Rentekoers bly onveranderd

Lesetja Kganyago, president van die SA Reserwebank (Foto: Thobile Mathonsi/African News Agency/ANA)

Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee het besluit om die repokoers onveranderd op 3,5% te laat te midde van die tweede Covid-19-infeksiegolf.

Suid-Afrikaanse banke se primakoers bly dus op 7%.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, sê die monetêre beleidskomitee se besluit was egter nie eenparig nie. Drie komiteelede het gestem dat tariewe onveranderd gelaat word, terwyl twee ten gunste van ʼn verlaging van 25 basispunte was.

Die Reserwebank het verlede jaar verskeie kere die repokoers verlaag.

Die vakbond Uasa meen die onveranderde rentekoers is steeds goeie nuus vir werknemers wat sukkel om finansieel kop bo water te hou ná ʼn besonder moeilike jaar weens die Covid-19-pandemie.

“Die onveranderde rentekoers sal Suid-Afrikaners help om die finansiële mas op te kom, aangesien baie werknemers hul inkomste verloor het of hul salaris verminder is. Daar is boonop berigte dat Suid-Afrikaners nie hul skuld sal kan terugbetaal nie of skuld sal moet maak om net kop bo water te hou,” sê Stanford Mazhindu, woordvoerder van Uasa.

Inflasie, ekonomiese groei

Verbruikersinflasie het in 2020 op ’n gemiddeld van 3,3% gestaan. Die Reserwebank se voorspelling vir 2021 is nou effens hoër (4,0%) as die 3,9% wat aanvanklik voorspel is en nóg hoër (4,5%) vir 2022. Die voorspelling vir 2023 staan tans op 4,6%.

Kerninflasie het in 2020 gemiddeld op 3,3% gestaan. Voorspellings vir 2021 en 2022 bly onveranderd op onderskeidelik 3,4% en 4,0%. Kerninflasie sal na verwagting in 2023 tot 4,3% toeneem.

Wat die bruto binnelandse produk (BBP) betref, voorspel die Reserwebank ekonomiese groei van -7,1% vir die duur van 2021. Dit is effens minder as die -8% wat aanvanklik voorspel is.

’n BBP-styging van 3,6% word in 2021 verwag. Volgens die bank sal BBP na verwagting met 2,4% in 2022 styg, terwyl ’n ekonomiese groei van 2,5% in 2023 verwag word.

Kganyago sê hoewel nóg Covid-19-infeksiegolwe moontlik sal volg, word daar verwag dat ekonomieë wêreldwyd danksy die entstowwe effens sal herstel. Die verspreiding van entstowwe oor die wêreld gaan egter waarskynlik ’n stadige proses wees en ekonomieë sal nie almal gelyk herstel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Francois Le Cochon ·

Lae rentekoerse is goed vir diegene met skuld, maar sleg vir die wat beleggings het.

Jack ·

Die Reserwe Bank het die huidige lae rentekoerse ingstel om sogenaamd die ekonomie te stimuleer. Dit werk egter nie omdat daar te veel faktore is wat ekonomiese groei aan bande lê. Die grootste is al die onsekerheid oor ekonomies beleid, die neertrekkende effek van AA en BBBEE en korrupsie en regeringsonbevoegdheid en plainweg grootskaalse diefstal van staatsgeld, en dna ook die bedreiging van EWC.

Nou straf die SARB spaarders en bevoordeel mense wat skuld het. Ou mense wat van opbrengs op spaargeld moet lewe kry swaar, maar jonger mense wat spandabelrig spandeer word bevoordeel. Hier is ‘n groot skroef los in ons land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.