‘Regering kelder sélf swart boere’

Dr. Theo de Jager, Whiskey Kgabo, Barend Uys, Vuyani Zigana en Johannes Bezuidenhout. (Foto: Verskaf)

Begunstigdes van grondhervorming is raadop met die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se stelsel wat hulle skynbaar verhoed om die grond waarop hulle suksesvol boer, te besit. Dié boere voer daagliks ’n stryd om grondsekerheid en is magteloos teen plunderaars en onwettige besetters.

“Ek het hulp nodig,” vertel een van drie begunstigdes wat Dinsdag tydens ’n mediakonferensie van die burgerregteorganisasie AfriForum en familieboernetwerk Saai vertel het van hul stryd om hul stukkie aarde te behou.

Whiskey Kgabo, Vuyani Zigana en Johannes Bezuidenhout, asook menigte ander boere, kry nie die geleentheid om titelaktes vir hulle plase te bekom nie en word eindelik tot bywonerstatus gedoem.

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, sê nou dit is van nasionale belang dat swart boere eienaarskap van hul plase moet kry, “anders sit ons oor tien jaar weer met twee klasse boere in die land – wit boere wat hul eie grond besit en swart boere wat by die staat huur.

“Niemand verstaan waarom die staat nie sy burgers met eienaarskap vertrou nie. Hulle kry nie eers huurkontrakte nie. Deur onsekere gebruiksreg op grond sonder enige kontrakte of met huurkontrakte in stand te hou, skep die staat ’n afhanklikheidstrik waaruit opkomende boere nie kan ontsnap nie.”

Boere vertel

Kgabo het ’n huurooreenkoms van 30 jaar vir die plaas Ledzee (880 ha) in die omgewing van Tzaneen met die staat aangegaan. “Dit is ’n baie goeie plaas met genoeg water. Dit is egter moeilik om te boer, want ek besit nie plaas nie. Ek is ’n buffer …” het hy tydens die mediakonferensie verduidelik.

“Wanneer iemand daar steel, kan ek hulle nie polisie toe neem nie, omdat jy moet bewys dat dit jou plaas is. Indien daar wel ’n saak aanhangig gemaak word, sê die landdros hy kan nie die saak verder voer nie want die plaas behoort nie aan my nie.

Kgabo moes dus verlede jaar staan en toekyk hoe 2 000 mense op sy mango-boorde toeslaan en sy oes voor sy oë plunder. Sy mango-boorde is die afgelope drie jaar al drie keer aan die brand gesteek.

“Hoe gaan ek vorentoe?” wil hy nou weet.

“Ek het hulp nodig. Ek het 38 jaar se ondervinding as boer,” sê Kgabo voordat hy bewoë raak.

Zigana, ’n beesboer van die plaas Bersheba in KwaZulu-Natal, vertel dat hy al verskeie kere verskuif is voordat hy eindelik gedwing is om dié plaas met twee ander boere te deel, van wie een noue kaderbande het en voorkeur geniet.

“Dit is ’n nagmerrie,” sê De Jager nou. “Hoe bou jy jou veekudde op? Hoe doen jy jou seleksie in terme van jou genetika? Hoe word jy ʼn mededingende boer in daardie omstandighede?”

Die Wes-Kaapse skaapboer Johannes Bezuidenhout van Nuveld Farming Empowerment Enterprises in die omgewing van Beaufort-Wes, het op sy beurt vertel dat hy al verskeie pryse vir sy wol ingeryg het en die stof in menigte kommersiële boere se oë geskop het.

Hy het nog geen erkenning van die departement daarvoor ontvang nie. Intussen het hy geen versekering van verblyf op sy plaas nie. Bezuidenhout se huurkontrak het verstryk en hy spook om sy nuwe huurkontrak uit staatsamptenare te kry ten spyte daarvan dat hy aan die nodige kriteria voldoen én die beste in die onderhoude gevaar het.

“Hoe boor jy ’n boorgat? Hoe sit jy nuwe heining op as jy nie weet wanneer jy van die plaas afgegooi gaan word nie,” vra De Jager.

