SA ekonomie op herstelpad – Ramaphosa

Werksgeleenthede is hoofsaaklik geskep in sektore soos gemeenskap- en maatskaplike dienste, finansies en konstruksie. (Foto: pixabay)

Die Suid-Afrikaanse ekonomie toon bemoedigende tekens van herstel en veral die jongste indiensnemingsyfers is rede tot optimisme, sê pres. Cyril Ramaphosa in sy jongste nuusbrief.

Suid-Afrika steier die afgelope paar jaar onder trae groei en stygende werkloosheid en die ekonomiese situasie is vererger deur die verwoestende Covid-19-pandemie, verlede jaar se gewelddadige oproer en kwaai oorstromings vroeër vanjaar.

Volgens Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) was daar ʼn afname in die werkloosheidskoers en die werklike getal mense wat in diens geneem is, het van 14,5 miljoen mense in die vierde kwartaal van verlede jaar, tot 15,5 miljoen mense in die tweede kwartaal van vanjaar toegeneem.

“Dit is ʼn bemoedigende styging in broodnodige werksgeleenthede oor die eerste helfte van die jaar,” sê Ramaphosa.

Werksgeleenthede is hoofsaaklik geskep in sektore soos gemeenskap- en maatskaplike dienste, finansies en konstruksie.

Ramaphosa sê die ekonomiese rekonstruksie- en herstelplan is deur reuse- openbare indiensneming, ekonomiese hervorming en infrastruktuurontwikkeling, ook besig om vrugte af te werp.

Die Februarie-begroting het ʼn 30%-toename in openbare besteding op infrastruktuur oor die volgende drie jaar ingesluit; dit staan nou op R812 miljard, in vergelyking met die R627 miljard oor die vorige drie jaar.

In Junie vanjaar het die ekonomie eindelik weer ʼn voor-pandemievlak bereik, hoofsaaklik danksy ʼn goeie BBP-uitkoms in die eerste kwartaal. Die groei kom van ʼn betreklik lae basis en die regering gaan voort met sy fokus op strukturele hervorming om groei aan te spoor, sê die president.

Verlede week het die regering ʼn voorgestelde wysiging bekend gemaak om die lisensiëringsdrempel vir kragopwekkingsfasiliteite te verwyder en belegging in groter opwekkingskapasiteit aan te moedig. “Dit verteenwoordig ʼn groot mylpaal in ons pogings om die land se energielandskap te transformeer. Dit is ʼn kritieke voorvereiste vir ekonomiese groei en die lok van beleggings,” sê Ramaphosa.

Die regering het in Julie ʼn nasionale kragplan aangekondig in ʼn poging om die krisis op te los en Ramaphosa sê die regering werk sedertdien saam met verskeie belanghebbendes om planne in werking te stel en beleid te hervorm.

Nadat die lisensiedrempel in Junie verlede jaar tot 100 MW opgestoot is, is 500 MW se private hernubare kragopwekkingsprojekte geregistreer en projekte wat nog 6 000 MW kan lewer, is in verskillende fases van ontwikkeling.

Ramaphosa erken ook dat ekonomiese groei en werkskepping nie kan gebeur sonder die moeilike, maar nodige strukturele hervorming wat die sake- en beleggingsklimaat gaan verbeter nie. Dít is die regering se werk, sê hy.

“Vir sukses om gewaarborg te wees, moet ons tussen die sakesektor, arbeid en burgerlike samelewing konsensus bereik oor nie net die hervorming wat nodig is nie, maar ook oor watter stappe gedoen moet word om ons doelwitte te bereik.”

Ramaphosa sê terwyl die ekonomie herstel en die hervormingsprogram in werking gestel word, gaan die regering voort met verskeie ingrypings om werkskepping te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

41 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Nee my bra, met die ANC in beheer sal dit nooit gebeur nie. Jou party se beleid is uitgedien. Jou kaderontplooing verskaf werk aan suurstofdiewe wat vir eie belang werk.

Anel ·

Soos om slaggate in grondpaaie met teer te vul. Sê maar verder niks. Leef voort in jou droomwerêld op ‘n ander planeet, pateet!!!!

Rooikopheks ·

Hahahaaa…..ek het dit ook gesien. Maar niemand daar teenwoordig het die verstand gehad om dit te bevraagteken nie.

Heinrich ·

En daar is ook geen slaggate in paaie nie, treine loop mooi veilig, plaaslike regering is funksioneel en gesond en alle boere is veilig op hulle plase. SURE….

Hans ·

Treine? Ek sien nooit treine op spore na Kaap, vanaf Kimberley nie. Miskien loop voorstedelike treine….

Witbaard ·

Rama lewe in sy eie droomwereld. Hy moet die ekonomie meet in vergelyking met hoe dit was toe hulle die land op n skinkbord gekry het. Dan sal hy besef daar is GEEN groei is nie, behalwe die kaders se beursies.

