Regsaksie dreig oor Eskom-kwytskelding van finansieswet

(Argieffoto: Salam Habash/Unsplash)

Groot kommer heers oor ʼn besluit van die nasionale tesourie om Eskom, wat reeds jare lank in diep finansiële moeilikheid is, kwyt te skeld van sekere bepalings in die Wet op Openbare Finansiële Bestuur.

Die organisasie Sakeliga sê hy het reeds ʼn brief aan die minister van finansies gerig waarin hy ʼn verduideliking van Enoch Godongwana se besluit eis dat Eskom vir die volgende drie boekjare nie sy onreëlmatige en vrugtelose en verspilde uitgawes hoef te verklaar nie.

Herman Mashaba, president van Action SA, sê dié party het reeds sy regspan opdrag gegee om die wettigheid van die kwytskelding te ondersoek.

“Ons glo dit is ʼn duidelike misbruik van mag. Vir veels te lank is die koffers van staatsinstellings gebruik vir die selfverryking van die ANC en hul kornuite. ”

Godongwana het die aankondiging Vrydag in ʼn spesiale Staatskoerant gedoen. Dit gee aan Eskom kwytskelding van art. 55 (2) (b) (i) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur vir die boekjare 2022-’23, 2023-’24 en 2024-’25. Hierdie bepalings in die wetgewing vereis van staatsinstellings om in ʼn gegewe boekjaar enige wesenlike verliese weens misdadigheid, onregmatige besteding, asook nuttelose en verkwistende uitgawes aan te dui.

Die aankondiging in die Staatskoerant gee Eskom ook kwytskelding van ʼn soortgelyke vereiste van die tesourie.

Godongwana het luidens berigte egter bepaalde voorwaardes aan die kwytskelding gekoppel, wat insluit dat alle sodanige uitgawes steeds in Eskom se jaarverslag opgeteken moet word.

Skerp teenkanting

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê die organisasie dring in die skrywe ook aan dat die “sluierregulasie” onmiddellik teruggetrek word. Word dit nie gedoen nie, sal Sakeliga genoodsaak wees om die hof op ʼn dringende basis daaroor te nader.

“Daar is geen ooglopende rede waarom Eskom in geheel en in die normale gang van sake van hierdie standaardbepaling, wat die publiek in staat stel om sy finansiële situasie behoorlik te evalueer, vrygestel behoort te word nie,” sê Le Roux.

In die belang van openbare deursigtigheid is Sakeliga juis in ʼn hofsaak met die ouditeur-generaal gewikkel waarin Sakeliga aandring dat die ouditeur-generaal haar bestuursverslae, met gevorderde inligting oor verspilling, korrupsie en ander onreëlmatighede by alle staatsinstellings bekend maak.

“Die jongste stap deur die minister van finansies word in dieselfde gees deur Sakeliga teengestaan, omdat dit nie daartoe mag bydra dat inligting oor Eskom by wyse van ʼn ompad uit die hande van die OG en/of die publiek gehou word nie,” sê Le Roux.

Die premier van die Wes-Kaap het ook woedend gereageer en het gesê die besluit is raaiselagtig en kommerwekkend.

“Dit lyk asof korrupsie by Eskom geformaliseer word eerder as om dit te stuit,” sê Alan Winde.

Hy bevraagteken ook die motief vir die kwytskelding.

“Is hierdie ʼn poging om die mafias te beskerm wat die maatskappy gyselaar hou? Wat probeer hulle wegsteek? Dit is ʼn reuseslag vir deursigtigheid wat allerbelangrik in ons land is, veral by staatsbeheerde instellings waarvan talle in ʼn benarde situasie is.

“Die kragvoorsiener mag nie toegelaat word om aanspreeklikheid te ontduik nie,” sê Winde.

Die EFF het ook te velde getrek teen die besluit en dit as “irrasioneel, roekeloos en laakbaar” bestempel.

Die party sê enorme korrupsie teister Eskom lank reeds en volgens die voormalige Eskom-hoof André de Ruyter word senior ANC-lede en georganiseerde misdaadkartelle hierby betrek.

“Die besluit … is irrasioneel en onverantwoordelik omdat dit die vlakke van korrupsie wat Eskom definieer, verder gaan verdiep en vererger,” sê Sinawo Thambo, nasionale woordvoerder van die EFF.

“Die nasionale tesourie se onaanspreeklikheid en die bedryf daarvan as ʼn superministerie wat aan niemand verantwoording doen nie, moet beëindig word. Die EFF gaan verseker dat hierdie kultuur van straffeloosheid vervang word met ʼn stelsel wat die beginsels van deursigtigheid en goeie bestuur handhaaf.”

Die versoek om kwytskelding is gerig deur Mpho Makwana, Eskom se raadsvoorsitter.

Dr. Dion George, die DA se woordvoerder oor finansies, sê Makwana moet die versoek verduidelik – en ook hoekom dit vir drie jaar moet geld.

“Daar is duidelik aansienlike finansiële ongerymdhede wat Eskom vir sy beleggers, en die Suid-Afrikaanse belastingbetalers wat hom finansier, wil wegsteek. Die tesourie en die minister moet die kwytskelding dadelik terugtrek,” sê George.

