RPO kap terug oor vleisbewering

Foto ter illustrasie. (Argieffoto)

Die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) het teruggekap ná ʼn TV-onderhoud Woensdagoggend waarin aangevoer is dat 41% van kweekhuisgasse deur vleisproduksie veroorsaak word.

ʼn Oproep is ook op verbruikers gedoen om minder vleis te eet.

Corine Steyn, skakelbestuurder van die RPO, sê egter dat die bewering op verouderde statistieke berus en dat die organisasie intussen veel meer navorsing gedoen het – en dat dit ʼn heel ander prentjie skets.

“Dit is kommerwekkend dat die statistiek wat tydens die onderhoud gebruik is, gegrond is op eerstewêreldnavorsing en nie die nuutste plaaslike statistiek wat nou reeds beskikbaar is nie.

“Die RPO is betrokke by Rooivleisnavorsing en Ontwikkeling SA (RMRD‑SA) se sentrum van uitnemendheid, wat gesetel is binne die rooivleisbedryf en wat spesifiek werk met verbruikers en volhoubaarheid.

“Ons is ook verteenwoordig binne die kundige sentrum van die Internasionale Vleissekretariaat (IMS), wat navorsing doen oor die koolstof- en watervoetspoor. Dié navorsingstukke is beskikbaar en dit is ook waarop ons verbruikersopvoeding gegrond is.

“In die onlangse verlede is agt verwante navorsingsprojekte oor die koolstof‑ en watervoetspoor afgehandel, met twee bykomende projekte wat aan die gang is.”

Steyn sê die kwessie kry deurlopend aandag by die RPO en die organisasie sal vra dat ʼn  opvolgonderhoud op Die Groot Ontbyt, waar die oorspronklike onderhoud gevoer is, hieroor gevoer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Henri ·

Die sogenaamde ‘wetenskaplikes’ vergeet gerieflikheidshalwe hoeveel herbivore, of herkouers, het so min as 150 jaar gelede oor die hele planeet geleef en ‘kweekhuisgasse’ vrygestel. Die olifant in die kamer is die mens se bevolkingsontploffing die afgelope 100 jaar.

Andre ·

Lank, lank gelede, het ek ook gedink alle wetenskaplikkes is eerbaar en slim.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.