Regering se R50 miljoen-skenking aan Kuba finaal gestuit

(Foto: Yamil LAGE/AFP)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het die regering se beoogde skenking van R50 miljoen aan die Kubaanse regering suksesvol gestuit.

Dié uitspraak Woensdag deur die hooggeregshof in Pretoria volg nadat AfriForum op 15 Mei ’n hersieningsaansoek ingedien het om die onwettige skenking deur die departement van internasionale betrekkinge en samewerking te keer.

AfriForum het in 2022 ’n dringende interdik bekom om die departement te verhoed om die R50 miljoen aan die Kubaanse regering te skenk. Die appèlhof het Dinsdag die departement se appèlaansoek teen die interdik met koste van die hand gewys.

AfriForum het in sy hersieningsaansoek gevra dat die skenking tersyde gestel word, dat die besluit wat deur die Nasionale Tesourie geneem is om die skenking goed te keur tersyde gestel word, en dat die besluit om die geld te stuur nie toegelaat mag word nie – alles met regskoste.

Verder mag enige toekomstige skenking aan Kuba nie toegelaat word sonder parlementêre goedkeuring, soos uiteengesit in die organisasie se versoek nie.

“Die Suid-Afrikaanse regering is in ’n ernstige finansiële krisis en kan nie bekostig om so ’n buitensporige bedrag geld irrasioneel te skenk nie,” het Charné Mostert, veldtogbeampte by AfriForum, gesê. “Die onsekerheid oor die werklike bedrag van die skenking wys ook hoe belangrik dit is om hierdie belaglike skenking stop te sit.

“’n Land met ’n sukkelende ekonomie en ’n regering wie se geld op die punt is om op te raak, kan nie sommer net miljoene rande aan sy vriende uitdeel nie. Dit is verregaande om só ’n reusebedrag geld onder die huidige sosio-ekonomiese toestande aan ’n ander land te skenk.”

AfriForum het ook verlede week ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) by die departement ingedien, waarin omvattende rekords van alle skenkings wat die Suid-Afrikaanse regering oor die afgelope 20 jaar aan Kuba gedoen het, aangevra word.

Die aansoek is ingedien nadat dit aan die lig gekom het dat R120 miljoen deur die departement van verdediging vermors is nadat Suid-Afrikaanse studente teen groot koste vir mediese opleiding na Kuba gestuur is.

“AfriForum staan onwrikbaar teen die verregaande verkwisting van uitgawes deur die regering. As min. Naledi Pandor so desperaat is om Kuba te help, kan sy dit uit haar eie sak doen,” het Mostert gesê.

Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het in Mei verlede jaar gesê Suid-Afrika kan nie sy oë sluit vir die lot van Kuba terwyl hul ekonomie deur “onwettige blokkades en sanksies” gewurg word nie.

Pandor het tydens haar departement se begrotingsrede gesê Suid-Afrika is ook bereid en daartoe verbind om “in solidariteit met ons broers en susters in Kuba op te tree”.

“Die Kubaanse ekonomie is op sy knieë gedwing ná 61 jaar van drakoniese Amerikaanse ekonomiese sanksies wat op daardie verarmde eilandnasie ingestel is. Dít is ’n nasie wat skouer aan skouer saam met ons vegters gestaan het in die stryd om vryheid en ons moet help as ons kan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

007 ·

Skosazana Zuma en Pandor sal ‘n ander manier vind om die geld by hulle Comrades te kry. Die hof sê hulle niks. Al moet hulle weer ongegeurde medisyne koop.

Jean ·

Die regering sal dit op ‘n ander manier vir hulle gee. dokters vir een week kry en 5 miljoen elk betaal.

Yvonne ·

Dankie AfriForum……die regering het geen waarde besef nie….dis hoekom die land in so n gemors is

Leona ·

Ek weet, ek weet! Ons sit met miljoene mense sonder werk! En Kos en Verblyf! Skenk die fondse aan almal wat sukkel om te oorleef in Suid Afrika!

Pierre ·

Die R50 Miljoen is al lankal in ander forme aan Kuba gestuur net die ander dag was soldate gestuur vir mediese opleiding wat miljoene duurder was as plaaslike opleiding.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ongelukkig is die plaaslike mediese skole oorvol.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Grootse dank aan Afriforum. Suid-Afrikaanse burgers wat werklik en ernstig Suid-Afrika en geregtigheid eerste stel moet opstaan, handevat en ongeregtigheid beveg.

Casper ·

Ek is bly Pandor sê self ons moet help waar ons kan,hoe arrogant,ons kan nie help nie.

Kirst ·

As jy al ooit gewonder het of jy by Afriforum moet aansluit ken jy nou die antwoord. Doen so voort Afriforum. Elke klein veldslag wat gewen word dra by daartoe om die oorlog te wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.