Regering wéér beveel om te help met Botswana-ondersoek

Adv. Phyllis Vorster, Wico Swanepoel, adv. Gerrie Nel en Andrew Leask van AfriForum se private vervolgingseenheid in die hooggeregshof. (Foto: Verskaf)

Die Pretoriase hooggeregshof het vandeesweek teen die Suid-Afrikaanse regering bevind en koste ten gunste van die direkteur van openbare vervolging (DOV) in Botswana toegeken.

Die saak hou verband met ’n bevel wat die regering verplig het om met hul eweknieë in Botswana saam te werk in ’n ondersoek wat hooggeplaaste Suid-Afrikaanse politieke figure by beweerde misdrywe in Botswana betrek.

Regter Joseph Raulinga het nou bevind dat die regering vir tyd speel in plaas daarvan om saam te werk.

Maroela Media het paar jaar gelede reeds berig die departement van openbare vervolging in Botswana ondersoek bewerings van bedrog en geldwassery teen Ian Khama, voormalige president van Botswana, en Bridgette Motsepe-Radebe, die skoonsuster van pres. Cyril Ramaphosa en vrou van Jeff Radebe. Die bewerings hou verband met bankrekeninge by die Bank van Botswana.

Botswana se DOV het in September 2019 ’n aansoek om wedersydse regshulp by Suid-Afrika ingedien het.

Maar toe verskeie Suid-Afrikaanse staatsdepartemente hulle doof hou, het Botswana se DOV AfriForum se privaatvervolgingseenheid om hulp genader en dié het ʼn mandamus-aansoek namens die Botswana-regering teen Ronald Lamola, die minister van justisie, ingedien om sy departement te dwing om wedersydse regshulp in dié saak te fasiliteer.

Die eenheid sê nou Raulinga het geen ander keuse gehad as om die aansoek om dié mandamus-bevel om te keer, van die hand te wys nie. “Na oorweging van die bogenoemde faktore en na die aanhoor van die aangeleentheid, het die hof die partye die geleentheid gebied om buite die hof te skik. Die applikante het egter steeds geaarsel en nie daarin geslaag om ’n oplossing te kry om die saak af te handel nie. Hulle het versuim om met die respondent saam te werk.”

Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê voorts die uitspraak is ’n verleentheid vir die kantore van Ronald Lamola, minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, adv. Doctor Mashabane, direkteur-generaal van justisie, Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging, en Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking.

Dié hoës is almal applikante in die aansoek om die mandamus-bevel om te keer.

“Ons hoop die regering sal ophou litigeer teen sy SAOG-vennote en gehoor gee aan die hofbevel om saam te werk en Botswana se DOV by te staan.”

Bateman sê die enigste afleiding wat gemaak kan word uit die vertragings, soos deur die howe geïdentifiseer, is dat die departement van justisie, die departement van internasionale betrekkinge en die Nasionale Vervolgingsgesag “uit hul pad gaan om sekere verdagtes teen ondersoek en vervolging in ons buurland te beskerm”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

domheks ·

Mooi so! AfriForum vat die kaders vas. Hulle dink hulle is bo die wet verhewe!

Manie ·

Die ondersoek sal ‘n muis baar. Miljoene rande is aan Zuma, staatskaping, Phala Phala en etlike meer bestee en het niks van gekom nie, want alles word in die parlement doodgedruk. Ramaphosa self het nou die dag gereken dat die wonderlike ding van demokrasie is, dat die meerderheid se stem tel. So in ‘n neutedop, daar sal geen ondersoek teen enige korrupte kader verby die parlement kom nie.

Jaco ·

Dis seker baie edel van Afriforum om by dié saak betrokke te wees, maar 1 ding pla my wel:
Wat van sake van ons eie mense?Eendag wen Afriforum dalk dié saak en kry al die verering en “limelight”, maar dan is hulle geld ook op en dan is Afriforum magteloos om te help met sake waar regstellende aksie en BEE en ander vorms van diskriminasie en rassisme ons eie mense al hoe meer benadeel.
Vergeet nou eers die prestige en die “limelight” en konsentreer NET op dit wat ons eie mense regtig raak. Betrokkenheid by ‘n saak wat NIKS met Afriforum se eintlike belangegroep te doen het nie, help ons eie mense wat reeds so swaarkry absoluut niks. Lawyers for Human Rights sou dié saak net so goed soos Afriforum hanteer het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.