Regstappe teen departement as skoolvakansie geskrap word

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys (24 Julie 2021) (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Solidariteit ondersoek die moontlikheid van regstappe teen die departement van basiese onderwys oor die voorstel dat die Oktober-skoolvakansie vir 2021 geskrap moet word.

Die departement het Woensdag gesê hy sal binnekort aankondig of die Oktober-skoolvakansie wél vanjaar voortgaan. “Ons besef dat die kwessie tans die openbare debat oorheers. Ons wil nie hê mense moet deurmekaar wees nie en sal daarom binnekort ʼn aankondiging maak sodra die besprekings met die betrokke partye afgehandel is,” het Terence Kahala, woordvoerder van die departement, gesê.

Daar word oorweeg om moontlik die Oktober-skoolvakansie af te skaf in ʼn poging om die vyf skooldae in te haal wat tydens die vroeër sluiting vir die wintervakansie verlore gegaan het.

In ʼn brief aan die minister van basiese onderwys, Angie Motsheka, het Solidariteit sy teenkanting teen dié wysiging van die skoolkalender uitgespreek. Volgens hom is die optrede van die departement irrasioneel en die inwerkingstelling van sodanige wysiging onbillik en teenstrydig met die nasionale beleid ten opsigte van die opstel van skoolkalenders.

“Dit is die plig van die minister en die departement om met belanghebbendes te kommunikeer voordat enige besluite geneem word. Die departement vee tans spore van eensydige optrede dood deur kwansuis te beraadslaag nadat hulle reeds hul voornemens duidelik gemaak het,” het Johan Botha, adjunkhoofsekretaris van die professionele sektor by Solidariteit, gesê.

“Hulle kies verder om slegs een regulasie in ag te neem terwyl hulle ʼn aantal ander ontken deur voort te snel met hul planne, en dít ten koste van die welstand van leerders en onderwysers.”

Solidariteit voer aan dat die departement sodoende die kalender van vier kwartale na drie termyne wysig, waarvan die laaste termyn dubbel die aantal weke bevat. Hy is oortuig dat die departement ook nie sy eie beleid waarin hy bepaal dat leerders en onderwysers genoegsame tyd gegun moet word om te rus, in ag neem nie.

(Argieffoto/Unsplash)

“Hierdie optrede van die departement kan as niks anders as uitbuiting beskryf word nie. Daar word van onderwysers verwag om 21 weke aaneen aan diens te wees met slegs ʼn kort onderbreking in die vorm van ʼn verlengde langnaweek as troosprys. Dit strook egter nie met die regulasies nie. Hierdie optrede sal die prestasie van onderwysers én leerders in die vierde kwartaal negatief beïnvloed,” voer Botha aan.

Volgens Botha sal die leerders en onderwysers daarby baat as die departement eerder die datum van indiening van finale punte aanpas sodat die laaste twee weke van die skoolkalender ten volle benut kan word deur skole wat die tyd benodig om agterstande in te haal.

“Ons meen dat dit veel wensliker sal wees om kontaktyd binne die huidige kalender tot die maksimum te benut. Ons onderwysers en hul leerders het die afgelope jaar hard gewerk om verskeie uitdagings van die Covid-19-pandemie te oorkom.

“Ons kan nie toelaat dat hulle van ʼn laaste behoorlike ruskans voor die eindeksamen ontneem word nie. Solidariteit ondersoek reeds moontlike regstappe en sal nie skroom om daarmee voort te gaan indien die departement nie gehoor gee aan ons versoek nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Anoniem ·

Stel ‘n opgeleide, bevoegde persoon as Minister van onderwys aan en die onderwys stelsel kan dalk gered word.

koos10 ·

Is hierdie nie net weer ‘n weerlig afleier van die ANC af nie? Laas week het Cyril niks gesê by die Zondo kommissie nie en Zuma is “siek”. Dis die perfekste ding om te doen. Maak almal kwaad oor iets en dan gaan die belangrike sake ongesiens verby.
Is die nie ook wat gebeur het met die wapens vir self verdediging nie?

JM ·

Tipiese eiegeregtige gedrag van die ANC: maak nes hulle wil en die res moet teen wil en dank daarby inval.

Belinda ·

Ek support die besluit sou hul die skool vakansie skrap siende baaaie skole nog net deeltyds klas gee. My seun, gr9 gaan net 3 keer n week skool toe. Die kinders het genoeg vakansies al gehad en ek voel om so kort vakansie te skrap om skoolwerk in te haal is goed.

Chantel ·

REGTIG, ander kinders is heeltyd op die skoolbanke so ook onderwysers.

Hoekom ·

Jy gaan nie die verlore werk kan inhaal in die 5 dae wat die vakansie behels nie.

