Regering mag nie analoog-TV-sein afskakel

(Foto: Unsplash)

Die regering sal nie die analoog-TV-sein aan die einde van Junie kan afskakel soos vroeër besluit is nie. Dit nadat die Konstitusionele Hof dié besluit as ongrondwetlik verklaar het.

Luidens Dinsdag se uitspraak het die regering nie die regte prosesse gevolg alvorens die besluit geneem is nie en moes belanghebbendes in die bedryf se menings eers hieroor ingewin word alvorens die besluit geneem is. Die televisieuitsaaier e.TV het die hof genader om die regering se besluit te hersien aangesien baie van dié kanaal se kykers nie meer sal kon TV kyk indien die regering sy besluit deurvoer nie. Die besluit sou miljoene Suid-Afrikaners geraak het.

Die hof het ook beslis dat die afsnydatum van 31 Oktober om aansoek te doen vir dekodeerders vir digitale aardtelevisie ook ongrondwetlik is, aangesien die departement van kommunikasie en digitale tegnologie nie regte stappe gevolg het om te verseker dat lede van die publiek hieroor ingelig is nie.

Die DA en e.TV het die hof se uitspraak verwelkom.

“Die hof se beslissing steun ons argument dat die departement nie hul besluit om analoog-TV-sein af te skakel behoorlik oorgedra het nie en ook nie genoeg tyd gelaat het vir mense om vir digitale aardtelevisie te registreer nie,” sê dié party in ʼn verklaring.

“Ons moedig minister Khumbudzo Ntshavheni aan om eers wyd te konsulteer voordat haar departement op ʼn nuwe datum vir die afskakel van die analoog-TV-sein besluit en werklik die behoeftes van Suid-Afrika se armste gemeenskappe in ag te neem.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Miena ·

ooo Jeremia- hier het iemand weer beide hande in die koekblik erens …

Pieter9 ·

Seker weer advies by die regskenner Mpofu en kie gekry!
ANC regering leer nie.

piet ·

Raak my nie, het maande laas tv gekyk in elk geval. Mis dit nie.

Johan ·

Die bandwydte (frekwensies) wat gereserveer is vir TV kan baie beter gebruik word. Dit was destyds gereserveer omdat dit goed deur die atmosfeer voortplant (minder absorbeer) maar met digitale dekodeering kan ons dit baie beter uitsaai op n kleiner spektrum, wat n KLOMP “bandwydte” los sal maak vir ander stelsels. Dit is hoekom selfoon torings die hele plek vol staan, want ons kan nie die “beter” frekwensies gebruik nie. Dit moes LANK terug al afgesit gewees het.

SjN ·

Weet die minister waar sit die knoppie wat afgesit moet word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.