Rentekoers bly na verwagting onveranderd

(Argieffoto: Maroela Media)

Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee vergader weer vandag (Woensdag) en die algemene verwagting is dat Suid-Afrikaners vir ʼn vyfde agtereenvolgende keer gaan hoor: Onveranderd.

’n Aankondiging deur Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, word om 15:00 gedoen.

Ontleders voorspel dat die sentrale bank die rentekoers op 8,25% gaan hou – die hoogste in 15 jaar.

Dit is skrale troos vir diegene wat op ʼn daling gehoop het en steeds onder die huidige hoë koers steier.

“Die algemene konsensus is dat die repokoers onveranderd gaan bly,” sê Waldo Krugell, professor in ekonomie aan die Noordwes-Universiteit.

“Die beleidskomitee is nie oortuig daarvan dat hy inflasie gewen het nie. Daar is maar nog druk wat die inflasiekoers aan die hoë kant van die teikenband hou. Daar heers veral kommer oor die rand-dollar-wisselkoers en die prys van invoere – veral brandstof.”

Maroela Media het onlangs berig jaarlikse verbruikersinflasie het in Februarie tot 5,6%, van onderskeidelik 5,3% in Januarie en 5,1% in Desember, gestyg. Dit is steeds binne die teikenband van 3% tot 6%.

Krugell sê die kans dat die Reserwebank voor die Federale Reserweraad van die VSA ʼn skuif gaan maak, is baie skraal.

“Inflasie in Suid-Afrika sal skerp moet daal indien ons enigsins voor die Federale Bank ’n skuif wil maak en die Federale Bank sit self met inflasie wat hardnekkig hoog is.”

Bloomberg berig dat daar in die stadium waarskynlik geen kans op ʼn koersverlaging tot November is nie.

Krugell glo egter die monetêre beleidskomitee sal moontlik in Julie daaraan kan begin dink om rentekoerse te verlaag.

Daar word egter verwag dat die rentekoers dan maar met 25 basispunte verlaag sal word, “wat nie vreeslik baie is nie,” sê Krugell.

Die Seeff-eiendomsgroep is ook optimisties dat ’n rentekoersverlaging teen die middel van die jaar kan kom. Samuel Seeff, voorsitter van die eiendomsgroep, sê die eiendomsmark gaan dus nog ’n bietjie langer geduldig moet wees.

“Gegewe dat die inflasiekoers weer naby die boonste perk van die Reserwebank se teikenband is, is dit onwaarskynlik dat die monetêre beleidskomitee enige verligting aan die mark sal bied. Die beste waarop ons kan hoop, is dat daar geen rentekoersverhoging hierdie week is nie.”

Seeff sê daar is intussen winskope vir diegene wat belangstel om eiendom te koop gegewe die feit dat prysgroei onder 1% gaan stilstaan het, aldus die jongste data van FNB.

“In baie gevalle kan kopers eiendomme vind teen soortgelyke pryse as wat hulle twee jaar gelede sou betaal het, terwyl verbandlenings steeds kopers in die mark ondersteun.”

Seeff sê egter verkopers moet bewus wees dat beperkte prysgroei weer beteken dat kopers wil onderhandel, “en realistiese pryse wat die eiendom se waarde weerspieël, is die sleutel om kopers te lok”.

“Agente beveel aan dat verkopers nie daarna moet kyk om hoë pryse in die huidige mark te toets nie. Gaan eerder in teen die regte prys, as daar waarde is, sal die koper die prys betaal,” is Seeff se aanbeveling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Aai ·

Die ekonomie staan stil niemand kry hulle eiendom verkoop oor die onveranderde rentekoers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.