Rowers loop hul vas toe hulle na toneel terugkeer

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Twee vermeende huisrowers is in hegtenis geneem toe hulle doodluiters verby ’n huis in die Oos-Kaap geloop het kort nadat hulle by dié einste huis ingebreek het. Die polisie was in dié stadium nog op die toneel en die huiseienaar het die verdagtes herken.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, sê die 33-jarige eienaar van die betrokke huis in Ikamvelihle in die noorde van Gqeberha is Vrydag omstreeks 21:30 by haar tuiskoms deur twee verdagtes oorval toe sy haar motor in die motorhuis parkeer het.

Die verdagtes het ’n vuurwapen op haar gerig. Haar beursie, selfoon, huis- en motorsleutels is by haar afgeneem en sy is by die huis ingeboender.

Die vrou se broer is ook in die huis gedreig voordat die huis geplunder is.

Die twee verdagtes het daarna in die huiseienaar se motor met gesteelde items op die vlug geslaan en later teruggekeer om nog items te buit. Vier selfone, ʼn skootrekenaar, ʼn televisiestel, bankkaarte en ʼn beursie is eindelik gesteel.

Die twee verdagtes het egter omstreeks 23:30 doodluiters verby die huis gestap terwyl polisiebeamptes nog buite besig was om die slagoffers se verklarings te neem.

“Hulle is dadelik deur die slagoffers herken en in hegtenis geneem.”

Die gesteelde motor is Saterdagoggend verlate in ’n systraat naby die huis gevind. Daar was egter geen teken van die gesteelde items nie.

Die twee verdagtes, onderskeidelik 29 en 36 jaar oud, sal na verwagting vandag (Maandag) in die New Brighton-landdroshof verskyn op aanklag van huisroof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

E ·

Dit is die toppunt van arrogansie- ek dink hulle het gedink die huiseienaar gaan te bang wees om iets te se. Hoop net nie hulle kry borgtog nie en kom weer terug nie.

Jr ·

30% persent dom. Maar 30 % is n distinction. Hierdie twee het minus 30% gekry

Swerwer ·

Ai ai, dit is ‘n lekker ou Suid Afrika hierdie. Boosdoeners roof eiendom so haastig en so lastig, boosdoeners kom weer om die onskuldige einaars te vererg want die ANC is aan bewind en hul kan nie langer wag nie. Mag hul boet vir hul dade

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.