Rentekoers gaan weer SA’ners se skuldsakke skud

Argieffoto (Foto: USA-Reiseblogger, Pixabay)

Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee het Donderdag ʼn verhoging van 25 basispunte tot 7,25% aangekondig.

“Dit beteken dat dit selfs nog duurder sal wees om skuld af te betaal in ʼn tyd waar die land reeds wankel in ʼn lewenskostekrisis wat deur die ANC-regering veroorsaak is,” sê Dion George, die DA se skaduminister oor finansies. “Die ANC se roekelose ekonomiese beleide het Suid-Afrikaanse huishoudings weer getref waar dit die seerste maak – hul beursies.”

Die aankondiging kom as ʼn maatreël om die skade te probeer beperk wat deur die ANC se teen-armoede fiskale beleidsraamwerk veroorsaak is en die party se versuim om maatreëls in te stel om vinnig stygende kostes teen te staan.

Die skokkende inflasiestatistieke wat verlede week vrygestel is, onthul die ware omvang van die krisis: jaar-op-jaar inflasie vir algehele goedere het met 10,1% gestyg; vervoerkoste met 13,9% en kos en nie-alkoholiese drankies met 12,4%. Die prys van brood, ʼn basiese voedselproduk, het slegs in 2022 met meer as 20% gestyg.

“Die ANC-regering gee nie om nie. In plaas van die instelling van fiskale beleide wat die impak van stygende kostes en voortgesette kragonderbrekings sal verlig, kies hulle om eerder lewensboeie te gee vir bankrot staatsbeheerde ondernemings.”

(Foto: Maroela Media)

George sê finansiesminister Enoch Godongwana het ook die DA se noodsaaklike en praktiese voorstelle verwerp om die brandstofheffing te sny, belastingterugbetaling in te stel vir sonkrag en om die zero-BTW-mandjie te vergroot om produkte soos hoender, bief, ingelegde boontjies, mieliemeel, margarien, grondboontjiebotter, babakos, tee, koffie en soppoeier in te sluit. “BTW op hierdie items het ʼn oneweredige impak op die armste 50% van Suid-Afrikaners wat reeds sukkel om kos op die tafel te sit.”

George meen dit is duidelik dat die ANC-regering ver verwyderd is van die harde werklikheid van hongersnood in die land.

“Ons sal nie net terugsit en kyk hoe hulle politiek met mense se lewens speel nie. Ons sal druk op die regering verhoog om werkbare ekonomiese beleide in te stel en dringend die lewenskostekrisis te takel – veral wat kospryse betref.”

Impak op huiseienaars

Carl Coetzee, uitvoerende hoof van BetterBond, sê huiseienaars gaan wel ʼn bietjie meer moet opdok vir hulle huislening-paaiemente ná vandag se jongste rentekoersverhoging. “Ons was egter hierdie styging te wagte, en baie kenners stem saam dat ons nou naby die hoogwatermerk is van hierdie huidige siklus rentekoersverhogings.”

Coetzee sê die verwagting is dat rentekoerse stadig maar seker sal begin stabiliseer. Daar is selfs ʼn tikkie hoop dat rentekoerse later vanjaar, of vroeg volgende jaar, kan begin daal.

“Wanneer dit kom by die eiendomsmark, is ons raad aan verbruikers altyd om ʼn oog op die langtermyn te hou. Die SA Reserwebank het vroegtydig opgetree om inflasie in toom te hou deur rentekoerse in November 2021 al te begin opskuif. Daarom is ons optimisties dat hierdie een van die laaste stygings sal wees. Indien dit die geval is, sal huiseienaars ʼn sug van verligting slaak, te midde van stygende pryse vir alles van brandstof tot kruideniersware, en natuurlik daaglikse beurtkrag waarmee ons almal moet saamleef. Indien rentekoers wel afplat sou dit ook weer geleenthede begin skep vir nuwe kopers om die eiendomsmark vir die eerste keer te betree. Goeie nuus vir ons ekonomie.”

Samuel Seeff, voorsitter van die Seeff-eiendomsgroep (Foto verskaf)

Samuel Seeff, voorsitter van die Seeff-eiendomsgroep, sê alhoewel ʼn rentekoersverhoging nooit goeie nuus is nie, was dit te wagte.

Seeff meen die Reserwebank kon egter ʼn blaaskans gegee het vir die ekonomie en verbruikers, veral in die lig van die Eskom-kragkrisis.

