Rural gooi sy sonkrag weg soos Eskom vra

Een van Rural Maintenance se sonplase in die Vrystaat. (Foto: Verskaf)

Die private maatskappy Rural Maintenance vergader Vrydag met amptenare van Eskom om ʼn middeweg te probeer vind nadat die maatskappy se hofaansoek om nie beurtkrag toe te pas nie wanneer hy self genoeg krag kan lewer om die ligte aan te hou, van die hand gewys is.

Rural kan bedags wanneer die son skyn danksy die opwekkingskapasiteit op sy sonplase self genoeg krag aan sy kliënte op Frankfort in die Vrystaat lewer sónder om die gewraakte beurtkrag toe te pas. Die sonplase is in die private besit van boere, sakeondernemings en inwoners en Rural het ʼn 25 jaar lange kontrak om die verspreiding van krag namens die Mafube-munisipaliteit te bestuur.

Rural het vroeër ʼn dringende hofsaansoek ingedien met die versoek dat hy wil voortgaan om sy eie beurtkragstelsel te bestuur en die ligte aan te hou met die krag wat deur die gemeenskap se sonplaas opgewek word. Dít nadat Eskom daarop aangedring het dat die beurtkragstelsel bly geld.

Die Johannesburgse hooggeregshof het Rural Free State se aansoek egter van die hand gewys. Dit beteken hy word verbied om die ligte (met sy eie sonkrag) tydens beurtkrag aan te hou of voort te gaan met die proses wat as “voiding” bekend staan. (“Voiding” is die gebruik van alternatiewe energiebronne, wat nié van die staat afkomstig is nie, om te vergoed vir kragtekorte soos tydens beurtkrag.)

ʼn Dag ná die uitspraak het Rural die “voiding”-proses opgeskort en die ongebruikte sonkrag wat hy opwek begin weggooi sodat hy – soos Eskom vereis – beurtkrag kon toepas.

Selfs al is daar dus bedags genoeg private krag om aan inwoners se behoeftes te voldoen tydens beurtkrag, word die krag ingevolge die beurtkragskedule afgeskakel.

Talle mense het woedend op Eskom se houding gereageer. “Hou op lieg vir die mense, Eskom. Julle sukkel om krag te lewer. Ander maatskappye kan ʼn diens lewer wat julle nie kan nie,” het een sosialemediagebruiker geskryf.

“Hoekom sleep julle nie julself hof toe oor die misdade wat julle teenoor die hele land pleeg en oor al die Suid-Afrikaners wat julle in die steek nie?” het nog ʼn gebruiker gevra.

Nog iemand wil weet indien daar dan ʼn alternatief is om die uitwerking van beurtkrag te verminder, hoekom Eskom dit nie wil gebruik nie. “Is dit omdat julle nie meer geld daaruit kan steel nie?”

Duidelikheid nou nodig

(Foto: Rural Maintenance)

Eskom het ná die hofuitspraak aangevoer Rural kan nie beurtkrag in die geheel opskort nie, omdat sy eie opwekkingskapasiteit nie genoeg is om in die volle vraag na krag te voorsien nie. Hiermee stry Rural nie en die maatskappy sê wanneer sy sonplase inderdaad nié genoeg krag kan lewer nie, word beurtkrag soos gewoonlik in werking gestel.

Eskom voer ook aan Rural is welkom om sy sonkragaanleg te gebruik om die uitwerking van beurtkrag te verminder. “Eskom het geen beswaar hierteen nie; inteendeel, ons verwelkom self-opwekking.”

Dit is egter onduidelik hóé Rural die uitwerking van beurtkrag kan verminder, as Eskom weier dat hy die “voiding”-proses gebruik.

Rural meen duidelikheid oor wat as “verskaffing” en wat as “lading” beskou word, gaan uiteindelik die deurslag moet gee oor hoe die negatiewe uitwerking van beurtkrag self teengewerk kan word.

Chris Bosch, uitvoerende hoof van Rural Maintenance, sê as elke dorp in Suid-Afrika – oor 257 munisipaliteite heen – ʼn sonkragopwekkingsaanleg op die been kan bring om Eskom tydens daglig-ure te help om die las te verlig en sy reserwes op te vul, moet dit mos as ʼn oorwinning vir almal beskou word.

“Die kwessie waarvoor ons ʼn oplossing soek is nie ingewikkeld nie. Nuwe opwekkingskrag word op die netwerk geplaas om Eskom se gebrek aan verskaffing teen te werk en die las op Eskom te verlig terwyl hy in ʼn permanente staat van noodbeurtkrag is.

“Ons plaas geen onnodige las op die Eskom-netwerk nie,” sê Bosch.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

47 Kommentare

Agge nee ·

Hoe kranksinnig is dit? Ons land verswelg in beurtkrag en Eskom dwing Rural om hulle ekstra krag weg te gooi.

Harley Davidson ·

Dit is die groot probleem ons het nie ‘n land waar ons ons self kan regeer nie want sou ons ‘n land gehad het sou ons nie beurtkrag gehad het nie.

Leona ·

Beste van alles is dar Rural nie verder gaan en dit met menseregte skending aanvat nie. Dit is die mense se geld. Eskom het niks uit te waai met hoe daar krag voorsien word nie. As iemand in die Konsistusionele wette kan wys dat dit nie mag gebeur nie, dan msk dit sin. Hoekom toestemming vra as mens dit self kan doen.

SwartBees ·

As ESKOM (aka ANC aka MAFIA) nie geld in sy sak kan steek weens korrupsie nie dan stel hulle nie belang nie.

Witbaard ·

Regering gaan sy bes probeer om privaat opwekking te verhoed want dan raak die trog waaruit hulle vreet te klein

domheks ·

Gedog die nuwe mini-ster sal krag voorsien. Maar as ‘n plek krag genereer mag hulle dit nie gebruik nie! Siek soos cANCer!!!