Hy sê dit is onaanvaarbaar dat Eskom sekere finansiële inligting wil wegsteek in die hoop dat hy beter oudituitkomste sal kry.

“Die besluit om Eskom kwytskelding te gee is gelykstaande aan ʼn erkenning dat korrupsie in die instelling as ʼn gegewe beskou moet word en dat oplossings vir voortgesette beurtkrag gaan kom teen ʼn misdaadgedrewe premie.”

Sonder die vereiste om die onregmatige en nuttelose uitgawes te verklaar gaan Eskom ook geen aansporing hê om korrupsie te bestry nie.

George sê die kwytskelding gee misdaadsindikate binne Eskom vrye teuels en sê die vraag moet gevra word of aankope – soos R80 000 vir ʼn enkele kniebeskermer en R200 000 vir ʼn houtsteelmop – gedwee aanvaar moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Linda ·

Hier begin die waarheid uitkom oor hoekom hulle Eskom onder ramptoestand gesit het.

Pietertjie ·

En ook sommer hoe eskom die kragskip-debakel gaan omseil.

Amelia ·

Hier is n kurupsie slang in die gras Hoekom is minmister van elektrieseteit dan aangestel sodat daar net meer kurupsie en bedrog kan wees of is dit dat die belasting betaler nie sien hoeveel skuld bv seweto afgeskryf word nie magies wat dink die klomp is ons

Di ·

Dalk het die Tesourie Minister ook aandeel in die Eskom korrupsie sage, hoekom ANDERS sal hy dit doen??

Marcello ·

Soos Jan Oberholtzer gisteraand op die program “ONTHUL” op Knet gesê het: Daar loop nog niemand in oranje pakkies rond nie. So dit gaan nooit ophou nie voor die Kaders binne in Eskom uitgelig word wat saam met die ANC werk.

Althes ·

Ek stem saam met Sakeliga en ander partye.
Daar moet geen genade betoon word aan Eskom om enige sluier te trek oor bedrywighede nie.
Ons as burgers van Suid-Afrikaners is lank genoeg vir die gek gehou deur die regerende party.
Eskom se plunderdae is verby.

Nie Verbaas ·

Met die nuwe minister van elektrisiteit se reputasie is dit die verkeerdste besluit. Met ANC in geheel se reputasie, nog erger.

WILLEM ·

Ons noem dit sommer om die boeke tekook!! Om finansiële inligting geheim te hou beteken net een ding – onverantwoordelike optrede. Wie moet dan verantwoord op ‘n eerlike wyse. Ons belasting betalers kan niks weg streek nie, ons moet maar hoes!!

Johanncb ·

Hierdie sogenaamde “wet” maak geen sin nie! Dit gooi Eskom oop vir nóg groter bedrog as óóit in die verlede! Beurtkrag bly dan permanent ons voorland!

Susan ·

Goeie genugtig!!! Wanneer gaan die korupsie einde kry?? Dis onaanvaarbaar. Dan het hulle de Ruyter die sondebok gemaak deur voor te gee hy kannie die werk doen nie. Nou is dit nog n groter gemors.

Nici ·

Daar is ‘n goeie rede hoekom Eskom nie ondersoek kan doen nie. Niemand gaan homself ondersoek vir korrupsie nie. Hul sit tog aan die binnekant.

Casper ·

‘N Verstommende belaglike manier om korrupsie by eskom weg te steek en die wat betrokke is te beskerm.Die nuwe minister van elektrisiteit is onder verdenking na sy uitlatings dat geen korrupsie by eskom plaasvind nie.Hy het geen ondervinding van kragsentrales en die tegniese aspekte rakende die opwekking van krag nie,en hy laat hom mislei deur kragstasiebestuurders.Die aanvanklike aanstelling sou iemand gewees het met kennis waarvan dadels van gekom het

Amanda ·

Lyk my almal kyk die feit mis dat presies dieselfde regulasie ook vir Transnet gepubliseer is.

annie ·

So wil hul De Ruyter se onthullings as twak probeer afmaak. Die Es-kom se boden is deurgevrot. Die ANC is een groot mafia sonder enige skaamte.

Kokerboom ·

Dit is waaragtig die laaste strooi wat nou kameel se rug breek! Die endemiese korrupsie karakter van ANC word nou blatant en arrogant ten toon gestel! Skaam julle President, Minister van Finansies en twyfelagtige onnodige sogenaamde Min van Elektrisiteit!!!

anko ·

Wat nou nog. Genade. Die sirkus tent wat korrupsie en misdaad huisves word al groter en betalers moet moet net almeer en meer betaal. Hoop geregtigheid geskied

Catherina ·

What did André du Ruyter say…..a feeding trough for the ANC? Enough said

Impact ·

O my hel, dit is mos nou ‘n resep vir disaster. Wat de heng het ou Enoch gedink? O ja, hulle probeer mos om Eskom te privatiseer en nou sal hulle mos alles doen wat hulle nie veronderstel is om nie te doen nie. Privatisering beteken mos baie duurder krag wat hulle van ons kan verhaal en dan hoef hulle aan niks en niemand verantwoording te doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.