Regterpresident verleë oor kollega se gedrag

Die lede van die tribunaal bestaan uit regters Dennis Davis en Chris Jafta en adv. Nasreen Rajah-Budlender. (Foto: SA Judiciary)

Deur Tania Broughton, GroundUp

Die “growwe nalatigheid” van Tshifhiwa Maumela, die Pretoriase hooggeregshofregter, het Dunstan Mlambo, Gautengse regterpresident, in die verleentheid gebring omdat Maumela se optrede tot algemene wantroue in die regstelsel gelei het, het Mlambo vandeesweek getuig.

In sy getuienis voor ʼn tribunaal van die regterlike dienskommissie (RDK) wat klagtes van growwe onbevoegdheid en wangedrag teen Maumela ondersoek oor sy lewering van laat uitsprake, het Mlambo herhaaldelik gesê dat hy “verleë” was oor wat onder sy bestuur gebeur.

Hy sê Maumela het oor die algemeen sy boodskappe en foonoproepe geïgnoreer en benewens een keer wat hy aangevoer het dat sy rekenaar in duie gestort het, het hy nooit enige verduideliking gegee oor hoekom hy nie betyds uitsprake lewer nie.

“Ek wil nie hier sit as ʼn klaer nie, maar ek glo regters moet die werk doen waarvoor hulle ʼn eed afgelê het en wat hulle gesê het hulle gaan doen,” het Mlambo gesê.

Maumela word daarvan beskuldig dat hy nie die standaard handhaaf om uitsprake binne drie tot ses maande (afhangend van die omstandighede) te lewer nie. Dit hou verband met 52 sake sedert 2013.

In twee sake wat tydens Mlambo se getuienis bespreek is, het die uitspraak vyf jaar geduur. In een van dié sake, wat verband gehou het met ʼn eis oor mediese nalatigheid, is die eiser dood voordat uitspraak gelewer kon word. In ʼn ander saak, wat glad nie as ingewikkeld beskou is nie, het Maumela uiteindelik ʼn uitspraak van nege bladsye lank gelewer.

Getuienisleier Andrian Mopp het Mlambo gevra of hy litigante gewoonlik aanraai om direk by die RDK te gaan kla, en hierop het hy geantwoord dat dit wel die geval is.

“Dit was nooit my bedoeling om die klaer teen ʼn regter te wees nie. Ons is kollegas. Maar prokureurs wil nie kla nie. Hulle sê hulle is nie bereid om dit te doen nie omdat hulle in die afdeling werk en nie geviktimiseer wil word nie.

“Toe die uitsprake [wat voorbehou is] begin ophoop, het ek besluit om dapper te wees en self die klagte in te dien.”

Mlambo sê Maumela sou onderneem om uitsprake teen sekere datums te lewer en dit dan eenvoudig nie doen nie – selfs al het die litigante regsverteenwoordigers aangewys om op daardie dag te verskyn.

Daar was ook gevalle waar hy deels aangehoorde strafsake laat verdaag het. Die partye sou dan by die hof aankom – in een geval het ʼn advokaat die hele ent van Kaapstad na Pretoria gereis – terwyl Maumela nie eens opgedaag het nie.

As ʼn senior regter het Maumela ʼn ligte werklas in verhouding met ander regters gehad en het hy hoofsaaklik strafsake hanteer.

Mlambo sê die eerste keer wat die kwessie van “swak gesondheid” geopper is, is toe Maumela vir spesiale siekverlof gevra het. In hierdie stadium het hy die verhoor van die vermoorde sokkerkaptein Senzo Meyiwa aangehoor. Dit is daarna verdaag.

Drink tee

Mlambo sê Maumela was nooit veronderstel om die saak aan te hoor nie. Adjunk-regterpresident Aubrey Ledwaba het opdrag gegee dat hy slegs die voorverhoorsaakbestuur moes hanteer.

“Ek en regter Ledwaba het ooreengekom dat hy nie die verhoor moes hanteer nie en terugvoer moes gee sodra die voorverhoor afgehandel was. Dit het nooit gebeur nie. Hy het besluit om direk met die verhoor te begin en getuienis aan te hoor. Teen daardie tyd was die koeël deur die kerk.

“Selfs die hoofregter het my gebel. Daar was ʼn bewering dat hy [Maumela] tydens die verrigtinge tee gedrink het. Ek het hom daaroor gebel en hy het gesê hy het ʼn toestand wat beteken hy moet ʼn warm drankie drink.

