‘Reis, hengel en braai’ nou op RPO-man se sakelys

Gerhard Schutte is al die afgelope 35 jaar aan stuur van sake by die Rooivleisprodusenteorganisasie. (Foto: RPO)

Gerhard Schutte (64), wat die afgelope 35 jaar aan die stuur van die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) gestaan het, gaan nou sy kantoor en rekenaar inruil vir ’n 4×4, ʼn tent en ʼn visstok.

Schutte tree in Januarie as hoof van die RPO uit en gaan dan saam met sy vrou, Salomé, ʼn bekende skrywer en landboujoernalis, die oop pad vat en Suider-Afrika behoorlik verken.

“Ons is ou kampeerders. Ons het nou geupgrade en ’n 4×4 met ’n sleepwaentjie gekry. Ons gaan nou ernstige kampeerders raak,” vertel Schutte grappenderwys aan Maroela Media.

Vir Schutte was sy rol as hoof van die RPO ʼn passie, eerder as ʼn blote werk.

“Vyf-en-dertig jaar is ’n lang tyd. En mense trek dalk wenkbroue op dat ek té lank in die stoel gesit het, maar ek het my werk verskriklik geniet. Elke dag op kantoor was anders, met sy eie uitdagings. My liefde vir die bedryf en my werk het egter dié uitdagings oorskadu.”

Die bedryf het oor die jare verander en talle nuwe uitdagings op die voorgrond gestoot. Dit sluit in die deregulering van die sektor, 40% transformasie wat bereik is en dieresiektes wat ’n groot kopseer bly. Die bedryf het oor die jare heen ook internasionaal al hoe meer mededingend geword.

Hoewel Schutte nou aftreeouderdom bereik het, sê hy dit was ieder geval tyd vir hom om opsy te staan en ruimte te skep vir vernuwing binne die organisasie.

“Dit bring berusting om te weet ek vertrek op ’n tydstip waar die RPO op ’n goeie plek is, met ’n gestruktureerde visie (Visie 2030) in plek vir die toekoms. Die rooivleisbedryf sal nou baat vind by ’n jong, nuwe leier met dinamika en energie wat sal werk maak van die visie.

“Ek glo in die jeug van Suid-Afrika en ek glo daarin om plek te maak vir hulle. Ons het die jeug nodig om te help bou aan die toekoms.”

Vrye tyd

Van links: Gerhard se vrou, Salomé, en hul drie dogters, Lana, Klarine en Somien (Foto: Verskaf)

Volgens Schutte was die afgelope 35 jaar ’n wonderlike reis – maar ook een wat hom dikwels weg van die huis geneem het. En daarom wil hy nou “tyd terug belê” in homself en sy familie.

“Ek sien uit om nou meer tyd vir myself te hê en tyd aan my stokperdjies te spandeer. Daarom gaan ek en my vrou nou reis. Ek sal steeds hier en daar by die RPO betrokke wees, maar op kleiner skaal.”

Daar gaan ook baie, baie meer tyd wees om te braai, sê Schutte. En dit is iets wat hy reeds drie keer per week doen. Hy hengel ook graag en speel tennis. Schutte beskryf homself as ’n entoesiastiese jagter en met die hulp van sy broer maak hulle graag biltong en droëwors.

Die gesin is ook lief vir die Krugerwildtuin en Schutte beoog om nou meer gereeld ʼn draai daar te gaan maak.

Die Schutte-gesin woon al die afgelope 25 jaar in dieselfde huis in Rietondale in Pretoria en hulle beoog nie om enigsins gou hul wortels hier op te trek nie.

“Ons gemeenskap en kerk is vir ons belangrik.”

Geesdriftig oor natuurbewaring

Schutte het in 1989 by die RPO aangesluit, pas nadat hy sy meestergraad in Veekunde aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf het. Hy het vantevore ook by die Landbounavorsingsraad gewerk.

Hy was vir 15 jaar assistentbestuurder by die RPO voordat hy die rol as hoof oorgeneem het en dié posisie het hy die afgelope 20 jaar beklee.

Weens sy geesdrif vir natuurwetenskappe het hy destyds op BSc Veekunde besluit, vertel Schutte.

