Regering se beursie nou styf toe vir luukshede

Minister Tito Mboweni. (Foto: Nokuthula Mbatha/ANA)

Tito Mboweni, die minister van finansies, het Woensdag aangekondig dat luukse motors, eersteklasvlugte en groot salarisse vir regeringsamptenare iets van die verlede gaan wees.

In sy mediumtermynbegrotingsrede het Mboweni gesê dat regeringsamptenare se salarisse vir tyd en wyl op hul huidige vlakke gevries gaan word, terwyl daar ook ʼn moontlike afwaartse aanpassing aan die salarisse van die kabinet, premiers en LUR’e kan volg, omdat Suid-Afrika se ekonomie nie meer die hoë loonrekening van die openbare sektor kan bekostig nie.

Die koste vir amptelike voertuie sal nou tot R700 000, BTW ingesluit, ingekort word, terwyl ʼn nuwe selfoonregulasie die bedrag wat van die regering af teruggeëis kan word, ook sal sny.

“Van nou af sal alle plaaslike vlugte slegs ekonomiese klas vlugte wees en daar sal ook nie meer geld beskikbaar wees vir beide plaaslike en internasionale reise nie,” het Mboweni gesê.

“Om die regering se begrotingstekort te verminder, sal die loonrekening hersien moet word. Tans maak dit 35% van die regering se totale begroting uit,” het die Nasionale Tesourie gesê.

Die regering se loonrekening staan tans op R518 miljard en is ook een van die uitgawes wat die meeste gegroei het, as gevolg van vergoedingspakkette wat bo inflasie aangepas is.

Tussen 2006-’07 en 2018-’19 het die getal openbare werkers wat oor R1 miljoen ʼn jaar verdien van 9 600 tot 29 000 gestyg, hoofsaaklik as gevolg van ʼn groeiende aantal werkers wat hoogsgeleerd is. Die gemiddelde inkomste van die groep het met sowat 8% oor die tydperk – van R1,2 miljoen tot R1,3 miljoen – gestyg.

Die gemiddelde vergoeding wat werkers in die openbare sektor verdien, is ook hoër as die gemiddelde vergoeding in die res van die ekonomie. Data van Statistieke Suid-Afrika se kwartaallikse werknemersopname het getoon dat die gemiddelde vergoeding oor die land se 110 sektore (landbou uitgesluit) tydens 2018-’19 net onder R237 000 ʼn jaar is. Daarteenoor is die vergoeding van ʼn werknemer in die nasionale of provinsiale regering om en by R352 000 ʼn jaar.

“Inteendeel, ons skat die syfer is selfs nog hoër, om en by R393 000 ʼn jaar,” het die Tesourie gesê.

Die gemiddelde styging in die regering se loonrekening was 6,8% in 2018-’19, 2,2% bo inflasie. “Ons sien uit na die gesprekke wat ons met unies en onderhandelingstrukture gaan hê om ʼn volhoubare ooreenkoms te verkry. Ons vra ook aan staatinstansies, openbare entiteite en die private sektor dat die topbestuur se vergoeding en byvoordele gesny sal word.”

Dit is egter net een van die stappe wat die regering gaan doen om koste met soveel as R49,5 miljard te sny. Een van die ander stappe sal wees om sekere entiteite en regulatoriese agentskappe te laat saamsmelt en te konsolideer.

Verder sal die staat ook van sy bates en ongebruikte grond verkoop.

Daar sal ook daaraan gewerk word om eise teen die staat te verminder. Mediese eise teen provinsiale gesondheidsdepartemente het tot R99 miljard gestyg tydens 2018-’19; ʼn beduidende styging van 2017-’18 se R80 miljard. Uitbetalings vir die eise het op R2 miljard in 2018-’19 gestaan, op van R1,5 miljard in 2017-’18.

Eise by die Padongelukfonds sal ook na verwagting van R341 miljard in 2019-’20 tot R605 miljard in 2022-’23 styg. Tydens 2018-’19, was 36% van brandstofbelasting betaalbaar aan die fonds. “Eise teen die fonds het baie vinniger gegroei as die heffing op brandstof, wat beteken dat daar onvoldoende inkomstegroei was om die stygende las te vereffen,” het die Tesourie gesê.

Laastens gaan die regering sy bestaande regulatoriese verkrygingsraamwerk aanpas deur die Openbare Verkrygingswet rakende die prosesse te vereenvoudig. Die wetsontwerp gaan vir openbare kommentaar in die Staatskoerant gepubliseer word sodra die kabinet goedkeuring gee.

Die Suid-Afrikaanse regering gaan ook oor die volgende drie jaar ʼn bykomende R1,3 miljard aan die Nasionale Vervolgingsgesag gee, asook ʼn bykomende R1 miljard aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens afstaan om korrupsie hok te slaan en belastinginvordering te verbeter.

Die stappe gaan gedoen word om te verseker dat die regering die gelde invorder wat dit nodig het om die Suid-Afrikaanse ekonomie aan die gang te hou, asook om lekkasies van die gelde stop te sit.

“Om ons doelwitte te bereik, gaan Suid-Afrika ʼn bykomende R150 miljard benodig oor die volgende drie jaar, of R50 miljard ʼn jaar,” het Mboweni gesê.

Die syfer is egter makliker gesê as gedaan, omdat die plaaslike ekonomiese vooruitsigte reeds in die jaar verswak het. Groei vir die jaar is nou voorspel om slegs 0,5% te wees. In 2020 ʼn ekonomiese groeisyfer van 1,2% voorspel. Die begrotingstekorte sal na verwagting ook tydens 2019-’20 verhoog tot 6,2%.

Die regering gaan egter weer hulp verleen aan sukkelende staatsinstansies, soos die Suid-Afrikaanse Lugredery (SAL). Oor die volgende drie jaar sal die beleerde onderneming nie sy uitstaande gewaarborgde skuld van R9,2 miljard kan delg nie. Die regering het weereens onderneem om die skuld te betaal, sodat die redery sy kontraktuele verpligtinge kan nakom. “Operasionele verandering is dringend by die SAL nodig,” het die Tesourie gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
Genieve

Ja sny want die helfte van hulle doen nie hulle werk nie Jan alle man moet maar tevrede wees met n piesang pay voeg dan net die woord by die daad asb.

koos

En die unies gaan dit net aanvaar???
Hulle gaan weereens vra hoekom die werkers die las moet dra van staatskaping, en geregverdig ook. Sny eerder die onbevoegde werkers (dooie hout) af en julle sal baie geld spaar.
En mijarde word aan Denel, SAL, Eskom ens gegee???

wilma

Dankie Mnr. Mboweni, maar sit tog maar die DAAD by die woord anders is dit betekenisloos.

Alex

Nou wil hulle ongebruikte grond verkoop. Plaas dat hulle dit aan die minder bevoorregtes uitdeel.

Hoop

Nou het ek regtig HOOP, iemand wat by die regte kant begin sny, dink maar ook net daaraan om by Denel, SAL & Eskom te sny aan die poste, dan sal dinge werk!