Wêreldbeker mees gekykte rugbytoernooi ooit

Die eindstryd tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland (met Suid-Afrika wat vir ʼn rekord vierde keer die Webb Ellis-trofee omhoog gehou het) was uiteindelik die kersie op die TV-koek. (Foto: Matthieu Mirville/DPPI/AFP)

Harte is gebreek, helde het verrys – en miljoene mense het vasgenael voor die kassie gesit vir rugby se grootste skouspel; só vasgenael was hulle, dat die afgelope Wêreldbekertoernooi in Frankryk alle vorige rugbykyksyfers oortref het.

Die toernooi het vir altesame 1,3 miljard kyk-ure op alle lineêre (m.a.w. dit word ingevolge ʼn vaste skedule uitgesaai) en nielinieêre uitsendings gesorg.

Dit is 30% meer as die toernooi in Engeland (die laaste toernooi in die noordelike halfrond) en 19% meer as die kyk-ure vir die toernooi in Japan (1,11 miljard kyk-ure).

Wêreldrugby sê die groei in die kykergertalle vir mansrugby is ʼn aanduiding van die toernooi se gewildheid en relevansie in ʼn hoogs mededingende vermaaklikheidsmark.

“Die 2023 Wêreldbeker was ʼn fantastiese toernooi op en van die veld en ons is in ons noppies om te sien dat die spannende skouspel wat deur miljoene mense in Frankryk geniet is, ook die harte van miljoene meer wêreldwyd verower het,” sê Alan Gilpin, hoof van Wêreldrugby.

“Namate ons sport aanhou groei en nuwe markte bereik, wil ons met ons uitsaaivennote bly saamwerk om die kykerservaring te verbeter – veral vir nuwe gehore – en ons help om die visie, om rugby ʼn internasionale sport vir almal te maak, te bereik.”

Toernooigasheer Frankryk het die hoogste kykerstal gehad – sowat 481 miljoen kyk-ure – ondanks die nasionale span se vroeë vertrek in die kwarteindrondes.

Agt van die 11 markte wat ondersoek is, het sedert 2015 sterk groei in kyk-syfers ondervind, weereens ondanks ʼn daling in lineêre TV-gewildheid wêreldwyd en saamgestelde mededinging in die vermaakaanbod.

Die Verenigde Koninkryk (VK) se kyk-syfers het amper die 2015-rekord – van 371 miljoen kykers – oortref. Engeland het in daardie jaar boonop die toernooi aangebied. Wêreldrugby sê dit is ʼn besonderse mylpaal as in ag geneem word dat algehele lineêre TV-kyksyfers in die VK oor dieselfde tydperk ʼn daling van 27% ondervind het.

Groeiende kykergetalle is ook in ontluikende rugbymarkte soos Duitsland (15,2 miljoen), Italië (16,1 miljoen) en die VSA (11,1 miljoen) aangeteken waar die gewildheid van rugby toeneem.

In Duitsland het kyk-syfers met 27% gegroei, in Italië was daar ʼn 70%-toename en in die VSA ʼn toename van 136% wanneer die kyk-syfers met dié van die 2015-toernooi vergelyk word.

(Foto: Franck Fife/AFP)

Die eindstryd tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland (met Suid-Afrika wat vir ʼn rekord vierde keer die Webb Ellis-trofee omhoog gehou het) was uiteindelik die kersie op die TV-koek. Dié wedstryd het die hoogste kyker-getalle van enige wedstryd behaal; die finaal het vir 94 miljoen kyk-ure gesorg, gevolg deur die kwarteindstryd tussen Frankryk en Suid-Afrika wat vir 69 miljoen kyk-ure verantwoordelik was.

Wêreldrugby sê hy het met verskeie vennote hande geneem om te verseker die toernooi is toeganklik vir soveel as moontlik rugby-aanhangers in soveel as moontlik verskillende markte.

Uiteindelik was ongeënkripteerde uitsendings (free-to-air) verantwoordelik vir 85% van alle internasionale kykersgetalle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.