“Maar hy was nooit veronderstel om die saak aan te hoor nie. Hy het aan my gewys, as die hoof van sy hof, dat hy geneig is tot onbevoegdheid. En hy het nie aan die direktief voldoen nie.”

Mlambo sê na sy mening is Maumela skuldig aan growwe wangedrag en growwe onbevoegdheid.

“Hy is in die toptien senior regters in die afdeling. Ek weet steeds nie hoekom hy hierdie uitsprake so lank voorbehou het nie. Die gesondheidsrede is in 2023 voorgehou. Dit is nooit voorheen geopper nie.

“Wanneer litigante wag vir uitsprake, beteken dit die regstelsel werk nie. Die skryf van uitsprake is die rede vir ons bestaan as regters. Hy het misluk en dit het oneer vir die regbank veroorsaak.

“Ek geniet dit nie om hier te sit wanneer ʼn regter nie sy kant bring nie. As regterpresident moet ek stappe doen om dit reg te stel.”

Die tribunaal het beslis dat Maumela se getuienis agter geslote deure aangehoor sal word.

Tydens sy kruisverhoor het adv. Ghandi Badela, namens Maulema, dit aan die tribunaal gestel dat sy kliënt nie die saakbestuur sou hanteer nie, dat die verhoor aan hom toegewys is, dat die partye by sy kamers opgedaag het en gesê het die saak is gereed om voort te gaan.

Mlambo het hierop geantwoord: “Sê jy ek lieg?”

Badela sê Maumela sal getuig dat hy oorlaai was, dat hy lêers verloor het toe sy rekenaar ineengestort het, dat hy soms “botsende hofskedules” gehad het en dat hy in 2020 ʼn beroerte gehad het.

Mlambo sê hy het nie geweet van die beroerte nie, “omdat hy [Maumela] my nie gesê het nie. Hy was nie eens bewus dat Maumela nie by die werk was nie, sou dit die geval wees”.

Hy sê Gautengse regters is oorlaai. Dit is hoekom kandidate, selfs voordat hulle die kortlys as regters haal, vir twee volle termyne as regter moet waarneem “sodat hulle verstaan” wat voorlê.

Die tribunaal bestaan uit regters Chris Jafta en Dennis Davis, asook adv. Nasreen Rajah-Budlender. Die saak duur tot die einde van die week.

Indien hy skuldig bevind word, kan Maumela in ʼn staat van beskuldiging geplaas word.

  • Hierdie berig is oorspronklik deur GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Frank ·

So tipies van onse kaders, wil die pay he en baas wees maar nie die werk doen nie

ES ·

Daar moet baie strenger opgetree word teen regters wat hulself skuldig maak aan sulke wangedrag – daar is al klaar amper niks vertroue in ons regstelsel nie. Dis hoogtyd dat daar ernstige gevolge is vir sulke wangedrag!

Frank ·

Ek oordeel nooit mense volgens hulle uiterlike nie.
Maar nou Google ek die man, en ek wonder by myself: WAAR het hierdie man sy graad gekry… Hooggeregshof regter?????

Misky ·

Ek stem Frank en moes ook vinnig gaan loer. My woorde het skielik opgedroog…….

Lourens ·

” ‘n Toestand wat bepaal hy moet ‘n warm drankie drink”
Sowat van snert praat het ek lanklaas gehoor.
En dan die stokou leuen van die rekenaar wat kamtig nie werk nie . . .
Die vent lieg erger as die mens wat voor hom staan.

Jakes ·

Die belangrikheid om die ANC in die verkiesing te verslaan is absoluut noodsaaklik. Hopelik sal die nuwe regering dan die hele dept van Justisie ondersoek en veral die bevoegdheid van sekere regters en landroste onder die loep neem.

skurweberg ·

Dit het ons nou deur met die vyand te heul. Trek die skoen aan as hy vir jou bedoel is.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die juts het vanoggend siek geword en is hospitaal toe. Misky, ‘n LLB van Unisa is nie te sleg nie. Bygesê, ‘n LLB is seker ook nie meer wat dit was nie.

Onnie ·

Die vraag is eintlik: Hoe het hy in die 1ste plek ‘n senior regter geword?? Lyk my dit is maar oral in SA dieselfde storie…. Onbevoegdheid, van ons president af anderkant uit – wat ‘n skande.

Henk ·

As mens nie jou werk kan doen nie, is dit baie moeilik om pligsgetrou te wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.