SA en Rusland: Fokus eerder op probleme tuis

Ian Cameron (Foto: Action Society/Twitter)

“Hou op om Russiese oorlogspeletjies te speel en begin fokus op die bekamping van misdaad in Suid-Afrika.”

Met 84 moorde per dag het die Suid-Afrikaanse regering baie meer dringende kwessies tuis as om by die Rusland-Oekraïne-oorlog betrokke te raak, meen Ian Cameron, die drukgroep Action Society se direkteur van veiligheid.

Pres. Cyril Ramapahosa het vroeër aangekondig dat ses Afrika-leiers beplan om “so gou as moontlik” na Rusland en Oekraïne te reis om te help om ʼn oplossing vir die oorlog te vind.

Te midde van bewerings dat Suid-Afrika wapens aan Rusland verskaf het en die Suid-Afrikaanse leërhoof se besoek aan Moskou, is misdaad in die land buite beheer, sê Cameron.

“Dit is tyd dat die Suid-Afrikaanse regering en president Ramaphosa hul prioriteite begin regkry. Ons benodig dringend ʼn vaardigheidsoudit in die Suid-Afrikaanse Polisiediens, tesame met poligraaftoetse vir alle lede – insluitend leierskap – om van die dryfhout ontslae te raak en die polisiëringsdiens te begin verskaf wat Suid-Afrika benodig. Die verskaffing van wapens en die besoek aan Rusland sal nie die misdaadsituasie hier regstel nie.”

‘ANC kan nie albei kies nie’

DA-leier John Steenhuisen. (Foto: DA/Twitter)

John Steenhuisen, DA-leier, meen intussen die ANC se belyning met Rusland sal ernstige ekonomiese en maatskaplike skade aan Suid-Afrika aanrig, wat miljarde rande se handel met die Weste en honderdduisende werksgeleenthede direk in gevaar stel.

Die bewerings dat Suid-Afrika wapens aan Rusland verskaf het, bring die land se ooreenkoms ingevolge die Amerikaanse wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa) in gedrang.

“Die VSA, Brittanje en die EU is verantwoordelik vir meer as ʼn derde van al Suid-Afrika se uitvoere. Rusland is verantwoordelik vir net 0,3%. Maar deur sy onlangse optrede is dit duidelik dat die ANC stewig in lyn is met Rusland. Dit behoort niemand te verbaas nie, aangesien Russe die ANC finansier.”

Steenhuisen meen die ANC moet kies om deur Rusland ondersteun te word, of om die Suid-Afrikaanse ekonomie te laat herleef deur handelsverhoudinge met tophandelsvennote, wat almal sterk gekant is teen Rusland se inval van Oekraïne, te versterk.

“Die ANC kan nie albei kies nie. Die ANC-regering behoort nou alles moontlik te doen om te verseker dat Suid-Afrika se Agoa-voordele verleng word. As daar nou sanksies moet wees vir die ANC se belyning met Rusland, moet dit teen individuele ANC-leiers wees en nie teen Suid-Afrika nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gerhard ·

Die maatskappy waar ek werk, voer hoofsaaklik uit na die VSA en UK en ek sien al watter enorme impak dit op ons maatskappy gaan he indien sanksies ingestel gaan word teen SA. Dit gaan my en die amper 500 mense wat vir ons maatskappy werk direk raak, dan praat ek nie eers van die derduisende ander mense by ander maatskappye nie. Die ANC moet besef (alhoewel ek dink hulle gee nie om nie) watter impak hulle aksies op elke Suid-Afrikaner gaan he, dit sluit die “our people” ook in.

Republikein in die Wes Kaap ·

Bespreek julle dit met die regime? Wat van hofsake om in te gryp?

Hendrik ·

Ja dit sekerllik reg dat die anc verkwalik word vir hd knelgreep met Rusland, maar ek reken die die probleem is baie groter nl dat dit Rusland is wat die hoofrol speel. Die hele saak is internasionaal verweef. Rusland is besig om sy posisie op sesitiewe plekke te versterk met die oog op ekonomiese belang en n moontlike wo ingeval. Die seeroete om SA is baie strategies. So ook is die seestraat vir China
ts hom en Taiwan strategies belangrik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.