Regshulppakket vir klein ondernemings beskikbaar gemaak

Argieffoto (Foto: StartupStockPhotos/Pixabay)

Die sakegroep, Sakeliga, het Woensdag ʼn regshulppakket vir informele, klein en mediumgrootte ondernemings aangekondig, vir die voortsetting van “noodsaaklike sakebedrywighede”. Die hulppakket halveer die koste van regsmenings oor noodsaaklike dienste en voorsien sakelui van ʼn sertifikaat wat al die nodige inligting kan bevat om oop te bly.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê hulle het reeds senior advokate se advies oor die regulatoriese raamwerk ingewin: “Nou het ons ʼn voorlopige R100 000 ekstra beskikbaar gemaak, waarmee ons 50% van die koste sal dra om gespesialiseerde regsmenings by KMMO’s individueel uit te kry.”

Die geld vorm deel van R500 000 se Covid-19-hulp wat Sakeliga Dinsdag aangekondig het.

Ondernemings wat die sertifikaat en regshulp wil bekom kan Sakeliga se Covid-19-webblad besoek.

Ondernemings wat tans besigheid doen kan hulself ook gaan lys op Sakeliga se platform vir noodsaaklike dienste.

Duidelikheid dringend nodig

“Ondernemings moet weet watter van hul aktiwiteite as noodsaaklik kwalifiseer,” voeg Le Roux by. “En wetstoepassers moet bygestaan word om dit korrek te interpreteer. Met hierdie sertifikate en regsmenings wil Sakeliga die verwarring van die onduidelike en dikwels teenstrydige regulasies omkeer, sodat besigheid kan voortgaan.

“Ons moedig veral informele, klein en mediumgrootte ondernemings aan om van die diens gebruik te maak. Met laer regskoste kan klein besighede makliker hul deure oop hou. Duisende ondernemings word tans belemmer om noodsaaklike onderhoud, goedere en dienste te verrig.”

Sakeliga wys daarop dat baie ondernemings – byvoorbeeld sogenaamde informele besighede, eenmansake, trusts en vennootskappe – tans geen eenvoudige wyse het waarop hulle dokumentasie in orde kan kry om sogenaamde noodsaaklike aktiwiteite te verrig nie.

“Die CIPC-sertifiseringsproses, wat volgens ons regsadviseurs in elk geval ultra vires is, is slegs beskikbaar vir enkele regsvorme, soos maatskappye. Meeste ondernemings is en was nog nooit by die CIPC geregistreer nie. Sakeliga wil met hierdie sertifikaat en regshulp ondernemings en wetstoepassers bystaan om, binne die regulasies, die lewering van noodsaaklike onderhoud, goedere en dienste so maklik as moontlik te maak,” sê Le Roux.

Oorval met navrae

Sakeliga is die afgelope twee weke oorval met navrae deur ondernemings wat wou weet of hul aktiwiteite as noodsaaklik kwalifiseer. Baie ondernemings is verbied om met hul sake voort te gaan, selfs al kwalifiseer hulle as noodsaaklik.

Sakeliga het reeds verskeie skrywes oor die skadelikheid en onnodigheid van die sertifiseringsproses vir besighede aan die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, die minister van handel, nywerheid en mededinging, die minister van polisie en ander geskryf.

“Tog word die nodige regstellings en duidelikheid hieroor nie verskaf nie. Trouens, die jongste uitbreidings aan die regulasies maak dit prosesgewys vir baie ondernemings – insluitende informele handelaars – ʼn administratiewe nagmerrie om ‘noodsaaklike’ goedere en dienste te verrig. Ons regshulppakket is een van die stappe wat ons doen om hierdie toedrag van sake om te keer.”

Besoek www.sakeliga.co.za/covid19  om die sertifikaat en regshulp te bekom.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sean ·

Dink net wat kon sakeliga gedoen het met mnr Rupert se geld Baie dankie julle help ons baie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.