“Ek het gaan studeer waarvan ek hou en toe nie geweet waar ek sou eindig nie.”

Vandag volg twee van Schutte se drie volwasse dogters in sy voetspore.

Die tweede oudste dogter is besig met haar meestersgraad in omgewingswetenskappe en die jongste is ’n finalejaarstudent in landbou-ekonomie. Albei studeer aan Tuks.

Die Schutte-gesin (Foto: Verskaf)

Die egpaar se oudste dogter werk in ’n IT-rigting by Anglo American.

“Die jongste dogter het tydens die Covid-19-pandemie betrokke geraak as ereveldwagter by die Krugerwildtuin en het 80% van haar eerste drie jaar se studies uit die wildtuin gedoen.”

Schutte en sy dogters is baie “groen” en hy sê hulle jag daarom nie vir trofee nie, maar vir verbruik. En as hy hengel, neem hy ook net een vis huis toe vir die pot.

“Die middelste dogter is regtig ’n greenie en ’n aktivis in natuurbewaring.”

Nuwe hoof

Die RPO is tans besig om ʼn nuwe hoof aan te stel en Schutte glo dat net die beste kandidaat die leisels gaan oorneem.

“Die nuwe persoon gaan nie skadebeheer hoef te doen nie en net met nuwe inisiatiewe vorendag moet kom.”

Schutte sê sy plaasvervanger moet ook goed in ’n span kan saamwerk omdat die hoof van die RPO op menseverhoudings moet staatmaak.

“Ons is ’n diensorganisasie, waar ons met boere werk – mense wat hul eie tyd en kundigheid sonder vergoeding gee. Dit was wonderlik om met sulke mense te werk wat later jou vriende word.”

Die nuwe leier se grootste uitdaging sal wees om met die staat as kliënt te onderhandel, sê Schutte.

“Die nuwe hoof se sukses sal lê in hoe goed hy of sy hande met die owerhede kan vat om bilaterale ooreenkomste te vestig.”

Hoop vir rooivleisbedryf

(Foto: Maroela Media)

Hoewel rooivleispryse nou deur die dak skiet, is Schutte hoopvol dat die toekoms vir die rooivleisbedryf rooskleurig gaan wees – ook met die 2030-visie.

Dié visie behels dat die bedryf se uitvoere van 5% tot 20% teen 2030 sal styg om die bedingingsmag in die waardeketting van rooivleisproduksie te versterk.

Ingevolge die plan is sekere funksies geïdentifiseer wat aan die bedryf gelewer moet word, onder meer diere- en openbare gesondheid, inklusiewe groei, marktoegang sowel as   mededingendheid en volhoubaarheid.

Volgens Schutte kan die hoë vleispryse nie aan probleme binne die bedryf toegeskryf word nie, maar eerder aan die “pap ekonomie” wat ’n direkte weerspieëling is van hoe rooivleispryse presteer.

Maar niks stuit Suid-Afrikaners oënskynlik om rooivleis te eet nie.

“Volgens navorsing het Suid-Afrikaners ’n inherente aptyt vir rooivleis, ’n produk ryk aan voedingstowwe wat goed is vir die menslike immuunstelsel.

“Suid-Afrikaners sal soveel rooivleis eet as wat hulle kan bekostig. Ons hoop die ekonomie sal draai sodat rooivleisverbruik weer kan toeneem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Harry ·

What? Are you reporting about what some random guy is going to do when he retires? And yes, he is a random guy most South Africans don’t know who he is.

Treurwilger ·

Nou weet jy van nóg ‘n Afrikaner wat ‘n skitterende sukses van sy lewe gemaak het.
Alle Maroelalesers is trots op hom.

Harry ·

By doing a job he was paid to do? It’s not success it’s just a job.

Martie Smartie ·

Harry, your ignorance is not everyone’s ignorance. How do you know most SAans do not know about him? Gerhard Schutte helped to build up a respected red meat industry in SA. So, that is not random. But we would not expect you to know that, of course. I have also never heard of you and you not of me he he

Carl ·

So baie ondervinding en kennis. En hy neem dit saam na sy graf toe. Wat ‘n jammerte.
Dink net wat kan hy doen om ons jong mense kennis gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.