Jack Russ1 ·

Nee, jy gaan nie al die verlore werk kan inhaal nie, maar jy kan ‘n gedeelte inhaal

Hoekom ·

@Jack. ‘n Gedeelte help niemand niks nie. Inteendeel gaan jy dan sit met oormoeg kinders en onderwysers in die 4de kwartaal, ‘n belangrike kwartaal, hoekom? Lui ouerskap, wat hulle verantwoordelikheid al te graag aan die skool wil oorlaat…

Linx ·

Ds weereens n persoonlike besluit wat verskil van ouer tot ouer want niemand is perfek hier om ander se persoonlike opinie te judge nie hiers te veel judge& juries,j is gelukkig Belinda my dogter is ook graad 9&gaan 1 Keer n week skooltoe,ek werk slegte skofte en moet maar help waar ek kan,so as die department voel dit is n goeie besluit by all means go ahead,ek glo niemand wil hulle kinders op een of ander manier benadeel nie

MyOpinie123 ·

Die kinders is moeg. ‘n Breek voor die November eksamen is goed. Skole wat nie voltyds skoolgaan nie, kan self besluit om daardie tyd te gebruik om werk in te haal.

Janine ·

Twak. Die kinders het die laaste jaar plus gedurig vakansie gehou.

Alex ·

Baie mense het n wegbreek bespreek vooruit. Nou wat van dit as daai vakansie geskrap word. Baie mense het al reeds baie vakansie geld verloor agv inperking oor die wintervakansie…

Leon ·

Maar hulle wil ‘n VYF weke rekordeksamen hê? Dis absurd. MM julle kan gerus dié saak opvolg. Mpumalanga.

Hoekom ·

Jy gaan niks kan inhaal in die 5 dae wat die vakansie behels nie veral nie as die skool op ‘n 6 dag rooster werk nie.

Instede daar van om die ouers, onderwysers en kinders te straf moes die departement al lankal die kurrikulum aangepas het. Hulle het al meer as ‘n jaar gehad om dit te doen. Veral SA se gedrukte Kurrikulum met al sy oorbodige en onnodige informasie…

koos10 ·

Verleng die skooldag met 1 uur. Siedaar. Een skooldag per week by. Binne 5 weke her jy dieselfde tyd in gehaal as wat jy sou doen om ‘n 5 dae vakansie te kanseleer.

Werner ·

Vat hulle verlof WEG nee wag hulle is permanent op verlof viva anc

Andries ·

Die 5 dae vakansie gaan geen verskil maak t.o.v. agterstallige werk nie. Onderwysers wat vooruit beplan het en hulle werk doen is op datum en moeg. Hulle het ook die rus nodig.

Janine ·

Moeg van wat? Werk wat hul via teams stuur wat al jare beskikbaar is? Asseblief!

Catherina ·

Leerders moet rus voor die volgende kwartaal. Baie ongevraagde druk op hulle. Ek is n onderwyseres

Janine ·

Miskien moet julle die kinders ook vra? Meeste wat ek ken is keelvol vir die huidige skooldae. Ek glo ouers ook. Skooltye word sommer so deur die dag verander, en ouers moet maar plan maak met vervoer.

maakniesaaknie ·

Regtigwaar regstappe, kan hulle nie hulle geld op iets anders gaan mors nie. Dis reg skrap die vakansie die kinders gaan min genoeg soos dit is anyway.

PoppieK ·

My kinders het nie eens skoolvakansie gehad nie, en nee hulle is nie in ‘n privaat skool nie. Hulle het die hele vakansie skool gehad en werk gedoen op Google Classroom, en hulle het eksamen aan lyn geskryf. ASB hulle het die vakansie nodig… rerig!!!!

Driaan ·

Ek vind dit uiters teleurstellend dat Solidariteit van alle organisasies hierdie tipe van reaksie toon. Enige iets om die nuus te maak.

Kinders se onderwys tyd is die laaste 18 maande alreeds tot die been gesny en hulle moet op hulle eie opsnork en by die huise leer.

Wanneer die Matriekuistale in Januarie bekendgestel word sal hulle dan ook ‘n eier te lê hê omdat die Departement nie genoeg gedoen het om te verseker dat die leerders meer geleenthede gegun is om te leer nie.

My kinders het die geleentheid om na skool vir eksta klasse te gaan maar die onderwysers kan nie voorbly nie. Wat stel Solidatiteit voor? Gaan ons net terugsit en kyk hoe die agterstand op ons kinders se opvoeding groter en groter word?

Waarom beywer die organisasie hulle nie eerder om die kinders se reg op basiese onderwys te verdedig nie, om plan te maak dat al die tyd en werk wat alreeds verlore is ingehaal word.

Oor ‘n paar jaar is die gebrek in die werksmark nog groter en dan wil hulle ook vinger wys.

thejudge ·

Enige skool wat sy sout werd is het lankal reeds ingehaal. Ons kinders doen skoolwerk gedurende vakansies. Hulle drentel nie in die “malls” rond nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.