Roodepoort keelvol vir kragprobleme

Inwoners het Donderdagaand in die strate buite hul huise betoog teen die dae lange kragonderbrekings in Roodepoort. (Foto: Verskaf)

Inwoners van Wilgeheuwel in Roodepoort het Woensdagaand in hul buurt opgeruk en vreedsaam betoog teen kragonderbrekings wat hulle sedert Desember dae lank sonder elektrisiteit laat. Wanneer die krag wél aan is, moet hulle nog beurtkrag ook verduur.

“Dit is ʼn verskriklik moeilike situasie waarin ons nou is. En dit is uitputtend om die minste te sê,” sê Lily Bender, ʼn inwoner van die gebied.

Inwoners hou sedert Desember informeel rekord van die aantal dae wat hulle kragonderbrekings moet verduur en sê dit kan nie langer so aangaan nie.

“Ons het gisteraand in die strate gaan dans. Dit was vir ons interessant: ná die protes, waartydens ons rustig gevra het vir krag, het amptenare van City Power ingery en kort daarna het ons krag gehad,” sê Bender.

Die verligting was egter van korte duur. Die kragtoevoer is teen omstreeks 20:30 herstel. Om 22:00 het beurtkrag ingeskop, teen middernag was die krag weer aan, maar toe die volgende ronde beurtkrag vanoggend om 08:00 moes eindig, het die krag weer die gees gegee.

Die gebied is dig bebou, maar dit is onduidelik wat tot die konstante onderbrekings – wat dikwels veel langer as 24 uur duur – lei.

Inwoners is wel aangemoedig om aanspreeklikheidseise by City Power in te dien vir kos wat weens die kragonderbrekings bederf het.

Dear Residents,As per the circular sent out earlier this week.We are all seeking answers and we are not getting the…

Posted by DA Ward 97 Joburg on Wednesday, February 15, 2023

Volgens die kragvoorsiener het hy teen Donderdagoggend meer as 1 635 onafgehandelde klagtes vir die Roodepoort-gebied gehad. Dít nadat meer as 900 klagtes ʼn dag tevore afgesluit is.

In Wilgeheuwel en Honeydew Ridge, waar die kragtoevoer ʼn kort ruk gelede steeds nie herstel was nie, het City Power inwoners kort ná 09:00 in ʼn kennisgewing gevra om hul verbruik te verminder en aangedui dat die onderbreking ondersoek word.

ʼn Kennisgewing wat sowat ʼn uur later gevolg het, het egter gelui dat ʼn span nog na die buurt ontplooi moes word om die oorsaak van die onderbreking te ondersoek.

Inwoners sê hulle is keelvol vir teenstrydige boodskappe en ʼn probleem wat eenvoudig net nie opgelos word nie.

Franco de Lange, ʼn VF Plus-raadslid van die Johannesburgse metroraad, sê net oor die afgelope naweek is verskeie kragprobleme in die gebied aangemeld. Dit sluit in ʼn stukkende transformator.

“Tydens die regering van veelparty-koalisie die afgelope vyf jaar, is daar geraap en skraap om die kragnetwerk se begroting aan die gang te hou. Daar was ongelukkig nie genoeg geld beskikbaar ná die ANC se jare lange wanbestuur om die agterstand in die onderhoud van kraginfrastruktuur in te haal nie,” sê De Lange.

“Dit is duidelik dat die metro-model, soos in die geval van Johannesburg, veroorsaak dat belastingbetalers se geld in ander gebiede bestee word as waar dit ingevorder word.”

De Lange sê daar moet teruggekeer word na ʼn situasie waar Roodepoort, Randburg en Sandton elk sy eie onafhanklike munisipaliteit het. Hy sê die VF Plus is ʼn voorstander dat kleiner munisipaliteite nader aan die inwoners moet wees en dat belasting wat ingevorder word, tot voordeel van daardie inwoners gebruik word.

Tshifularo Mashava, hoof van City Power, en Jack Sekwaila, Johannesburg se burgemeesterskomiteelid vir omgewing en infrastruktuurdienste, sal later vanmiddag die gebied self besoek om ondersoek in te stel na substasies wat dreig om ineen te stort.

Volgens City Power is onwettige mynbedrywighede die oorsaak hiervan. Twee belangrike installasies lyk reeds of dit gaan meegee omdat die grond waarop dit gebou is weens onwettige mynwerkery uitgehol is.

“Indien die onwettige mynboubedrywighede voortduur, gaan dit nie net belangrike kragverskaffing-infrastruktuur in die gebied – wat reeds bykomende verskaffing benodig – in die gedrang bring nie, dit gaan ook lewens in gevaar stel,” sê Isaac Mangena, woordvoerder van City Power.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

JohanR ·

Moenie bekommer Cyril en sy minister van krag kom! Moes ou Cyril nie soe 8 jaar gelede na Eskom gekyk het nie, of was hy ook besig om by Gupta’s te skep? Ja ou Cyril!

Mariana ·

Ek verstaan hulle frustrasie. Ons was laasweek vir drie dae aaneen sonder krag. Was heeltyd bewus van die vrieskas wat stadig maar seker besig was om te ontvries. Ons kon darem die inhoud red deur ‘n klein power station, wat darem so 2ure op ‘n slag gebruik kon word voor dit weer herlaai moes word. Moes yskas ook so aan die gang hou. Slegs 1 2L melk verloor. Maar dit als het geweldige druk op ons gesit. Na 3 dae is die krag herstel en kon ons weer bietjie normaal asemhaal, alhoewel beurtkrag steeds aangaan. Sterkte mense.

Danie ·

Banana republiek is daar nog hoop?Dis nou tyd vir verandering as daar nog iets gaan oorbly.As mens die spul in parlement so kyk dan sien jy nie eers ligte wat aan is nie daar is net niks.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis in daai parlement waar die gemors begin.

Manie ·

Hoe betoog beskaafde mense teen swak dienslewering in ‘n onbeskaafde land met onbeskaafde amptenare?

Hettie ·

Dit is net baie toevallig dat al die dorpe almal op dieselfde tyd krag probleme ondervnd? en dieselfde met water. Baie toevallig dat al die pype op die selfde tyd bars . Lyk so of dit so bedoel is?

Frank ·

Ek weet van geen myn bedrywighede, onwettig of te nie, naby daardie areas nie

Republikein in die Wes Kaap ·

Dear people, julle kan betoog totdat rooi dakke groen word. Niks sal gebeur nie. Begin eerder werk aan ‘n nuwe staatkundige bedeling waarvan Amerika en sy bondgenote hou, met of sonder die ANC.

TruthDealer ·

Amerika voel vere vir SA, veral onder die Democrat regering. So liberaal en polities korrek, volgens hulle redenasies is SA n paradys. Hulle werk eerder hard daaraan om Amerika te omskep in n 2de SA.

Papsak ·

Bring nou verandering in vinnig ook anders kom kru julle n lee dop wat SA genoem word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.