SA rykes kies al meer hasepad

(Foto: Unsplash)

Hoewel Suid-Afrika steeds die meeste dollarmiljoenêrs op die Afrika-vasteland het, is superrykes besig om die land teen ʼn stink spoed te verlaat.

Luidens die jongste Afrika-welvaartverslag het Suid-Afrika nou 20% minder dollarmiljoenêrs as tien jaar gelede, terwyl Afrika 12% van sy rykste burgers armer is.

Dit beteken daar is tans 37 400 dollarmiljoenêrs, 102 sentimiljoenêrs en vyf miljardêrs in Suid-Afrika oor. Dollarmiljoenêrs het ʼn bankbalans van meer as $1 miljoen terwyl sentimiljoenêrs meer as $100 miljoen sterk is. Miljardêrs is dié wat $1 miljard of meer agter hul naam het.

Egipte het die tweede meeste van die vasteland se rykste inwoners, gevolg deur Nigerië, Kenia, Marokko, Mauritius, Algerië, Ghana, Ethiopië en Namibië.

Top tien rykste lande in Afrika

LandDollarmiljoenêrsSentimiljoenêrsMiljardêrsMiljoenêr-groei tussen 2013 en 2023
Suid-Afrika37 4001025-20%
Egipte15 600527-22%
Nigerië8 200233-45%
Kenia7 20016030%
Marokko6 80032435%
Mauritius5 10015087%
Algerië2 80081-28%
Ghana2 7006026%
Ethiopië2 7004030%
Namibië2 3003032%

(Bron: Afrika-welvaartverslag)

Die verslag wat deur die welvaartadviesfirma Henley & Partners en New World Wealth uitgereik is, volg kort nadat Statistieke Suid-Afrika in ʼn migrasieverslag bekend gemaak het dat die land sedert 2000 al byna een miljoen burgers as gevolg van emigrasie verloor het.

Altesame 18 700 van Afrika se superrykes het sedert 2013 groener weivelde gaan soek – insluitend Elon Musk.

Musk is een van die heel rykste mense ter wêreld, maar is ook een van 33 dollarmiljardêrs wat in Afrika gebore is en nie meer op die vasteland woon nie.

Die meeste van die superrykes woon nou in die VSA, Australië, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde Arabiese Emirate. Baie het ook na Nieu-Seeland en Europese lande soos Frankryk, Monaco en Switserland verhuis.

Slegs 21 van die 33 dollarmiljardêrs wat in Afrika gebore is, woon steeds op die vasteland. Hulle sit op ʼn gesamentlike goudpot van $2,5 triljoen.

Afrika se goue ‘Groot Vyf’

Luidens die verslag is die grootste welvaartmarkte in Afrika dié in Suid-Afrika, Egipte, Nigerië, Kenia en Marokko. Hierdie lande is die tuiste van 56% van die vasteland se dollarmiljoenêrs en meer as 90% van sy miljardêrs.

Johannesburg doen ook sy naam “Goudstad” gestand, aangesien dit steeds die rykste stad op die vasteland is.

Altesaam 12 300 dollarmiljoenêrs en 25 sentimiljoenêrs woon in Johannesburg, gevolg deur 7 400 dollarmiljoenêrs in Kaapstad, Afrika se tweede rykste stad.

Kaïro in Egipte is kort op Kaapstad se hakke, met 7 200 dollarmiljoenêrs. Nairobi in Kenia het 4 400 dollarmiljoenêrs en Lagos in Nigerië 4 200.

Die Kaapse wynlandstreek en die Tuinroete spog ook met heelwat superrykes en is die tuiste van onderskeidelik 3 600 en 3 200 dollarmiljoenêrs.

Altesaam 3 500 dollarmiljoenêrs woon in Durban, Umhlanga en Ballito in KwaZulu-Natal.

Die verslag dui verder aan dat die Jakarandastad 2 100 dollarmiljoenêrs het, terwyl die Kaapse Walviskus1 200 superrykes het.

Duurste stede in Afrika

Suid-Afrika het nie net die meeste ryk inwoners nie, maar ook van die heel duurste stede op die vasteland. Kaapstad, Plettenbergbaai, Hermanus, Umhlanga en Sandton is vyf van die tien duurste plekke in Afrika.

Andrew Amoils, navorsingshoof by New World Wealth, sê Kaapstad behoort Johannesburg teen 2030 as Afrika se rykste stad te onttroon – onder meer omdat baie maatskappye hul hoofkantore na die Moederstad verskuif.

