Regering moet opdok vir hofsaak oor ramptoestand

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

AfriForum het Vrydag sukses in die hooggeregshof in Pretoria behaal deur ʼn kostebevel teen die regering te kry vir die regsaksie wat verlede jaar teen die verlenging van die nasionale ramptoestand geloods is.

Die burgerregteorganisasie het in Februarie 2022 hofstukke ingedien waarin die hof versoek is om die ramptoestand as “ongeldig” en “onregmatig” te verklaar.

Ten spyte van die organisasie se dreigende regsaksie het die regering in Maart verlede jaar steeds die ramptoestand met ʼn verdere maand verleng.

Die regering het egter kort daarna van plan verander en die nasionale ramptoestand is in April 2022 uiteindelik opgeskort.

Volgens Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, was die opskorting egter “grootliks oëverblindery” omdat baie van die Covid-19-regulasies wat tydens die ramptoestand gegeld het, steeds daarna van toepassing was.

“Ná ʼn oorgangsperiode sou die regering se wysigings aan die Nasionale Gesondheidswet, wat in Maart 2022 aangekondig is, in werking tree.

“Hierdie wysigings sou beteken dat die meeste van die Covid-19-regulasies permanent in die Gesondheidswet ingeskryf sou word,” sê Van Zyl.

AfriForum het standpunt hierteen ingeneem deur in Mei 2022 regsaksie teen die wysigings van regulasies van die Nasionale Gesondheidswet te begin en die regering is gedwing om dié regulasies ook te skrap.

AfriForum het daarna ʼn skrywe aan die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) gerig waarin die regskoste geëis is vir die regsaksie wat die organisasie teen die ramptoestand geloods het.

AfriForum het aangevoer dit is te danke aan die organisasie se naderende regsaksie dat die ramptoestand uiteindelik beëindig is.

Cogta is Vrydag uiteindelik deur die hooggeregshof beveel om die koste te betaal.

“Die ramptoestandsaak was net een van vele sake wat AfriForum in belang van sy lede en die breër publiek geloods en gewen het. Dit is danksy ons en ander burgerregteorganisasies se volgehoue druk dat die regering die ramptoestand uiteindelik afgeskaf het – die kostebevel in AfriForum se guns bevestig dit,” sê van Zyl.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.