Renosterstropery: Vier verdagtes gewond

Argieffoto

Argieffoto

Vier verdagtes is onder polisiebewaking in ʼn KwaZulu-Natalse hospitaal nadat hulle in ʼn skietgeveg met die polisie en wildbewaarders van Ezemvelo Wildlife gewond is.

Maj. Thulani Zwane, polisiewoordvoerder, het gesê wildbewaarders van Ezemvelo het Dinsdag in Umfolozipark op twee verdagte mans afgekom, wat ʼn vuurwapen en ʼn sak gedra het.

“Toe die verdagtes die wildbewaarders sien aankom, het hulle hul sak laat val en gevlug. ʼn Renosterhoring was in die sak,” het Zwane gesê.

Die polisie is van die voorval in kennis gestel en ʼn spesiale taakspan het begin om na die verdagtes te soek.

Teen 22:00 het lede van die taakspan ʼn verdagte bakkie met vier insittendes in die omgewing opgespoor.

“Die bestuurder is beveel om die bakkie te stop, waarna die insittendes skielik op die beamptes losgebrand het. Die beamptes het terug geskiet en al vier verdagtes gewond.”

Die mans is in hegtenis geneem en is onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem vir behandeling. Die polisie het op die renosterhoring, ʼn 9mm-pistool en ʼn jaggeweer beslag gelê.

Sodra die verdagtes uit die hospitaal ontslaan word, sal hulle in die hof verskyn op aanklagte van die onwettige besit van ʼn renosterhoring, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en poging tot moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Veritas ·

Word die polisie en widbewaarders nie geleer om te skiet nie?

Sarel Du Plessis ·

Skiet hulle dood dan sal die boodskap baie gou by die wat nog dink aan stroop uitkom en hulle sal twee keer dink voordat hulle wil kom stroop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.