Rob val vrou op strand aan

Die rob het weens al die stres gevrek {Foto: Verskaf}

’n Vrou is Woensdagaand deur ’n volwasse rob by die Strand in die Wes-Kaap aangeval nadat sy teen hom op die strand vasgeloop het. Volgens die Stad Kaapstad het die vrou glo nie die rob gesien nie.

Paramedici is kort ná die voorval na die toneel ontbied. Die vrou is na ’n plaaslike hospitaal geneem waar haar bytwond behandel is. Sy is Donderdagoggend terug na die hospitaal om haar wonde te laat skoonmaak.

Volgens Eddie Andrews, die stad se onderburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en omgewingsake, was die rob aggressief omdat hy dae lank deur mense geteister is. Hy het sy teleurstelling hieroor uitgespreek.

Volgens Andrews het lede van die publiek die rob geterg, met klippe gegooi, met stokke gestamp en honde op die rob gesit om dit te jaag. Die mense het die rob glo uitgelok sodat hulle video’s kan neem van hoe dié dier hulle jaag.

“Hierdie rob het die afgelope paar dae bloot op die strand probeer rus, wat normale en verwagte gedrag vir ’n rob aan ons kuslyn is. Ek wil graag alle strandgangers in kennis stel dat dit onwettig is om enige dier aan die kus te teister en die verantwoordelikheid berus by mense om hul afstand te hou,” sê Andrews.

Die stad se kusbestuur- en wetstoepassingspanne het Donderdagoggend ’n gedeelte van die strand vir lede van die publiek gesluit sodat die Dierebeskermingseenheid (DBV) se wildseenheid met die hulp van kusbestuur, en met toestemming van die departement van bosbou, visserye en omgewingsake, die rob kon vang.

Die rob is na die Twee Oseane Akwarium geneem sodat hul wildveearts die dier kan assesseer, met die oog daarop om dit weer in die natuur, ver van mense, vry te laat.

Die rob het egter weens die oormatige stres gevrek.

“Ons vra dat alle inwoners en strandgangers in Kaapstad hierdie diere in vrede laat. Robvrektes is ’n baie algemene uitkoms wanneer hulle gestres is, veral wanneer hulle deur mense geteister of gevang word. Dit is die hoofrede waarom hulle gevang en hervestig word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

JohanR ·

Is die rob die superieure spesies? Ek kom daagliks by ganse uit, en gooi vir hulle ietsie om te eet. Nou hoekom wil ek terg, of met klippe gooi? Die ganse gee my genot. Ja die mensdom darem!

Berna ·

EK wens hierdie gedrag kan stop. Wat het die rob aan jou gedoen? Hoekom wil jy reaksie he? As jy wildtuin toe gaan gooi jy die leeus, olifante of wat ookal met klippe of verjaag hulle om reaksie uit te lok? Dan moet hulle jou maar vang of vertrap. Die robbe en pikkewyne en ander seediere kan nerens anders heen gaan nie, en regtig HULLE WAS EERSTE HIER. Los hulle uit en gaan speel met jouself by die huis.

Marietjie ·

Netso, jammer diere moet altyd die prys betaal. Hy was ons goedaardige kuiergas, ons soms vermaak en ander kere het jy geweet, los hom net dat hy kan rus… en dis presies wat hy gedoen het!

hpven ·

Die natuur se enkel grootste vyand is die mens! Ek sê dit met respek teenoor die minderheid wat die natuur probeer bewaar.

Marietjie ·

En wat ‘n vyand om te te hê as jy ‘n stomme dier is, aitog.

Marietjie ·

Ons harte is seer ou Grote Fred, dat een van ons spesie die oorsaak is, dat daar een van jou spesie, minder op hierdie aarde is vandag. Nou kan jy regtig RIV. Gaan jou spelery hier in ons water mis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.