe gery en toe teen die boom vasgery.Het sy die opset gehad om hom te vermoor of het sy haarself verdedig.
1 Die staat moet bo redelike twyfel opset bewys vir moord
2 Bo redelike twyfel bewys dan sy skuldig is aan strafbare manslag en indien nie een van bogenoemde twee scenarios bewys kan word nie kom dit neer op noodweer.

Wielspore ·

Dat ‘n persoon vir sy lewe betaal oor twak, geen nugter persoon sal so optree.

chantelle ·

ons het hom geken, hy was n staatmaker en werklik n omgee mens en altyd maar altyd gehelp waar hy kon. van diere red tot misdaad bekamping. die dame dink ek het n paar varkies los…

Koffiepens ·

Dis jammer dat gesins geweld meeste v d tyd tot moord lei. As die beskuldigde bloukolle in gesig het, n deur wat oop geskop is en in huis toegesluit word en huis sleutel in motor gevind is dit mos n bewys dat daar n probleem is. Klink asof dit al voorheen gebeur het. Geweld word gedefineer as die onregmatige gebruik v mag, die uitoefen v fisiese krag wat tot beserings lei. Beskuldigde moes
dan al eerder n beskermingsbevel gekry het dan sou dinge nie so lelik uitgedraai het nie.

Mastermind ·

As jy met ‘n mes in die hart gesteek word, is daar nie tyd om ‘n huis te sluit nie…..bogstorie
Volgens bure het hulle nie meer saamgewoon nie. Sy het by ‘n ander man gewoon en die oorledene het alleen gewoon.
Wat het sy daar gesoek.
Laat ‘n mens wonder

Sê maar net ·

So baie mense kry swaar met alles wat gebeur het die afgelope 2 jaar. Gemoedere loop hoog. Daar is so baie mense wat geliefdes, werk, besighede of eiendom verloor het. Opgekropte frustrasie kan oorsit in woede wat enige persoon in ‘n oogknip, haar of sy humeur kan laat verloor. Dit maak nie die aanval reg nie. Dis baie tragies. Maar ons moet vir hulp gaan as ons dinge nie meer kan hanteer nie. Baie mense dra die stres en angs binne hulle, sonder dat daar ‘n uitlaatklep is. Dan vat dit die geringste klein dingetjie, die laaste strooi, wat daai prop uit die rondgegooide gaskoeldrank laat ontplof. Arme kinders sit nou sonder ‘n pa. Ma gaan tronk toe…..mag God hulle genadig wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.