Martie ·

Dis maller as mal
Eskom sou seker gelukkig wees as hulle al die “oortollige” elektrisiteit kon kry – natuurlik verniet ook daarby.
Hulle wil mos hê mense (en besighede) moet hulle oortollige krag terugstoot in die kragnetwerk in.

JvR ·

Daar sit meer agter beurtkrag as krag onderbrekings. Wanneer sa die mense dit besef? Eskom is net n scapegoat

JvR ·

Jy weet die grootste gedeelte van die “moderne wereld” het een of ander vorm van “energie krisis”? Kyk hoeveel oorsese youtube advertensies is daar vir sonpanele en inverters ewe skielik

Eugene ·

Gaan Eishkom nou my gennie ook kom afsit as daar beurtkrag is……….wonder maar net

Moedeloos ·

Daar is seker iemand binne ESKOM wat baatvind by beurkrag of privaat krag verkoop wat hul goue neseier gaan moet prysgee.

Joseph ·

Eskom is siel siek en magverslaaf. Kan nie hanteer dat iemand sonder hulle kan klaar kom nie. Beurtkrag is op beste van tye ‘n groot bedrog spul.

Anel ·

Dit is komunisme vir jou. As een swasr kry moet almal. Een mag nie beter wees as die ander nie. Een mag nie harder werk en daar volgens vergoed word nie. Almal moet dieselfde vergoed word. So, as ek nou ‘n gasstoof gebruik tydens beurtkrag mag ek nie want my bure het nie een nie. Wonder wanneer daardie tor uit gebroei het!!!!

Madeleine ·

Beurtkrag is polities en geld gedrewe, nie veel met krag te doen nie. Ek se dit nog can die begin af.
Eskom gee lieg verskonings oor hoekom ons nie krag het nie. Skrik wakker!!

Meerkat ·

Eskom is Jaloers, want almal begin nou planne maak. En Eskom kan nou minder geld onder deur die tafel verdien.

Errol ·

Die “Powerships” is baie moontlik deel van die storie. Die regime kan nie wag om die skepe hier te kry teen baie groot koste vir ons belasting betalers.

Johan ·

Die “hofbeslissing” behoort op hersiening geneem te word. Trek ‘n JZ stance op Eskom.

Cherokee ·

Iets in hierdie berig is onverstaanbaar.
Dit kan nie wees soos geskryf, dat hulle nie beurtkrag mag omseil met hul eie kragvoorsiening nie.

Manie ·

Dit is presies so, Eskom reken dat Rural wel battery gestoorde krag mag gebruik tydens beurtkrag, maar nie direk in die netwerk mag terugstoot tydens beurtkrag sonder battery rugsteun nie, aangesien die direkte terugstoot van krag blykbaar hulle netwerk benadeel.

Francois ·

Wat ek hier lees, is dat die land se elektrisiteit-probleme doelbewus geskep word, en dat oplossings inderwaarheid onwelkom is.

Kook, paddas, kook! (met apologie aan Cyril Ramaphosa).

Kokkies ·

So, as ek geld gehad het om sonpanele op te sit, mag ek seker ook nie vir my buurman krag voorsien tydens beurtkrag nie. Die Johannesburgse hooggeregshof wat dit so beslis het, moet ook ondersoek word vir korrupsie.

Papsak ·

Komministiese land want terrosiste regeer ons ons het nooit meer krag of water nie so want hierdie dom onnooslike goed wil ons mos nou dwing om te doen wat hulle wil he so regeer ons water nooit water deur die nag en krag ook so hulle sit aan en af soos dit hulle pas klomp siek breinlose idiote

Vanessa ·

ESKOM se hoofdoel is om die land te verarm, niks en niemand gaan in hulle pad staan om die doel te bereik nie. Geen hulp sal aanvaar word nie, want dit gaan hulle planne in die wiel ry. So asb. hou op om hulp te verleen waar dit nie benodig word nie.

Sorg vir jouself, want realiteite is dat die land binnekort sy g…….. gaan sien!!! Dis duidlik soos daglig.

jmboonzaaier ·

Nou verstaan ek nie so mooi nie. Met beurtkrag probeer evkom om verbruik te verminder omdat hulle te min het om te versprei. Rural verlig mos die las op die netwerk tot voordeel van die vraatsugtiges! Moet huise met sonpanele of kragopwekkers ook beurtkrag toepas?

Anon ·

Klap die onnosel regter teen die kop sodat hy/sy bykom. Waar in jou lewe het jy gehoor beurtkrag SAL afgedwing word al genereer jy jou eie krag. Dit is ‘n siek, ongrondwetlike, bose daad wat elke landsburger se minagting en teenstand verdien. M.a.w ons word GEKONDISIONEER om Nuwe Wêreld Orde beheer te aanvaar. Dit is presies wat dit is. Heidense gemors.

RudWolf ·

Eskom se eise is onrealisties en belaglik! Dit het’n negatiewe impak op die Suid-Afrikaanse gemeenskap Dit is belangrik dat Eskom verantwoordelik en billik optree om ‘n stabiele elektrisiteitsvoorsiening vir die land te verseker.

Miskruier ·

Ek betaal daagliks R100 aan Eskom net vir die voorreg om krag op die plaas te hê. Die rekening stipuleer die hoeveelheid dae aangeslaan. Met Loadshedding 6 verloor ek elke tweede dag n hele dag waarvoor ek betaal het. Die verhoging was ook nie net op die kilowatt gebruik nie, ook die daaglikse koste het verhoog. So sonder dat ons een kilowatt gebruik het begin die rekening by R3100 per maand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.