Rustenburg-raadslede skuld meer as R4 miljoen

(Argieffoto: Steve Buissinne/pixabay)

Die VF Plus in die ANC-beheerde Rustenburgse munisipale raad, het verlede Vrydag ʼn mosie ingedien wat die munisipaliteit gebied om agterstallige munisipale skuld van meer as R4 miljoen van plaaslike raadslede in te vorder.

Die mosie volg op ʼn verslag oor raadslede se munisipale skuld wat by die raad ingedien is. Uit die verslag is dit duidelik dat die munisipaliteit reeds vir ʼn geruime tyd versuim om agterstallige munisipale skuld by raadslede in te vorder.

“Dit blyk duidelik dat verskillende stelle reëls vir inwoners en belastingbetalers en wanbetalende munisipale raadslede geld,” sê Annemarie de Beer, VF Plus-raadslid in die munisipaliteit.

Ingevolge die toepaslike munisipale wetgewing mag raadslede nie agterstallige munisipale skuld vir ʼn periode van langer as drie maande hê nie.

Raadslede word ook wetlik verplig om hul korrekte woonadresse, asook van enige ander eiendomme wat hulle besit, by die speaker te verklaar.

“ʼn Groot aantal raadslede het versuim om dit te doen en dit het ʼn ondersoek deur die munisipaliteit geverg om die werklike uitstaande skuld van raadslede te bepaal.”

Uitstaande rekenings wissel van R1 000 tot R 206 000.

Die VF Plus eis in die mosie dat die invordering van munisipale skuld konsekwent en streng in terme van die munisipaliteit se invorderingsbeleid gedoen word.

“Hierdie beleid bepaal onder meer dat tussen 20% en 50% van die uitstaande skuld onmiddellik betaalbaar is met die balans wat oor ʼn tydperk van ses tot 18 maande gedelg moet word. Dit blyk dat ʼn groot aantal raadslede die invorderingsbeleid wil omseil en op voorkeurbehandeling wil aandring met gunstiger afbetalingsvoorwaardes. Dit is ʼn skande dat hulle dit enigsins oorweeg om hul politieke ampte te misbruik ten koste van belastingbetalers.”

De Beer sê die VF Plus sal bly stry vir ʼn skoon munisipale administrasie in ʼn korrupsievrye omgewing in Rustenburg. “Die inwoners van Rustenburg en Marikana verdien beter as die ANC.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Gerrit Johannes ·

Hoeveel raadslede in Rustenburg, wat so ‘n groot bedrag skuld?

Annelize ·

Glo my, hier is ‘n klein huisie vol Raadslede. En die een beteken minder as die volgende een.

Wondermaarnet ·

Die kaders weet mos die skuld gaan afgeskryf word, daarom speel hulle vir tyd.

Ronél ·

Leef in die vettigheid van belastingbetalers se geld, maar ons dorp van uitmekaar uit………..vuil, min tot geen water…….

Di ·

Hulle glo mos hulle moet alles verniet kry! Tipiese kader mentaliteit. Kyk maar na die spul in beheer van die land, kry alles verniet en ‘n massiewe salaris. Tot hulle tuinwerkers en huishulpe word met ons belasting betalers se geld betaal

Marcello ·

VF-Plus, looi hulle, dit is onregverdeig dat hulle, hulle politieke posisies gebruik, om hul dienste nie te betaal nie. As ons as die publiek agter raak, sny hulle jou gou=gou af. Wat geld vir die publiek, geld ook vir die Raadslede.

Theuns ·

Ramaposa se spul Cadres se mentaliteit…. oneerlikheid vereiste no 1. Sal hul oiers se kos eet sonder on 2 keer te dink.. die leier stel geen voorbeeld.
Amptenare moet afgedank word want hul kry sekerlik bribes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.