Rentekoers: ‘Welkome besluit; land nog lank nie uit moeilikheid’

(Foto: Riccardo Milani / Hans Lucas / Hans Lucas via AFP)

Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee (MBK) het Donderdag op sy laaste vergadering van die jaar eenparig besluit om die rentekoers vir ʼn derde agtereenvolgende keer onveranderd op 8,25% te hou.

Talle kenners meen dat dit ʼn welkome verrassing vir verbruikers is, maar dat die land nog lank nie uit die moeilikheid is nie.

Volgens Chris Tyson, stigter en voorsitter van Tyson Properties, is eerste-keer huiseienaars die swaarste getref deur die bestendige opwaartse trajek van rentekoerse in Suid-Afrika.

“Hulle is waarskynlik ook die meeste verlig dat die Reserwebank besluit het om nie die rentekoerse voor die feesseisoen te verhoog nie.

“Volgens navorsing van Lightstone word baie van diegene wat voordeel daaruit getrek het toe die prima rentekoers ʼn multi-dekade laagtepunt van 7% in 2020 bereik het – en tot Mei 2022 laer as 8% gebly het – nou gedwing om te verkoop omdat hulle nie meer hul hoë verbandterugbetalings kan bekostig nie.

“Die navorsing toon ook dat die aantal huiseienaars wat gedwing word om hul eiendom te verkoop (wat hulle net twee jaar tevore gekoop het), van 2% van die totale verkope in Mei verlede jaar tot 3,7% ʼn jaar later gespring het – ʼn toename van meer as 80%,” sê Tyson.

Greg Dart, direkteur van High Street Auctions, sê data uit die jongste sakevertroue-opname toon dat Suid-Afrika se sakevertroue verder in die vierde kwartaal afgeneem het aangesien verbruikersinkomste onder druk van hoë leenkoste bly.

“Hierdie koste is gebaseer op die rentekoers wat – ondanks die feit dat dit deur die MBK onveranderd gelaat is – steeds die hoogste in 14-jaar is,” sê Dart.

Hy meen dat huishoudings se finansiële prentjie kommerwekkend is en waarskynlik nie sal verbeter nie weens die stygende jaarlikse verbruikersprysinflasie wat in Oktober 5,9% – teenoor 5,4% in September – bereik het.

“Terwyl die onveranderde prima uitleenkoers uiters goeie nuus is, is die land nog lank nie uit die moeilikheid nie.

“Ons het nodig dat die regering en die Reserwebank harder werk om werklike en blywende ekonomiese verandering teweeg te bring. Voedselprysinflasie is steeds te hoog, die koste van elektrisiteit is hoog en net-onstabiliteit is ʼn ernstige bedreiging vir die land as geheel.”

Volgens Thys van Zyl, uitvoerende hoof van Everest Wealth, sou ʼn verlaging in die rentekoers kleinhandelverkope ʼn broodnodige hupstoot kon gee.

“Die rentekoers is sedert November 2021 al tien keer met altesame 4,75 persentasiepunte verhoog, en om dit net dieselfde te hou sal verbruikersbesteding verder inperk.

“Intussen hou die regering hom met ander goed besig, soos die Israel-Hamas-konflik, wat die rand onder druk kan plaas, veral met die ANC-regering wat pro-Palestina is,” sê Van Zyl.

Hy meen die rentekoers moet nie bloot gebruik word om die rand se waarde te probeer beskerm nie, “aangesien politieke en ekonomiese onstabiliteit die skuld dra en vuisvoos verbruikers eindelik daarvoor boet”.

“Die hoë rentekoerse om inflasie in toom te hou het verder ook beleggingsonsekerheid tot gevolg en laat buitelandse beleggers uit die land vlug.

“Verbruikers het die afgelope jaar en ʼn half swaar getrek en sukkel om kop bo water te hou. Verbruikers is vuisvoos weens die afgelope ruk se skerp stygings in die rentekoers sowel as skerp stygings in kospryse, die petrolprys, kragpryse en ander lewenskoste.

“Dit is tyd om verbruikers te beskerm voordat die laaste strooi die kameel se rug breek,” sê Van Zyl.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.