Die rondloperleeu Mufasa het vir groot opgewondenheid in die Karoo gesorg sedert sy ontsnapping verlede maand uit die Karoo Nasionale Park in die Wes-Kaap.
“Dit was ʼn mooi storie,” het Hester Obermeyer, die plaaslike droogtehulp-koördineerder van Gift of the Givers en inwoner van Sutherland, Donderdag aan Maroela Media gesê.
Obermeyer vertel dat Mufasa van Beaufort-Wes af ʼn draai in Loxton en Fraserburg gemaak het voordat hy eindelik naby Sutherland gevang kon word. Sutherland is sowat 340 km padlangs van Beaufort-Wes af.
“Ons is ongelooflik dankbaar dat hy veilig is. Ons was almal bekommerd dat hy miskien geskiet gaan word. Hy is so ʼn mooi leeu.”
Maroela Media het vroeër berig Mufasa is Woensdag sowat 20 km buite Sutherland gevind.
Volgens Reynold Thakuli, woordvoerder van SANParke, is die leeu omstreeks 18:00 vanuit ʼn helikopter met ʼn verdowingspyl geskiet. Mufasa is daarna na die Sutherland-polisiestasie se aanhoudingselle geneem waar hy oornag het.
Obermeyer vertel dat Mufasa teen die einde van die soektog baie uitgeput was. Dié mannetjiesleeu, wat ʼn stewige 230 kg weeg, is vanoggend binne ʼn uur weer verdoof en in ʼn krat gelaai waarna hy teen dié tyd veilig terug in die Karoo Nasionale Park is.
Sy vertel dat Mufasa moontlik later saam met ʼn ander mannetjiesleeu in ʼn kamp hiér geplaas gaan word sodat hy nie vereensaam nie.
“Mufasa is baie spesiaal. Ons hoop hy bly nou veilig en gelukkig,” sê Obermeyer.
Obermeyer het ook gesê dat veediefstal gedurende Mufasa se tyd op vrye voet in die Karoo afgeneem het.
- Die rondloperleeu Mufasa. (Foto: Hester Obermeyer)
- Die rondloperleeu Mufasa. (Foto: Hester Obermeyer)
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
22 Kommentare
was nou lekker om te lees dat veediefstal afgeneem het terwyl Mufasa op vrye voet was. ;-)
Meer leeus moet so gelos word in die groter Karoo, dan gaan die veediefstal 0 wees ! Dankbaar die Koning is weer veilig ?
Sutherland van alle plekke… dit is herfs.. en hy het nie eens skoene aan nie!
Ek is so bly hulle het hom gekry en hy is veilig
Dis ñ mooi storie, jaaa, leeu se kind leef en oppad na sy huistoe…dankie MM