Reg om te regeer: Dís hoe ActionSA land wil regruk

Herman Mashaba, president van ActionSA, by die bekendstelling in Johannesburg. (Foto: ActionSA/X)

ActionSA se verkiesingsmanifes bestaan nie uit ʼn lang lys populistiese of onrealistiese beloftes nie.

“Dit is ʼn visie van wat moontlik is onder ʼn etiese en bekwame regering en is ʼn pragmatiese en implementeerbare plan om Suid-Afrika reg te ruk deur die grootste uitdagings wat ons mense in die gesig staar te takel.”

Dít was die boodskap van Herman Mashaba, die president van ActionSA, tydens die party, wat minder as vier jaar gelede op die been gebring is, se manifesbekendstelling Saterdag in Johannesburg.

“As ʼn suksesvolle sakeman wat ‘Black Like Me’ op die kruin van apartheid opgebou het, het ek nog nooit daarin geglo om beloftes te maak wat ek nie kan nakom nie. Ek doen stappe om mense te wys wat moontlik is.

“Dit is hoekom ons manifes ʼn aksieplan is om ʼn inklusiewe en welvarende toekoms vir ons hele land te bou – want net optrede gaan Suid-Afrika regruk.”

Mashaba sê onder die leiding van ActionSA sal miljoene nuwe werksgeleenthede, veiliger gemeenskappe, behoorlike grense, toegang tot gehalte onderwys en gesondheidsorg vir almal ontsluit word. Vir die eerste keer sal die inklusiewe bemagtiging van alle voorheen benadeelde Suid-Afrikaners plaasvind, asook van diegene wat gepootjie is deur drie dekades van regering onder ʼn “ongevoelige, onetiese en onpatriotiese regering”.

Ondanks beloftes van ʼn sogenaamde nuwe dagbreek is die lewe van die meeste Suid-Afrikaners vandag veel erger as in 2018. Mashaba sê pres. Cyril Ramaphosa en die regerende ANC is nie in voeling met die ondervinding van die meeste Suid-Afrikaners nie.

“Ja, daar was ʼn mate van vordering in die aanvanklike tydperk ná 1994.

“Maar toe het die kanker van korrupsie en kaderontplooiing wortel geskiet en die hoop en drome van gewone Suid-Afrikaners het ʼn vergete prioriteit geword,” sê Mashaba.

Duisende mense was by die bekendstelling van ActionSA se verkiesingsmanifes. (Foto: ActionSA/X)

Menseregtedag is vandeesweek gevier, maar dit het mense herinner aan hoe daar versuim is om die drome te verwesenlik wat met die aanvang van demokrasie beloof is, het hy gesê. “Kos- en brandstofpryse het beduidend toegeneem. Daar is vandag veel meer werklose Suid-Afrikaners as in 1994. Ons onderwysstelsel het nie met ons internasionale eweknieë sʼn tred gehou nie en minder leerders kan met begrip lees as in 2018.

“Terwyl ons vandag hier bymekaar is, in die Johannesburgse middestad, word ons omring deur gekaapte geboue, vullis wat ophoop en gewapende rooftogte wat helder oordag plaasvind. Dienste is onbetroubaar en beurtkrag en beurtwater is ʼn manier van leef. Doeltreffende openbare vervoer het basies net-net nog nie ineengestort nie en misdaad is buite beheer.

“Dit breek my hart om te dink dat 84 Suid-Afrikaners elke dag vermoor word omdat misdadigers geen vrees meer het om tronk toe te gaan nie.

“Ons kan nie langer so aangaan nie,” sê Mashaba.

Die ActionSA-leier het in sy toespraak gesê hy wil nie vashaak by die uitdagings – en daar is baie – wat die land in die gesig staar nie. Hy het eerder die party se topprioriteite bekend gemaak.

Die skep van meer as 4,8 miljoen nuwe, werklike werksgeleenthede oor die volgende vyf jaar; ʼn einde aan beurtkrag ná twee jaar as regerende party; ekonomiese geregtigheid deur sogenaamde inklusiewe ekonomiese bemagtiging, ʼn universele basiese inkomste-stimulus en inkontraktering; die herinstelling van die oppergesag van die reg, ʼn einde aan korrupsie, dwelmmisbruik en geslagsgebaseerde geweld; en laastens, die beveiliging van die landsgrense.

Mashaba sê om Suid-Afrika reg te ruk gaan dapperheid en waagmoed verg. En ook dat mense vir iets nuut stem en hul vertroue plaas in ʼn geloofwaardige alternatief vir die mislukte politieke establishment.

“Ek het dit al tevore gesê: Ons kan nie aanhou om dieselfde ding te doen en ʼn ander uitkoms verwag nie. Ons kan nie aanhou om vir dieselfde ou, politieke partye te stem en verwag dat verandering gaan plaasvind nie.”

 

  • Die verkiesing vind op 29 Mei plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.