Rentekoers onveranderd

(Argieffoto: Christel Cornelissen)

Die sentrale bank se monetêre beleidskomitee het eenparig besluit: Die rentekoers bly onveranderd.

Lesetja Kganyago, goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, het Woensdagmiddag bevestig die rentekoers bly vir ʼn vyfde agtereenvolgende keer op 8,25% – die hoogste vlak in 15 jaar.

Die prima uitleenkoers staan dus stil op 11,75%.

Ekonome was dié besluit van die monetêre beleidskomitee te wagte.

Dit was vanmiddag duidelik dat die sentrale bank bekommerd is oor inflasie.

Kganyago het toegegee dat talle lande onder die druk van inflasie steier. Die goewerneur het egter daarop gewys dat Suid-Afrika ʼn meer geleidelike versnelling in inflasie as baie eweknielande gehad het, met ʼn laer piek, ná Covid-19.

“Die terugkeer na die teiken was stadig.”

Jaarlikse verbruikersinflasie het in Februarie tot 5,6%, van onderskeidelik 5,3% in Januarie en 5,1% in Desember, gestyg.

Dit is steeds binne die teikenband van 3% tot 6% hoewel nader aan die bopunt as die middelpunt.

Die jongste syfers is ook “nog ʼn vertraging in ons pad terug na ons 4,5%-doelwit”, het Kganyago verduidelik.

Die sentrale bank se monetêre beleidskomitee is wel vol moed dat inflasie vorentoe weer by 4,5% gaan draai, maar sê dit lyk in dié stadium of inflasie, “gegewe ekstra inflasiedruk”, eers teen die einde van 2025 die middelpunt van die teikenband gaan bereik.

“Dit is later as wat voorheen verwag is,” het Kganyago verduidelik.

Hy het verder gesê Suid-Afrika vorm deel van die wêreldwye neiging waar dienste eerder as goedere ʼn groot bron van inflasie geword het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Aai ·

Om dit onveranderd te los doen ons nie goed wanneer gaan dit daal?

Ore ·

Vraag is of die lede hulle blind staar teen die werklikhede? Rentekoers moes al tydens vorige hersiening afwaarts aangepas gewees het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.