Die polisie het ʼn beroep op die publiek gedoen om met inligting na vore te kom nadat ʼn restaurant in Heidelberg in Gauteng vandeesweek beroof is.
Kapt. Thivhulawi Tshilate, polisiewoordvoerder, het gesê drie gewapende mans het op 1 September op die Chinese restaurant in Schoemanstraat toegeslaan.
“Die drie mans, van wie twee met vuurwapens gewapen was, het omstreeks 19:50 in die restaurant ingestorm en die eienaar van die restaurant, sy vrou en sy broer aangehou. Hulle is almal Chinese,” het Tshilate gesê.
Die verdagtes het die eienaar gedwing om die kasregister oop te maak en het met ʼn onbekende hoeveelheid kontant, ʼn skootrekenaar en selfone te voet van die toneel gevlug.
Geen skote is gevuur nie en niemand is beseer nie.
Die polisie ondersoek ʼn saak van sakeroof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Mense met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan kan die polisie bel by 016 341 5175.
Soos ek dit lees was die aanvallers ook Sjinees?? Kan dit wees????