Rekordgetal stemme ooit in US se aanlyn konvokasieverkiesing

Stellenbosch-University

Universiteit Stellenbosch (Foto: Cair.za.net)

’n Rekordgetal stemme is deur lede van die konvokasie van die Universiteit Stellenbosch (US) uitgebring nadat dié verkiesing die heel eerste keer aanlyn plaasgevind het.

Lede het tot net voor middernag Maandag kans gehad om vir drie lede van die uitvoerende komitee (UK) van die konvokasie te stem.

’n Gesamentlike 9 877 stemme is uitgebring vir die drie vakante posisies in die UK. Altesaam 3 380 stemme is uitgebring vir die vakature van president van die konvokasie, 3 397 vir die posisie van sekretaris en 3 100 vir die vakature van ’n addisionele gewone lid.

Adv. Jan Heunis is weer as president aangewys nadat hy verlede jaar uit die pos bedank het.

Frederik van Dyk en Merlyn van der Rheede is onderskeidelik as nuwe sekretaris en bykomende lid van die konvokasie aangewys.

Volgens prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, is hierdie uitslae deel van die universiteit se merkwaardige sukses tydens dié pandemiejaar met sy vele uitdagings.

“Nie net was die elektroniese stemproses en die virtuele jaarvergadering ’n ‘eerste keer’ vir die konvokasie nie, maar dit het ’n wyer betrokkenheid van alumni gefasiliteer wat die beperkinge van ’n fisieke byeenkoms eksponensieel reduseer en tegelykertyd nuwe weë open vir die raadgewende rol en taak van die konvokasie. Dit is ’n toekomsaanwyser vir wyer opbouende insette van alumni by die sake van die universiteit,” het De Villiers gesê.

Die doel van die konvokasie is om die welsyn van die universiteit te bevorder deur ’n wedersyds voordelige verhouding tussen die instelling en die lede van die konvokasie, en om waar gepas, raadgewing aan die senaat en die raad te verskaf.

De Villiers het by navraag die verkose kandidate gelukgewens met hul aanwysing as lede van die uitvoerende komitee van die konvokasie. Hy het gesê hy sien uit na opbouende insette van en wisselwerking met die konvokasie in die verdere bevordering van die belange van die universiteit.

Die uitvoerende komitee van die konvokasie lyk nou só:

  • President: Adv. Jan Heunis
  • Visepresident: Dr. Leslie van Rooi
  • Sekretaris: Frederik van Dyk
  • Addisionele lede: Esterbeth Singels en Merlyn van der Rheede

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

tweeling ·

So wat het nou gebeur. Heunis is weg agv de Villiers se gedrag. Nou is hy weer terug maar de Villiers is nog steeds daar. de Villiers is uitgewys vir onbehoorlike gedrag. Het geld nou iewers gepraat om iemand stil te hou . Het de Villiers al om verskoning gevra vir sy uitlating teenoor die meisies met die pers gesigte.

annie ·

Moenie te gou… vir Goeie Hoop opsaal nie. ‘n Afrikaanse spreekwoord lui: ‘n Jakkals verander van haar maar nie van streek. Siende dat die US nou Engel-s is, is die woorde seker onvanpas vir Sir De Villers Graaff II’s county and its rich winelands down under in Brittain, your lordship? I am on 1 knee. Promise.

J ·

Hartlik geluk aan al die nuwe konvokasie lede! Groei asb ruggraat daar by Skellembosch en sit vir Slim Wim en sy spul Anglofiel kaders, op hulle plek!

Dan is die ‘Kaap weer Hollands!’

Christo ·

Die US rektor se aanspraak dat die pas-afgelope US Konvokasieverkiesing die grootste getal stemgeregtigdes betrek het, is nie korrek nie. In die Maart 2006 Konvokasieverkiesing is meer as 6000 stemme uitgebring elk op Hermnan Giliomee, Lina Spies, en Christo Viljoen (die drie verkose Konvokasie bestuurslede), en sowat 2000 stemme uitgebring elk op Christo Wiese, Ruda Landman, en Michiel le Roux (die drie verloorkandidate), dus meer as 8000 oud-Maties in totaal wat gestem het. Dit is meer as dubbeld soveel mense as wat gestem het in die pas-afgelope Konvokasieverkiesing. Die presiese stemuitslag in 2006 was:
Hermann Giliomee 6944, Christo Viljoen 6194, Lina Spies 6152 stemme
Christo Wiese 2414, Ruda Landman 2143, Michiel le Roux 1718 stemme
(Bron: Maties & Afrikaans, Pieter Kapp, Protea Boekhuis 2013, bladsy 141)

Jacobus ·

Is daar nie goeie toetse om te sien dat die lede as te ware ruggraat het. Soos VSA bewys het, het diegene wat geld het carte blanche om te maak en breek(veral laasgenoemde)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.