SA het oog op luukse ekstra suiwer olyfolie- mark

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Roberta Sorge/Unsplash)

Suid-Afrika is dalk meer bekend vir sy wyn as sy olyfolie, ʼn gebied waar lande soos Griekeland, Italië en Spanje ongetwyfeld koning kraai.

Maar Suid-Afrika se boere laat hulle nie sommer afskrik nie en het hul oog op ʼn groter aandeel in die aanloklike mark vir topgehalte ekstra suiwer olyfolie.

By Tokara, ʼn plaas sowat ʼn uur se ry van Kaapstad, trek werkers harke deur die takke om die vet olywe tot op die grond te laat tuimel. Die oes van dié groen skat is in volle swang.

“Kan jy die aroma ruik,” vra Gert van Dyk, die plaas se bedryfsbestuurder, terwyl hy ʼn glas vasgeparste olyfolie wat vroeër vanjaar in die VSA ʼn toekenning ontvang het, vashou.

“Jy kan die lekker bitterheid agter in die keel proe. Dan kom die pepersmaak na vore en die agterkant van die keel brand lekker,” sê hy terwyl hy die ligte groen vloeistof soos ʼn wynmeester oor sy tong laat rol.

Die landgoed het oorspronklik in wyn gespesialiseer, maar olie is nou die vlagskipproduk en die plaas bied selfs proesessies aan.

“Ons het werklik buitengewone gehalte olyfolie,” sê Christophe Dehosse, ʼn Franse restaurateur. Toe hy 30 jaar gelede hierheen verhuis het, het maar min mense olyfolie gebruik.

“Baie plase plant nou olywe … daar is werklik geen rede waarom jy olyfolie moet koop wat 10 00 km ver uit Europa kom nie,” sê Dehosse wat vier restaurante in die streek besit.

“Ons kry werklik fantastiese, artisinale produkte.”

Baie modieus

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Emre/Unsplash)

Op sy tafel bied hy ʼn Italiaans geïnspireerde aptytwekker aan van eenvoudige brood, gedoop in olyfolie, wat “uiters modieus” geword het.

En hy gebruik altyd plaaslike geproduseerde olyfolie.

“Ek weet wat ek koop is nie met enigiets verdun nie. Dit is 100% ekstra suiwer olyfolie.”

Die eerste Suid-Afrikaanse olywe is in die vroeë 20ste eeu deur ʼn Italiaanse immigrant, Fernando Costa, gekweek, aldus SA Olive, ʼn bedryfsliggaam vir kwekers en produsente.

In 1998 het Giulio Bertrand, ʼn afgetrede Italianer in Suid-Afrika, 17 variëteite olyfbome ingevoer en dit op sy plaas naby Stellenbosch geplant.

Vandag kweek die Morgenster-plaas olyfbome op 42 ha en miljoene bome landwyd is afstammelinge van Bertrand se eerste olyfbome.

“My oupa was bekend as die vader van olyfolie in Suid-Afrika omdat hy die weg gebaan het vir die olyfoliebedryf soos ons dit vandag ken,” sê Bertrand se 29-jarige kleindogter, Vittoria Castagnetta, wat vir die familieboerdery werk.

Sedertdien het die idilliese Kaapse heuwels, met hul Mediterreense gevoel en golwende wingerde, olywe gelewer wat ver buite die landsgrense vir hul gehalte erken word.

In Mei is ʼn Suid-Afrikaanse olyfolie as die absoluut beste ter wêreld by die invloedryke EVOOLEUM-toekenning in Spanje aangewys.

Die wenlandgoed, De Rustica, benut die voordele van ʼn Mediterreense klimaat.

Links na regs: Ignacio Seguar, ‘n olyfolie-konsultant, en Kallie Frey van De Rustica. (Foto: Verskaf)

Vraag na olie neem toe

Hoewel olyfolie vir talle Suid-Afrikaners ʼn luukse is, het produsente soos Van Dyk die afgelope paar jaar opgemerk dat daar wel ʼn toename in plaaslike gebruik was danksy verbruikers wat ʼn gesonder eetplan probeer volg.

Suid-Afrika produseer nagenoeg twee miljoen liter olyfolie elke jaar. Vergelyk dit met die meer as drie miljoen ton olie wat internasionaal gelewer word, het Suid-Afrika weliswaar nog ʼn lang pad om te stap wat betref mededinging met groot internasionale handelsmerke.

Vorderding in die luukse oliebedryf is egter “een van die dinge waarop Suid-Afrika werklik trots kan wees. Nes ons wyn moet dit nog net ontdek word,” sê Dehosse.

Suid-Afrika vorder reeds goed om hom vir die uitvoermark te posisioneer terwyl sommige van die wêreld se tradisionele produsente in Europa die wind van voor kry weens droogtes en die een hittegolf op die volgende.

Lae uitset wat veroorsaak is deur klimaatsrampe het die prys van olyfolie die afgelope paar maande beduidend opgejaag. In Januarie verlede jaar het olie teen sowat €3 500 per ton (sowat R73 500) verhandel – ʼn prys wat vandeesmaand tot €5 800 (sowat R122 000) opgeskiet het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Kook eerder met koudgeperste olyfolie as met die karsogeniese goedkoper soorte wat teen hoë hitte uit uitgebasterde onkruid gefabriseer word. Botter en olyfolie braai in ‘n pan teen ‘n laer hitte geregte met ‘n mooi bruin kleur en ‘n heurlike neutagtige geur… Hmmm….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.