Repokoers: ‘Groot ekonomiese probleme vir Suid-Afrikaners’

(Argieffoto: Maroela Media)

Die Demokratiese Alliansie meen die Suid-Afrikaanse Reserwebank se besluit om die repokoers met 75 basispunte te verhoog was te wagte, maar sal baie ekonomiese probleme vir Suid-Afrikaners beteken wat reeds sukkel om kop bo water te hou.

Dit is die grootste verhoging in die repokoers die afgelope 20 jaar.

Dr. Dion George, die DA se skaduminister oor finansies, sê dit bevestig nie net die swak ekonomiese fundamentele faktore in die plaaslike ekonomie nie, maar werp ook lig op die onvermoë om ʼn negatiewe wind van voor van ʼn sukkelende wêreldwye ekonomie te weerstaan.

“Met ʼn hoë inflasie-omgewing wat aangevuur word deur verhoogde kostes vir brandstof, kos, behuising en vervoer, loop Suid-Afrika die ernstige gevaar om kosarmoede te verhoog onder lae-inkomste huishoudings. Suid-Afrika kon beter voorbereid gewees het om meeste van die ekonomiese skokke te absorbeer as die ekonomie beter bestuur was.”

George sê die ekonomie is ongelukkig in die middel van ʼn energiekrisis wat vertroue afbreek en dit wil voorkom of prosesse vir ekonomiese hervorming stilstaan.

“In die lig van die hoogste werkloosheidskoers in die wêreld gaan dit mens te bowe hoe die regering skynbaar onseker is hoe om die ekonomiese krisis op die beste manier te hanteer.”

Hy sê Transnet se onvermoë raak ook Suid-Afrika se vermoë om mededingend te wees in die uitvoermark; hawens is ʼn ongekende ramp en die energievoorraad kan nie belegging en groei ondersteun nie. “Monetêre beleid kan net só ver gaan om inflasie-druk te bestry. Volhoubare ekonomiese herstel kan slegs bereik word deur bewese makro-ekonomiese beleide wat fokus op groei en verhoogde beleggings in die ekonomie.”

George voeg by die regering moet nou met fiskale beleidsingrypings reageer wat nou dringend nodig is.

“Suid-Afrikaners word in armoede in belas en belastingverligting is dringend nodig. Dit sou moontlik gewees het as die staatskas beter bestuur is en minder geld van die belastingbetaler gesteel is, verkeerd aangewend is en onwys spandeer is.”

Yael Geffen, uitvoerende hoof van Lew Geffen Sotheby’s International Realty, sê ook ʼn verhoging was te wagte, maar die impak van 75 basispunte sal verwoestend wees op verbruikers. “Dit is die hoogste enkele verhoging in byna 20 jaar. Dit plaas enorme druk op Suid-Afrikaners wat reeds steier onder groot verhogings in basiese lewenskoste en vorige rentekoersverhogings.”

Geffen meen die impak sal selfs erger wees vir persone met huislenings. “Hierdie toename beteken dat kopers in die R2 miljoen-kerf ʼn maandelikse verhoging van sowat R1 000 gaan beleef, of R3 000 sedert November verlede jaar. Ons maan kopers altyd om hulself nie onder te veel druk te sit wanneer hulle eiendom koop nie. Dit is finansieel verantwoordelik om ruimte in die begroting te laat vir moontlike verhogings in die rentekoers, maar hierdie tipe verhogings is onhoudbaar vir salaristrekkers op ʼn vaste inkomste.”

Geffen sê die eiendomsmark het uitstekend herstel sedert 2020, maar momentum sal nou verlangsaam omdat selfs nog rentekoersverhogings vir die res van die jaar voorspel word.

“Die Reserwebank is verantwoordelik daarvoor om inflasie-druk af te hou en die geldeenheid te beskerm, maar het terselfdertyd ʼn verantwoordelikheid om seker te maak dat ekonomiese bedrywe, wat só groot bydrae lewer tot die BBP, ook beskerm word. Die enigste goeie nuus is dat huispryse nie sal daal nie. Diegene wat dus in die mark is om te koop, moet dit nou doen. Maak net seker jy koop iets waar jy steeds beweegruimte in jou begroting het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nommer 7 ·

Die begin van beter rente verdienstes vir pensioenarisse.

Nico ·

Dit gebeur as gevolg van uiters swak bestuur en wan besteding van die ANC regering se kant.

Nommer 7 ·

Nico, lees bietjie wyer. Dieselfde gebeur tans in Europa.

Papsak ·

Alles in hierdie land is weg en verswak deur wie die nagemaakte president en sy vrot regering die verlepte anc raak ontslae van hulle almal kom ons vat ons land terug en SA sal weer op staan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.