SA span gaan weer brande blus in Kanada

Working on Fire besig met brandbestryding (Foto: workingonfire.org)

Die departement van bosbou, visserye en omgewingsake se “Working on Fire”-program ontplooi ʼn span van meer as 200 brandbestryders en bestuur na die Kanadese provinsie Alberta om te help met brandbestryding en vuuronderdrukking.

Dit is die vyfde keer dat ʼn Working on Fire-span na Kanada ontplooi word.

“Ek stuur graag my beste wense aan die span met jul ontplooiing na Kanada om te help om die brande te bestry wat in Alberta woed,” het minister Barbara Creecy in ʼn verklaring gesê. “Julle gaan na Kanada om die Suid-Afrikaanse vlag hoog te hou en julle kundigheid en kameraadskap met kollegas uit ander Kanadese provinsies te deel om lewens, huise, ondernemings en groot gedeeltes plantegroei te red.”

Die versoek vir dringende bystand het gekom van die Kanadese inter-agentskap Bosbrand Sentrum (CIFFC) ingevolge die bestaande memorandum van verstandhouding tussen Kanada en Suid-Afrika. Alberta het hierdie seisoen reeds meer as 550 bosbrande beleef wat aansienlike skade aan eiendom en infrastruktuur veroorsaak het. Duisende mense is dakloos gelaat. Ontruimingsbevele is op verskeie gebiede ingestel.

Die ooreenkoms, wat in 2019 onderteken is, maak voorsiening vir die uitruiling van hulpbronne vir brandbestuur tussen Suid-Afrika en Kanada. Dit is ingestel na aanleiding van twee vorige besendings na Kanada om bosbrande in Alberta en Manitoba te blus.

Die eerste groep van 200 brandbestryders en 15 bestuurders sal Saterdag, 3 Junie, om 13:20 vanaf die Kruger Mpumalanga- internasionale lughawe na Kanada vertrek. Dié groep sal 35 dae lank help om brandbestryders in Kanada te ondersteun. ‘n Tweede span van 200 brandbestryders en 13 bestuurders sal binne ʼn week by die bemanning in Alberta aansluit.

Die Kanadese ontplooiingspan vir 2023 bestaan uit pomp-opgeleide brandbestryders met ʼn geldige geel kaart; meer as drie jaar ervaring in brandbestryding en fiks genoeg is. Altesaam 25% van die betrokke brandbestryders in die eerste groep is vroue. Dit sluit twee lede van die bestuurspan in en beklemtoon Working on Fire se toewyding tot diversiteit en insluiting.

Verskeie lede van die span het vorige internasionale brandbestryding-ervaring, wat die kundigheid in die hantering van ingewikkelde brandsituasies verder versterk.

“Ons is trots daarop dat Suid-Afrika weer in staat is om Kanadese brandbestrydingspanne te help in hul stryd om die bosbrande onder beheer te kry. Die uitgebreide ervaring en opleiding van hierdie brandbestryders sal aansienlik bydra tot die doeltreffende onderdrukking en bestuur van die bosbrande in Alberta,” het Creecy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.