Rowers ʼn dekade later gevonnis

Argieffoto

Drie gewapende rowers is verlede week uiteindelik gevonnis – sowat tien jaar nadat hulle in hegtenis geneem is vir misdade destyds gepleeg in Mthatha in die Oos-Kaap.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, sê in ’n verklaring Sabelo Malgas (36) en Mncedi Mondliwa (33) is Vrydag elkeen 30 jaar tronkstraf in die plaaslike landdroshof opgelê, terwyl Andile Maguma (39) tot 15 jaar tronkstraf gevonnis is.

Dié vonnisse hou verband met tien gewapende rooftogte wat destyds op die dorp plaasgevind het.

“Die trio het ʼn reeks aanvalle in en rondom Mthatha van Januarie 2010 tot en met hul inhegtenisneming in Maart daardie jaar uitgevoer. Hulle het sakelui geterroriseer en gewelddadige huisrooftogte gepleeg,” sê Mogale.

Luidens die verklaring was die verdagtes ten tyde van hul inhegtenisname in besit van drie onwettige vuurwapens en ammunisie.

Lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, het die vonnisse verwelkom.

“Hierdie saak is die afgelope tien jaar al op die hofrol. Die uitspraak en vonnisse van die drie veroordeeldes word verwelkom. Met die afhandeling van dié saak is die werklas op die ondersoekspan nou ook ligter en kan hulle op ander sake fokus wat net so veeleisend is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hennie ·

Spoedige regspleging is tog maar net ‘n Westerse begrip.

Jakes ·

Hierdie vonnis wat 10 jaar later opgele is, moet sekerlik n rekord wees. Was die verdagtes heeltyd verhoorafwagtend? Indien wel, sal hulle dan net vir n kort rukkie tronkstraf uitdien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.