SA kan nié nog ʼn vakansiedag bekostig

(Argieffoto: Wikimedia Commons)

Die private beleggings-en-welvaartbestuursmaatskappy Everest Wealth sê die vooruitsig van ʼn bykomende openbare vakansiedag is dalk vir baie Suid-Afrikaners iets om oor opgewonde te raak, “maar die land se ekonomie kan dit eenvoudig nie bekostig nie”.

Pres. Cyril Ramaphosa spreek vanaand omstreeks 20:00 die nasie toe nadat hy verlede week oorval is met boodskappe waarin hy versoek is om ʼn nasionale vakansiedag te verklaar, sou die Springbokke as oorwinnaars uit die Wêreldbeker-rugbytoernooi tree.

Daar word nou verwag dat Ramaphosa vanaand sal aankondig of Suid-Afrikaners tog hul bykomende openbare vakansiedag gaan kry ter viering van die Springbokke se oorwinning in Frankryk.

Riaan Grobler, hoof van adviesdienste by Everest Wealth, sê ʼn bykomende openbare vakansiedag sal uiteraard van groot betekenis wees, maar sal die land se ekonomie duur te staan kom.

“Die ekonomie is op sy knieë weens die voortdurende beurtkrag, asook vervoer-, logistiek- en infrastruktuurprobleme. Suid-Afrika kan nie bekostig om ʼn enkele dag aan produktiwiteit af te staan nie.”

Grobler sê Suid-Afrika verloor jaarliks produktiewe dae weens stakings én miljarde rande per dag wanneer die ekonomie tot stilstand kom.

Suid-Afrika het vanjaar reeds 14 openbare vakansiedae weens twee vakansiedae – Nuwejaarsdag en Erfenisdag – wat op ʼn Sondag geval het en dié vakansiedae dus op die daaropvolgende Maandae waargeneem is ingevolge die Wet op Openbare Vakansiedae.

(Foto: @Springboks/X/Twitter)

“Die mense wat nie op ʼn vakansiedag werk nie, moet steeds betaal word. Werkgewers sal ook oortydvergoeding moet opdok vir mense wat wel werk. As ʼn vakansiedag op kort kennisgewing aangekondig word, het werkgewers ook nie genoeg tyd om daar rondom te beplan ten einde te verseker dat alles afgehandel of voor voorsiening gemaak word nie.”

Grobler wys dan daarop dat daar al talle oproepe was dat Suid-Afrika se aantal vakansiedae inderwaarheid verminder word of dat ʼn vakansiedag wat op ʼn Sondag val juis nie op die daaropvolgende Maandag as ʼn betaalde vakansiedag waargeneem word nie.

“Daar word dikwels aangevoer dat ʼn vakansiedag ekstra besteding bevorder in die vorm van kleinhandelverkope, toerisme en die gasvryheidsbedryf. Suid-Afrikaanse verbruikers trek egter noustrop te midde van nog ʼn moontlike rentekoersverhoging, hoë brandstofpryse en skerp prysstygings in items soos vervoer, elektrisiteit en kos. Besteding neem as gevolg daarvan ook af.

“Die land staan voor ʼn geldkrisis en daar is reeds aanduidings dat belastinginkomste nie vanjaar aan die regering se teikens gaan voldoen nie.”

Grobler meen Ramaphosa behoort eerder te oorweeg hoe die ekonomie kan groei ten einde werkskepping en welvaart te bevorder.

“Indien die regering ernstig daaroor is om enige potensiële ekonomiese herstel te bewerkstellig, moet daar dringend opgetree word. Die regering moet eerder daarop fokus om hervormings in te stel om die land se logistiek- en energiebeperkings uit die weg te ruim sodat die ekonomie kan groei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Johann ·

Gaan nie oor RSA nie….gaan oor die ANC wat NOG n verkiesings foefie op die belastingbetaler se rekening finansier.

Gert ·

cr het gesê dat die volgende dag n vakansiedag kan wees, Sondag is mos n vakansiedag.
Wat gaan hy dit noem bokdag of puntdag.

JJB ·

Ons kan amper nie meer ons werksdae bekostig nie! Laat staan nóg ‘n vakansiedag…

007 ·

Daar is paar vakansie dae wat hulle kan wegvat, Herenigingsdag, Nelson Mandela dag, jeug dag, kan aan nog ‘n paar dink.

Truman Burbank ·

Hulle kan almal wegvat. As jy iets wil vier, sit verlof in.

otter ·

kannie kyk nie want jou mense by eskom sit die kraf af…. al weet ons dat krag vollop is !

Marina ·

Ek stem 100% saam met Johann. Pleks hulle los die vakansiedae en gee vir ons KRAG!

Christo ·

En daar loop skree julle almal vir die bokkies en hoop om n vakansiedag te kry. Sal julle leer om alles wat CR se, vir soetkoek op te vreet.

blia ·

Ag asseblief. Niemand het vir die bokke geskree oor belofte van ‘n vakansie dag nie. So as Ramaphosa niks gesê het nie, sou die bokke nie ondersteuners gehad het nie? Jy is mos nou belaglik.

Republikein in die Wes Kaap ·

blia, daar is mense wat geweet het Ramaphosa sal sukses tot sy voordeel gebruik. Jou span het dalk met een punt gewen, maar die ANC kry 20 punte ekstra.

Josua ·

Hulle het mos n houvas op die diesel en petrol prys so R5 pl einde Desember verhoging sal mos opmaak daarvoor want “almal” kry mos bonus in Desember?

Antonk ·

Of cr n vakansiedag gee of nie gaan die mense eenvoudig net een vat,want hulle boek net afsiek.Hulle doen dit nog al die jare.

trotsNAMSA ·

Die land het die meeste vakansiedae, val die dag op ‘n Sondag dan kry SA’ners nog ‘n dag ! Waarom dan ook nie as ander sport wenners teen ander lande wen, nog dae afgee vir die lui SA’ners ? Wat as Mej. SA of watter ook Mejuffrou wen, nog dae afgee ? Al die vakansie dae is onnodig, gaan werk of word siek of neem verlof. As hierdie land ook so opgewonde kan wees oor hul geloof / kultuur !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.