“Suid-Afrika slaag tans nie daarin om om ʼn klas winsgewende swart boere op grondhervomingsplase te skep nie.

“Nie as gevolg van die boere se mislukkings nie. Dit is die stelsel wat ons in die steek laat. Die departement is nie bevoeg genoeg om die nodige steun aan boere te bied nie,” sê De Jager.

“Elkeen van hierdie boere is die pa van ’n huisgesin – die een wat verantwoordelik is daarvoor om die plaas aan die gang te hou en die een waarna ’n groepie plaaswerkers opkyk omdat hulle lewensbestaan van die sukses van hierdie plase afhang.

“Hulle is egter uitgelewer aan ’n departement, met geen kapasiteit, of ʼn politieke stelsel wat nie só ingerig is dat ons ’n klas van winsgewende boere kan skep nie.”

Hy sê dit is nodig dat die stelsel verander. “Hierdie boere moet titelaktes kry. Daar moet privaat eienaarskap van hulle grond wees en dan moet daar gesorg word dat hulle die middele het om mee te boer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pietertjie ·

Hoe gaan mens die stemvee oortuig van al die skade wat hulle berokken word deur die ANC?

Hannes ·

Sê ek ook, iemand moet vir hulle wys, net die regering van die dag het alles wat aan hulle belowe is… Free electricity, free water, free housing.

Mariana ·

Die onteiening van grond is juis nie vir swart boere nie, dis net nog ‘n manier van die regering om als vir hulself te wil inpalm. Hulle gee net om vir hulself en die swart boere, hulle kiesers, is die lydende partye. Dis maar hoe die ANC is, als net vir regering en die korrupte kaders. Hulle gebruik net die menigtes soos EFF om hul planne deur te kry. Alle opkomende boere kan ook nie oor dieselfde kam geskeer word nie, daar is swart/ kleurling boere wat wel boere wil wees, wat regtig omgee vir hul mense en die grond wat hulle bewerk.

Andries ·

Die kommunisme hou nie van privaatbesit nie en ons het ‘n kommunistiese regering wat privaatbesit stukkie vir stukkie afbreek – om hierdie boodskap aan die kieserskorps oorgedra te kry bly die uitdaging. Miskien sal hulle dan hul weg oop sien om vir die opposisie te stem?

Antie Sarie ·

Kommunisme kan nie bestaan sonder kapitalisme nie. En omgekeerd. Sonder kommunisme is daar geen goedkoop invoere vir die kapitalistiese lande. Sonder kapitalisme is daar geen afset gebied vir kommunisme.

Gaitsigubib ·

Daniel ek spekuleer nou maar waarom 4 mense jou n afmerkie gegee het. Hulle sit nie net agteroor op hierdie plase nie, weet jy hoe lekker kan mens die bome afkap en die bos plunder? Hier by ons woekker dit behoorlik om die plase ten gronde te laat gaan.

flutterby ·

Lyk my daar is net een party wat voordeel trek hieruit…en dis die regeering (ANC). Lyk en klink my dis ‘n hoofpyn vir 30 jaar – huur van die grond…

Suzette ·

Die rede vir die rompslomp is omdat die staat alles wil besit en al wat leef, moet van die staat afhanklik wees.

Antie Sarie ·

Geen boer wat sy sout werd is, hoef met n lepel gevoer te word deur die regering.

Gert ·

Dit is so maar as jy jou gat af werk en ietsie opbou sodat een of ander minister wat dit sien dit net by jou vat vir niks wat is die doel dan daarvan.

ENFM ·

Ek dink nie die regering (moontlik ook ander regerings), gee om oor die welstand van die landsburgers nie. Hoe meer afhanklik die burgers is, (toelae), hoe meer beheer het die regering oor die burgers van die land. Daar is politici, wat wel graag ‘n verskil wil maak, maar om uit die sisteem te kom, moet die burgers saamwerk teen die sisteem. Is ons wakker genoeg om te besef dat ons moet saamwerk?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.