Rowers dreig vrou met amputasie

Die rowers het die huis geplunder. (Foto: Reaction Unit SA)

Gewapende rowers het Donderdag gedreig om ʼn vrou van Dawncrest in KwaZulu-Natal se hande te amputeer toe dit lyk of sy sukkel om haar goue armbande te verwyder.

Die Reaction Unit South Africa (Rusa) is ongeveer 19:20 na dié huis in Flamingoweg ontbied waar die 44-jarige vrou en haar gesin deur vier mans aangerand en beroof is.

Volgens Rusa het die gesin aandete geëet toe hulle ʼn geraas in die erf hoor. Een van die inwoners, ʼn 50-jarige man, het glo na die voordeur geloop om ondersoek in te stel toe ʼn onbekende man ʼn vuurwapen op hom rig en eis om by die huis ingelaat te word. Daar was nóg drie rowers saam met hom.

Die rowers het die egpaar en hul 21-jarige seun aangerand en die huis geplunder.

“Die vrou is gevra om haar goue armbande te verwyder. Toe die rowers sien sy sukkel, het hulle gedreig om haar hande te amputeer,” het Rusa in ʼn verklaring op hul Facebook-blad gesê.

Volgens Rusa het die mans eindelik met selfone, ʼn skootrekenaar, kontant en juweliersware gevlug. Hulle het ook ʼn CZ 83-pistool uit die kluis gesteel.

Getuies het glo gesien hoe ʼn silwer Volkswagen Polo van die betrokke eiendom af wegjaag. Die registrasie is egter nie bekend nie.

Rusa het lede van die publiek intussen versoek om uiters paraat te wees, aangesien dié rowers glo in verband met ʼn vlaag huisbrake gesoek word.

“Hul modus operandi is om hul slagoffers na die voordeur te lok en hulle met ʼn wapen te konfronteer. Die rowers dreig dan om die slagoffers te skiet indien die verdagtes toegang tot die huis geweier word.

“Die rowers is uiters gevaarlik en skroom nie om geweld te gebruik nie.”

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie gerig en wag tans op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

marius ·

Lok jou na die voordeur . Lok hulle na die begrafnis ondernemer met bokhael deur die voordeur . Hierdie twak moet ophou !

Swerwer ·

Skiet voor jy vrae vra, is al hoe hierdie kommuniste gestuit sal word. Hul hoort in die eerste plek nie in jou erf nie. ‘n Heining ongeag waarvan dit gemaak is, is met ‘n doel om die erf opgerig.

Cherokee ·

‘n Erf is ‘n erf. Geen heining nodig. Maar kyk wat het ons in hierdie land geërf.

Manie ·

‘n Vriend van my se erf is in geheel omhein met hoë mure, hy kan nie eers na buite kyk nie. Sy voordeur is so 20 meter vanaf die voorhek en na verskeie pogings deur ongewensde elemente om in te kom, het hy watersproeiers buite aangelê. Hy praat net 1 keer, daarna draai hy die kraan oop.

Perdeby ·

Liewe genugtig mense wanneer gaan julle leer???????? Jy gaan nie uit as jy iets hoor nie. Loer maar deur die venster!!!

piet ·

Roof het so algemeen geword soos gewone diefstal want al die kriminele het wapens waarmee hulle mense aanval/dreig. Die krims kan oorlog verklaar met al die wapens wat hulle al gebuit het.

Misky ·

Vir wat sal jy nou die deur onder enige toestande oopmaak? Inteendeel, juis nog te minder as ‘n gewapende ou daar staan.

Jakes ·

Gewetenlose gemors wat weerlose mense aanval. Net totdat hulle dit met die verkeerde slagoffer probeer. Ek sal met die nodige aksie myself verdedig wetende dat daar na dit, geen hofsake of polisie dosier geopen hoef te word nie. Hierdie tipe uitvaagsels is n las vir die samelewing en tronkstraf sal geen doel dien nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.