Rondloperleeu in Centurion gewaar

Die leeu is langs die R511 gewaar. (Foto: Twitter)

ʼn Reddingsoperasie is tans in Centurion onderweg om ʼn rondloperleeu veilig te vang en te verdoof, nadat dié groot kat Woensdag langs die R511 naby die Hennops-staproete gewaar is.

Arthur Crewe, eienaar van die maatskappy Strategic Response Rescue Unit (SRU), het aan Maroela Media gesê hulle het die leeu Woensdagmiddag opgespoor, nadat die dier 02:00 Woensdag vir die eerste keer opgemerk is.

“Die reddingsoperasie sal binnekort plaasvind en ons het nou ook hommeltuie in die lug om die leeu dop te hou,” het Crewe gesê.

SRU en nog ʼn private sekerheidsmaatskappy is tans by die operasie betrokke en volgens Crewe was ʼn veearts reeds teen 15:00 van Hartbeespoort na die gebied onderweg om met die verdowing te help.

Crewe sê die leeu is in dié stadium in die omgewing van die staproete en nie naby enige huise of mense nie.

“Dit het alles omstreeks 02:00 vanoggend begin toe ʼn sekerheidsbeampte die leeu op die R511 opgemerk het. Nadat ons gehoor het lede van die publiek wil eie reg gebruik, het ons ʼn soekspan uitgestuur om die leeu op te spoor. Dié span soek al sedert 07:00 vanoggend na die leeu en het om en by 14:15 ʼn deurbraak gehad toe iemand die leeu gewaar het.

“Ons is nog besig met logistieke reëlings, onder meer waarheen die leeu geneem sal word wanneer dit verdoof is.”

Crewe sê hulle het geen benul waar die leeu vandaan kom nie, en dat dit deel van ʼn ondersoek vorm. “Nog niemand het aangemeld dat ʼn leeu ontsnap het nie. Ons probeer nou almal bel om meer uit te vind.”

Hulle kon wel al sekere gebiede uitsluit.

“Die leeu het beslis nie van Noordwes se kant af gekom nie – daar word nie ʼn leeu daar vermis nie.”

Crewe sê hulle het al die nodige owerhede van die rondloperleeu ingelig, hoewel niemand, behalwe nog ʼn sekerheidsmaatskappy in die omgewing, al by die reddingsoperasie aangesluit het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Casper ·

Deesdae is daar soveel logistieke snert wat eers opgeklaar moet word dat dit my naar maak.Verdoof die leeu en sorg laat die dier in ‘n veilige omgewing gehou word.Hulle gaan die dier verbouereerd maak tot sy tande wys en dan word die dier geskiet.Iemand kan dan geld maak

George ·

n leeu moet nie aangehou word nie, en die wat aanhou en ontsnap, moet ongelukkig die gevolge dra. Eienaar inkluis.

Cherokee ·

Durban is haaiwêreld, maar die haaie stap nie op die hoofweë rond nie.

Madelein ·

En ons almal weet hoe die verhaal gaan eindig ne. Die vinnige en maklike uitweg word gekies .

George ·

Nou Madelein, gaan Centurion toe en gaan deel jou kennis, vat asb jou dart gun saam.

Harley Davidson ·

Mens sou nou verwag dat so iets in Randfontein sal gebeur en nie ‘n plek soos Centurion nie.

Lillian ·

Moet die arme dier nou nie ook dood skiet nie. Julle hou van snellers trek terwyl ons, almal weet hoe die statistieke lyk tov ons wild wat uitgeroei word deur kriminele.

Verdoof hom en neem hom iewers heen waar hy veilig kan wees.

Barend ·

Het hulle al die tweede tier gekry? Nog niks daarvan gehoor nie.

George ·

Ek wil sien wat jy se, as die gedierte voor jou, of jou kind staan. Gaan jy dan ook se “nee dart net” en hoop dat in die 107sekondes wat dit vat om plat te trek, niks aan julle doen nie?

TruthDealer ·

George ons bly in Afrika. Hier is leeus. Hulle het net soveel bestaansreg soos ons. En AS dit ooit gebeur dat n leeu skielik voor my verskyn, glo ek nie daar gaan in elk geval, gerieflikheidshalwe iemand met n dartgun Of n gewone geweer op die toneel neersak uit die lug nie. So dan sal ek maar sien wat ek kan doen. Aangesien mense veral saans in hul huise moet bly weens hordes TWEE-POTIGE diere wat links en regs moor, is die kans om deur n leeu betrek te word, uiters skraal.

Watsenaam ·

Moet die dier asb. nie verwyder of skiet nie. Hy pas die buurt in die nag op en hou ongewenste karakters weg. Iets wat ou hoed se manse nie kan doen nie.

Patch ·

Dit word ‘n “reddingsoperasie” genoem, ek hoop nie die leeu word weer van kant gemaak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.