Delia ·

Baie dankie Cyril. Ek glo jou. Ek het gesien hoe maak jy een pothole op die grondpad met teer reg.
Die ekonomie herstel……

Suzette ·

Ag vaderland my oë dop sommer vanself in hulle kaste om – die ou moet liewer stilbly …

SjN ·

Daar sal geen verbetering plaasvind terwyl daar nog steeds onbevoegde kaders in sekere poste sit nie!!

Jacobus ·

Met jou bedenklike geloofwaardigheid is dit ‘n klomp bollie. Wys ons die skuldiges van staatskaping in oranje pakkies – wys die duisternis kaders wat geld verdien vir geen werk, die pad. Vergeet van BEEE – die laaste kriesel geloofwaardigheid en infrastruktuur verdwyn in die afgrond.

Jakes ·

Ag asseblief agbare president. Praat eerder met n bevoegde ekonoom voor jy sulke absurde uitsprake maak. My antie se oom se niggie se skoonmoeder is koningin Elizabeth se dogter.

PieterJ ·

Klink nogal na een van daai tipiese totale leë verkiesingsbeloftes wat ons soooo baie hoor.

almanie ·

Die stadige herstel van dit wat die ANC vinnig opgedons het…….gooi BEE uit en dinge het dalk ñ kans.

Pietertjie ·

Die enigste werksgeleenthede wat deur die Staat geskep word is kader ontplooiing. In meestal oorbodige posisies.

Danny ·

Ja, so praat iemand wat kamma-slaggate herstel in ‘n grondpad.

Johann ·

Net SÓ verwyderd van die waarheid en werklikheid van die gewone mens! Multibiljoenêr agv sy politieke invloed. Weet nie wat kos ‘n brood nie…N bottel olie…Pap meel…Elektrisiteit eenhede…water…die volmaak van sy konfooi karre…

henndrik ·

Moet eerlik wees, as ‘n belastingbetaler ervaar ek nie dieslfde ekonomie waarvan hy praat nie

Koos 100 ·

Komende van ‘n persoon wat die naweek amper R7 mil in sy sak gedruk het. Dit laat my dink aan die feit dat staatsamptenare nie winsgewende werk mag doen nie. Wat maak hom anders????

Swerwer ·

Oe la la as mens darem alles moet glo wat hierdie Regering gorrel……………………….

Nie Verbaas ·

Ramaphosa, jy is of vas aan die slaap of in n dwaling. Dink jy werklik daar is iemand met meer as een breinsel wat jou glo?

Mariana ·

Ek wonder in watter land hy bly. In sy eie rykmanswêreld lyk dinge seker baie anders as ons sn. So moeg vir die ANC en hulle bedrog. Lieg is deel van hul bestaan. Ramapoza moet bietjie uit sy droomwêrel kom en kyk hoe lyk die land werklik.

Boer ·

Die ANC begin vroeg praat vir die 2024-verkiesing, nou nog net vir die gratis KFC en T-hemde dan is dit weer tops.

Anel ·

Dalk kan daar beurtkrag in gestel word dat hulle nie KFC kan maak daardie tyd nie. Wonder wat dan?? Wha, ha, ha!!!

Genis ·

Dream on ou Buffel- as twak praat dollars was, het jy 1000 beddens gehad

Kokerboom ·

Die President is werklik totaal uit voeling met realiteit. Die opsystaan reel moet nou op hom toegepas word

Carel ·

oeeeeeeeeeee; te lekker !! “ons” kan nou weer lekker vreet by die Tender Vreet Trog

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

…en gaan daar sopas ñ helder lig by my op oor hoe die regering werkskep! Maklik, laat toe dat alles verval, dan probeer hulle dit herstel maar word BBBEE toegepas, kader ontplooiing vind plaas en tenders wat vir hulle maaikies bewimpel word en waardeur hulle verryk kan word, word bewerkstellig

Fran ·

Nee wat ou Ramagorrel, as dit dan so wonderlik is hoekom is die Rand swakker by die dag??? Leef weer in jou eie borrelwêreld

Hans ·

As ek die “herstel van ekonomie” meet aan herstel van paaie, dan glo ek niks wat Ramaphosa sê nie.

Watsenaam ·

Ek het nog nooit so n spul onnoseles bymekaar gesien nie. Ons land is ISM.
Ek wonder of honorable vandag se ekonomiese syfers gesien het. Al wat die ou kan doen is lieg Plebs bestorm die Bastile. Hoekom word daar nie n staatsgreep deur die ongelukkiges uitgevoer nie. Die anc verstaan nie wat regering is nie.

quartus ·

Die “reuse openbare indiensneming” beteken seker dat ons staatsdiens nou nog heelwat groter is, en ons nog baie meer aan staatsdiens salarisse sal moet opdok

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.