SA onder top-10-lande met slegte gesondheidsgewoontes

(Foto: Adam Smotkin / Unsplash)

Suid-Afrika is onder sommige van die voorste lande wêreldwyd wat ongesonde leefstylgewoontes betref.

Die webblad MedicalAid.com, wat die premies en dekking van ʼn groot verskeidenheid mediese fondse in Suid-Afrika vergelyk, het onlangs die bevindings van sy studie oor dié slegte gewoontes wat ook skadelik vir jou gesondheid is, bekend gemaak.

Kos, drank en die voorkoms van seksueel oordraagbare siektes is van die grootste sondaars wat aan Suid-Afrika die tiende plek op die ranglys van 50 lande met die slegste gesondheidsgewoontes ter wêreld besorg het.

Die studie het na vyf gewoontes gekyk wat uiters nadelig is vir menslike gesondheid: ’n Oormatige gepeusel wat tot vetsug lei, die versuim om te oefen, oormatige alkoholverbruik, rook en die oordrag van seksueel oordraagbare siektes per 100 000 mense van die bevolking.

Dit is gewoontes waaraan menige Suid-Afrikaner klaarblyklik skuldig is.

Die data van die vyf risikofaktore is hoofsaaklik van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) verkry en saamgevoeg om eindelik ʼn telling uit tien aan elk van die 50 lande toe te ken wat in die studie ontleed is. Daar is ook na data van die CIA World Factbook gekyk om onder meer alkholverbruik per kapita te bepaal.

Bulgarye is eerste op die lys en het ook die hoogste rooksyfer. Kort op dié land se hakke is Letland, wat die hoogste telling vir alkoholverbruik in ʼn jaar aangeteken het. Argentinië is derde, gevolg deur die VSA, Litoue, Kroasië, Hongarye, Estland, Duitsland en dan Suid-Afrika, wat ʼn telling van 6,14 uit 10 behaal het.

SA se ‘slegste gewoontes’

Volgens die studie is 38% van Suid-Afrikaners fisiek onaktief, met ʼn vetsugkoers van 28,3%.

Die WGO het in September verlede jaar voorspel dat Suid-Afrika se vetsugkoers teen 2025 tot 47% onder vroue en 23,3% onder mans sal toeneem.

Die voorkoms van seksueel oordraagbare siektes blyk die hoogste in Suid-Afrika te wees, met 37 273 infeksies per 100 000 mense. Dit is 294% hoër as Israel, wat die laagste koers vir seksueel oordraagbare siektes aangeteken het (9 455 gevalle per 100 000 mense.)

MedicalAid.com waarsku in sy bevindings dat dié siektes boonop blywende gesondheidsgevolge kan inhou, terwyl die WGO se data wys meer as ʼn miljoen mense doen daagliks ʼn seksueel oordraagbare siekte op – en dít het weer ʼn beduidende uitwerking op seksuele en reproduktiewe gesondheid.

 

Volgens data van die CIA World Factbook was Suid-Afrika se skoon alkoholverbruik in 2019 altesame 7,21 liter per kapita, wat bier, wyn en ander sterk drank soos brandewyn insluit.

In 2020 het die rookkoers op 20,3% per kapita gestaan en die meeste rokers was mans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Stofdonkie ·

Ons gaan maar net harder moet werk daaraan. Ek voel ek het my kant gebring, maar op my salaris kan ek ook net soveel drink in ‘n maand.

KatjieDeKat ·

As ek so kyk na die mense vd klein plattelandse dorpie waar ek woon is vetsug op n veel groter persentasie. Een uit elke 2 mense bo die ouderdom van so 30 jaar oud, is oorgewig hier.

George ·

Hier ook nie, kyk in enige pnp of spar en jy sien. As ek nie verkeerd is nie, is SA ook nie mees obese land in Afrika.

melaney ·

Wanneer mense moeilike tye deurmaak, begin hulle óf te veel eet, óf vergryp hulle aan drank, ens. Eskom se probleme help ook nie juis nie, en wegneem etes word dan die norm. Die antwoord is dalk om ‘n groter spieël aan te skaf.

Nommer 7 ·

Daarom is beter om vriende te maak met mense wat probleme het. Hulle het altyd drank in die huis.

Sê maar net ·

Sinnelose navorsing. Mense kan self kies. Baie mense het gewigsprobleme a.g.v mediese redes, nie net ooreet en peusel nie. Baie mense kan agv fisiese gestremdhede nie oefen nie, en tel gewig op as hulle net normaal eet. Het hulle dit in ag geneem? Baie mense soos ouer mense, het ‘n laer metabolisme en tel gewig op as hulle nie meer so aktief is nie…Jy het altyd mense in elke land wat lae (of glad nie) morele waardes sal hê nie en wat seksueel oordraagbare siektes sal optel. Rokers sal altyd met ons wees. Dis ‘n persoonlike keuse…. En die lys gaan aan.

Chris dupreez ·

As jy kyk na die SAPD en die Metropolisie dan is dit vir seker so

Johan ·

Dieët is al lankal nie die groot sondebok wanneer dit kom by oorgewig wees en ly aan slegte gesondheid nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.