Rooiwal-afvalwatersuiweringswerke weer operasioneel

Die Rooiwal-afvalwatersuiweringswerke. (Foto: ActionSA)

Die Tshwane-metro het Donderdag bevestig dat die Rooiwal-afvalwatersuiweringswerke (WWTW) nou vir operasionele optimalisering gereed is ná die suksesvolle kragskakeling van die Bon Accord-kragverbinding na die nuut herboude Pyramid-substasie.

Maroela Media het vroeër berig dat bouwerk aan die Pyramid-substasie in slegs 18 dae voltooi is en dat krag na geraakte huishoudings in die gebied weer herstel is. Die substasie het groot skade in ʼn storm op 20 September opgedoen toe dit aan die brand geraak het en talle inwoners sonder elektrisiteit gelaat het.

Die projek, wat die vernietiging van die beskadigde struktuur soos panele, toevoerkabels, stroombrekers, die 132 KV-isolator en sleuteltransformatorkomponente behels het, is kundig binne die geprojekteerde skedule afgehandel.

Tydens die herbouproses is die kragtoevoer na die Rooiwal-afvalwatersuiweringswerke tydelik vanaf ʼn opgeknapte, voorheen onderbenutte, kragverbinding vanaf Bon Accord herlei.

Die krag is nou na die oorspronklike toevoer vanaf die Pyramid-substasie teruggeskakel nadat die stad se tegnici bevestig het dat elektrisiteit by die substasie stabiel is.

Belugting wat benodig word vir die biologiese behandeling van afvalwater sal in fases verskaf word. Dit sal onder toesig van ʼn kontrakteur plaasvind weens die sensitiwiteit van gespesialiseerde toerusting.

Die Tshwane-metro sê die volledige herstel van alle infrastruktuur by die Rooiwal WWTW geniet die nodige aandag om deurlopende behandeling van afvalwater te verseker.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.