Geldeenhede knou welvaart

Hoewel daar steeds baie rykdom op die vasteland is, sê Dominic Volek, Henley & Partners se groephoof vir private kliënte, dat verswakkings in geldeenhede en swak presterende aandelemarkte Afrika se welvaart oor die afgelope jare geknou het.

Volek het onder meer verwys na die verswakking van die rand teenoor die dollar, wat tussen 2013 en 2023 met 43% verswak het.

“Selfs al het die JSE se indeks van alle aandele in randwaarde gestyg, was dit in dollar 5% laer oor hierdie tydperk.”

Die waarde van die geldeenhede van die meeste ander Afrika-lande het ook die afgelope dekade afgeneem en met meer as 75% teenoor die dollar verswak – in besonder Nigerië, Egipte, Angola en Zambië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

George ·

Dit maak sin though. Met daai rykdom reis jy tienteen een baie, en vlugte van Europa is baie makliker as om vanaf SA te reis.

Republikein in die Wes Kaap ·

Moet net nie saam met hierdie ouens gaan uiteet nie. Jy gaan die rekenings betaal. Hulle het nooit geld beskikbaar nie.

Stofdonkie ·

Met R20m in jou rekening gaan jy beslis nie op ‘n ashoop woon nie. Almal wat dit kan bekostig om uit die misdaad- en beurtkrag geteisterde land te trek gaan dit nog doen. Hulle gaan soek maar lande waar hulle kinders ‘n toekoms kan hê en waar hulle veilig kan voel wanneer hulle winkel toe gaan om whiskey te gaan koop. Mooi so SA, hou so aan, gaan voort met die swart bemagtiging en al die rasse-wetgewing wat mense benadeel, dan sien julle hoeveel geld bly oor in die land. Elke gegoede persoon wat trek, trek met al sy geld ook wat hy sou spandeer by die plaaslike supermark, hardeware winkel en Ster Kinekor. Dan wonder hulle hoekom daar 11 Ster Kinekors is wat nou moet toemaak asook die meer as 130 poskantore. Die land is op die pad van Zimbabwe, maar mense is steeds te slap om te gaan stem teen die kanker wat hulself die ANC noem.

JohanR ·

Ek het nie geld maar as daar ‘n ryke is wat my will saamvat sal ek glad nie kla! Dink net dat jy nooit weer aan die ANC sal hoef te dink nie!

minnie muis ·

en cyril en dlamini zuma is op lys van billionares in africa

Estelle ·

Ek blameer hulle nie. As ek die geld of geleentheid gehad het sou ek dieselfde gedoen het. Geen rooskleurige toekoms vir ons wat agterbly nie. Dis ‘n feit.

JohanR ·

minnie muis – my Pa het 50 jaar gewerk as ‘n werktuigkundige, en het die aarde verlaat nog arm. Ou Cyril kom en 20 jaar later is hy ‘n billionaire. Wat het hy eintlik GEDOEN om daar uit te kom? Ek is seker as jy na sy hande kyk is hulle sag sag sag…..soos Julius sin.

Di ·

Glo my, as ek ook die geld gehad het, was ek LANKAL weg! Wie wil in hierdie kriminele HOOL bly waar die Regering die grootste RASSISTE is! Die meerderheid in die land gaan nog BAIE swaar kry, amper by Zim status. Met boere wat so van hulle plase af gedryf word, wil ek sien waar die miljoene kos gaan kry? Sal almal moet vlug na n ander Afrika land toe.

Andre ·

Mens moet darem die wisselkoers effek ook in ag neem wanneer jy sê dat “Suid-Afrika nou 20% minder dollarmiljoenêrs het as tien jaar gelede”. Die verslag strek van 2013 tot 2023. In 2013 was jy met R10.5 miljoen ‘n dollarmiljoenêr. Einde 2023 moes jy, volgens die verslag, R18.3 miljoen besit om te kwalifiseer. Vermoedelik het ‘n deel van die 20% vermindering dus nie noodwendig in Rand term verarm nie.

kragaap ·

Die vraag is kan mens ‘n regering in Afrika vertrou om so te heers dat jou pensioenfonds en spaargeld veilig sal wees ? Ek persoonlik doen nie, als is oorsee in dollar. Kyk na Zim, ou storie – daar is net twee tipes Zimbabweans, die wat hul geld betyds uitgekry het en die wat dit nie kon regkry nie ….

Papsak ·

Stem reg en dink reg en niemand sal hoef te vlug uit hierdie hool van n land nie SA makeer niks nie net die regte regering en dit sal beter gaan ongelukkig is ek nie ryk nie en moet ek maar hier bly maar ek is ryker as al die biljoeners en miljoeners van SA want ek ken my GOD en verswelg nie weg in rykdom nie ???????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.