Rentekoers: ‘Ekonomie kan nie byhou’

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die repokoers is weer op dieselfde vlak as voor die Covid-19-pandemie, maar Suid-Afrika se ekonomie is allermins nog op daardie vlak. Kenners waarsku ná die jongste rentekoersverhoging dat nog swaar tye voorlê – veral vir diegene met skuld.

Die repokoers het vandag (Vrydag) amptelik met 75 basispunte tot 6,25% per jaar verhoog. Dít bring die repokoers op 275 basispunte hoër te staan as kort voor die eerste verhoging van 25 basispunte in November verlede jaar.

Die ekonomie is egter nou 0,5% kleiner as voor die pandemie; 821 000 minder mense het werk en die gesamentlike inkomste van werkers was in die tweede kwartaal van 2022 0,8% minder vergeleke met die tweede kwartaal van 2020.

“Die hartseer werklikheid is dat die jaarlikse inflasiekoers op 7,6% staan, ver oor die Suid-Afrikaanse Reserwebank se inflasieteiken van tussen 3% en 6%,” sê Abigail Moyo, woordvoerder van Uasa.

“Die Reserwebank voorspel nou ekonomiese groei van slegs 1,9% vir vanjaar, laer as die voorheen verwagte 2,0%. Saam met die repokoersverhoging sal beurtkrag en ander faktore tot laer ekonomiese groei en meer swaarkry lei.”

Prof. Raymond Parsons, ekonoom by die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, beaam dit en sê die jongste repokoersverhoging gaan ʼn negatiewe uitwerking op die uitleenkoste vir verbruikers en sake inhou. “Dít in ʼn tyd waar die ekonomie sukkel om momentum te handhaaf.”

Hy glo die Reserwebank is dalk té optimisties oor die toekomstige groeivooruitsigte. “Die kombinasie van die voortdurende Eskom-kragonderbrekings, kumulatief hoër leenkoste en ʼn onsekere wêreldekonomie vereis nou van Suid-Afrika om sy 2023-BBP-groeiverwagtinge tot slegs sowat 1,4% in 2023, in ooreenstemming met die SARB se eie huidige voorspelling, te plaas.”

“Die jongste repokoersverhoging van 75 basispunte plaas onhoudbare druk op die ekonomie,” waarsku Greg Dart, direkteur van High Street Auctions, op sy beurt.

“Die regering vra van die private sektor om die land se deure oop te hou en die nasionale beleggingsbasis te verbreed, maar kom ons nie halfpad tegemoet nie.

“Sakelui en ondernemings verstaan die regering se behoefte om ekonomiese vraag te onderdruk en die geldeenheid te beskerm in die globale konteks van voorspellings van ʼn dreigende wêreldwye resessie, maar ons moet na die besonderhede van ons makro-toestande kyk en daarvolgens aanpas.

“Die feit is dat Eskom die ekonomie van miljarde rande per dag laat bloei en verbruikers kan eenvoudig nie in hierdie stadium nog ʼn styging in lewenskoste hanteer nie.”

Wie lag en wie huil?

Argieffoto

Suid-Afrikaners met huislenings, motorfinansiering en ander huishoudelike skuld ondervind ongetwyfeld meer finansiële druk as voorheen.

Yael Geffen, uitvoerende hoof van die agentskap Lew Geffen Sotheby’s International Realty, sê nou eienaars van eiendom en verbruikers oor die algemeen is op breekpunt.

“Die koersverhoging in Julie was die hoogste enkele verhoging in byna 20 jaar en dit het groot druk op Suid-Afrikaners geplaas, wat toe reeds te doen gehad het met groot stygings in die basiese lewenskoste en die vorige koersverhogings wat vroeër die jaar ingestel is.

“Nou, met nog ʼn verhoging van 75 basispunte, beteken dit die koste om ʼn verband van R2 miljoen in stand te hou het sedert November verlede jaar met meer as R3 700 toegeneem. Mense met vaste inkomste gaan hul huise begin verloor.”

Geffen sê die eiendomsektor is ʼn beduidende bydraer tot die ekonomie en hoewel die regering teen inflasie moet verskans, moet dit ook huiseienaars beskerm.

“My raad aan eienaars is om realisties te wees oor hul begrotings. As terugbetalings onhoudbaar word, is dit die ergs moontlike ding om die situasie te ignoreer in die hoop dat dit magies beter sal word.

“Die eerste stap is om met jou verbandinstelling te praat om te sien of ʼn plan gemaak kan word om jou verband te herstruktureer. Indien nie, oorweeg die opsie om op medium termyn af te skaal.

“Eiendom is altyd ʼn veiligehawe-belegging, so verkoop eerder ʼn groter eiendom en maak ʼn veilige belegging in ʼn kleiner een om die huidige storm te weerstaan, indien nodig, as om alles te verloor.”

Pensioenarisse en diegene wat ʼn neseier kon opbou, het egter iets om oor te glimlag aangesien die jongste repokoersverhoging die opbrengs op hul spaargeld dienooreenkomstig sal verhoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Henri ·

Die nagevolge van die pandemie en Eskom se beurtkrag veroorsaak dat meer mense op skuld reken om kop bo water te hou. Die rentekoersverhogings plaas defnitief meer druk op ons landsburgers wat reeds in ‘n wurggreep verkeer.

Lourens ·

Die “pandemie” het geen ekonomiese gevolge gehad nie. Die regime se absurde, oordadige regulasies is wat die katastrofe veroorsaak.

Henri ·

Die wêreldwye inperkings as gevolg van die “pandemie” het die wêreld se ekonomieë op hulle knieë gedwing. Menslike fout of opsetlik?

Sandra ·

Diegene wat die ekonomie aan die gang hou is die wat nou deur die rentekoers verhoginings geaffekteer word. ek so bly ek het nie ‘n verband of skuld nie, nie omdat ek kan nie, maar omdat ek dit nie kan bekostig nie. ek druk maar deur, al is dit seer

domheks ·

Die regering sal bly wees as ons plase/eiendom verloor agv die rentekoerse.

Elma ·

Ag man, NIEMAND kan byhou nie. Al die versekerings maatskappye in hierdie gierige land gaan nou ook op die wa spring. Almal van ons het mos BAIE geld.

Elma ·

“raad aan eienaars is om realisties te wees oor hulle begrotings….” Watse begroting – MY begroting is lankal by die deur uit. Okay dan, ons sal realisties wees.

VaalDonkie ·

Ek gaan vir FNB seg hulle moet realisties wees oor hoeveel hulle elke maand van my af wil he.

Kokerboom ·

Die regering is tans die vyand van beide die ekonomie en man in straat. Hul doen alles in hul vermoee om beide te ruineer. Rede: Hul het GEEN visie of plan of emosie met die melkkoei wat hul droogmelk!

Vernon ·

Bykans elke dag kry ek aanbiedinge van bykans elke bank en versekering-instansies vir n lening?? Instansies is net so skuldig aan die swak ekonomie!!

Wildemien ·

Dis wat jy kry as die Reserwebank se ekonome almal grade gekoop het.

Republikein in die Wes Kaap ·

By die Fidel Castro School of Economics.

Republikein in die Wes Kaap ·

Drs JP Landman en Roelof Botha sê dit gaan eintlik goed met die ekonomie.

Nationalist ·

En ons dog Covid is ń pandemie… daar is reeds ń pandemie wat die land al vir 28 jaar lank verniel!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.