“Dit lyk of inflasie (weer af in Januarie na 7,2% van 7,4% in Desember) hier gestabiliseer het, net soos in baie ander internasionale markte, insluitend die VSA, waar daar ʼn verwagting is dat ʼn verhoging van die rentekoers opgeskort sal word as ʼn verligting vir die ekonomie.”

Seeff sê dit lyk of energiepryse wêreldwyd ook tot bedaring gekom het, terwyl die rand gestabiliseer het. “Op die minste behoort die rentekoers nou te stabiliseer en stabiliteit in die ekonomie en eiendomsmark te ondersteun. Hopelik sal ons ʼn rentekoersdaling aan die einde van die jaar sien.”

As ʼn riglyn, weens die jongste rentekoersverhogings, sal terugbetalings op ʼn huisverband van 20 jaar op die basiskoers soos volg verhoog:

  • Verband van R750 000 – ekstra R126 (terugbetaling verhoog van R7 488 na R7 614)
  • Verband van R900 000 – ekstra R152 (terugbetaling verhoog van R8 985 to R9 137)
  • Verband van R1 miljoen – ekstra R168 (terugbetaling verhoog van R9 984 to R10 152)
  • Verband van R1,5 miljoen – ekstra R252 (terugbetaling verhoog van R14 976 to R15 228)
  • Verband van R2 miljoen – ekstra R337 (terugbetaling verhoog van R19 968 to R20 305)
  • Verband van R2,5 miljoen – ekstra R421 (terugbetaling verhoog van R24 960 to R25 381)

“Die regte besluit”

Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool (Foto: NWU)

Prof. Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê die monetêre beleidskomitee het voortgegaan met sy siklus om die rentekoers te verhoog deur dit met 25 basispunte aan te pas, in plaas van die hoër 50 basispunte wat wyd verwag is.

“Dit was die regte besluit in huidige spanningsvolle ekonomiese omstandighede. Deur die verskeie risiko’s te bestuur wat die ekonomie teister, is daar ruimte vir werklike verskille wat betref die pas waarteen leningskoste weer moet verhoog. Die komitee was self verdeeld oor die omvang van die verhoging met drie stemme teenoor twee.”

Die komitee het verder sy 2023 BBP-groeivooruitsig tot so laag as 0,3% verminder – hoofsaaklik weens die negatiewe impak van beurtkrag.

“Gegewe die normale vertraging van 12 tot 18 maande van monetêre beleid op die ekonomie en die kumulatiewe effek van vorige rentekoersverhogings, sal dit nou ooreenstem met ʼn baie laer groeiprestasie in 2023. Die gevaar van ‘oorreaksie’ bestaan wel wanneer die rentekoers te aggressief aangepas word, selfs wanneer die rentekoers naby aan sy piek is. Monetêre beleid kan dan deur dié vertragings gepootjie word. Die komitee het dus in hierdie stadium die regte besluit geneem om die pas van rentekoersverhoging te beperk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Carel ·

Ons kan maar regmaak vir nog n verhoging teen die volgende sitting

Riaan ·

Teen einde Mei 2023 behoort die werklikheid die monitere komitee te tref. Indien daar nie politieke inmenging is nie, behoort daar n redelike groot (1%) verhoging te wees.

Sparky ·

Ongelukkig gaan dit vir hierdie party oor vel kleur en nie oor die land se belange nie.

Nico ·

Wat gaan die regering doen om die armste van die armstes te help om te oorleef, rente koerse word verhoog, kos ware word verhoog, ag, sommer alles word verhoog en party sê dit was ‘n goeie besluit gewees. Die Reserwe bank speel saam met die Uliminatie en die Internasionale Geldmagte.

Pierre ·

hulle sal eenvoudig grants opstoot en belastingbetalers melk daar voor.

Wendy ·

Raak hulle mal kan hulle wragtig nie sien wat hulle aanvang nie ???

Brombeer80 ·

DIe arm man word armer, huis eienaars moet hulle huise betaal voor hulle kan kos kry, brandstof vir hulle karre om te gaan werk of elektrisiteit, wat met beurtkrag vertraag word. Iets moet gedoen word want dit begin amper lyk na n “scortched earth policy”. Hoekom staan ons nog rond en kyk hoe ons land vergaan?

Hannelie ·

Dankie aan die ANC!!!!!!!! Mag hierdie jul sakke ook raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.