Rowers brand met AK47 los op polisievoertuig

Die polisievoertuig is oortrek met koeëlgate. (Foto: Verskaf)

’n Polisievoertuig het die naweek onder ’n koeëlreën in Virginia in die Vrystaat deurgeloop toe twee vermeende rowers met ’n AK47-aanvalsgeweer op dié staatsvoertuig losgebrand het.

Dié twee verdagtes het voor dié skietery na bewering ’n vulstasie in Welkom beroof.

Kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die polisie, sê minstens twee verdagtes het Vrydagaand glo op die vulstasie toegeslaan waar hulle ’n kluis met springstof oopgeskiet het om toegang tot kontant te verkry.

Die verdagtes het daarna met die gesteelde kontant in ’n groen BMW met ’n Gautengse registrasienommer op die vlug geslaan. Die polisie se honde-eenheid is egter van die rooftog in kennis gestel en het die BMW agternagesit.

Die polisiebeamptes en verdagtes het gevolglik skote op mekaar afgevuur. Dit sluit in die tientalle skote wat die verdagtes met ’n AK47 op die polisie se diensvoertuig afgevuur het.

Niemand is tydens die skietery beseer nie.

Die verdagtes se groen BMW is later verlate en in ligte laaie aangetref. Dit is nie duidelik of die verdagtes die voertuig aan die brand gesteek het nie.

Thakeng sê wel die verdagtes het Saterdag omstreeks 02:00 ’n motoris se voertuig gekaap en verder in dié se silwer BMW met Vrystaatse registrasienommer weggejaag.

Twee verdagtes, onderskeidelik 35 en 40 jaar oud, is later in dié motor gewaar, voorgekeer en in hegtenis geneem.

Die twee verdagtes, ’n Suid-Afrikaner en ’n buitelander, sal binnekort in die landdroshof in Welkom verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Maritha ·

Liewe genade. Dit raak net erger en erger! Maak ń voorbeeld van die 2. Ek kan aan ń paar maniere dink!

Nie Verbaas ·

Moet asseblief nie vergeet om hulle borgtog te gee nie.

Maritza ·

En hoekom? Want die skuim van die onder wereld vrees nie die gereg nie want vandag gevang, more vry op borg van R500

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.