SA spring resessie net-net vry

(Argieffoto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Suid-Afrika het net-net ʼn tegniese resessie in die vierde kwartaal vrygespring.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het Dinsdag bekend gemaak dat die Suid-Afrikaanse ekonomie in die vierde kwartaal maar met ʼn marginale 0,1% gegroei het nadat dit in die derde kwartaal met 0,2% gekrimp het.

Dr. Dion George, DA-LP en die party se woordvoerder oor finansies, sê die ekonomie het met dié skrale groei feitlik tot stilstand gekom.

“En Suid-Afrikaners word armer,” waarsku George. “Die status quo sal geld solank die ANC aan bewind bly.”

Die skrale ekonomiese groei tussen Oktober en Desember het die jaarlikse groeikoers vir 2023 op 0,6% te staan laat kom – laer as die tesourie se raming van 0,8% in die nasionale begroting.

George sê dié projeksie, hoewel laag en oninspirerend, was klaarblyklik te optimisties.

“Dit beteken dat verwagte inkomste, wat reeds afwaarts hersien is, oorskat bly en dat daar nog minder geld beskikbaar sal wees vir deurslaggewende uitgawes aan dienslewering en maatskaplike ondersteuning.”

George verwag daarom ook nie dat die ekonomie op middellang termyn teen die geprojekteerde 1,4% gaan groei nie.

StatsSA het vandag bekend gemaak dat reële bruto binnelandse produk (BBP) in die vierde kwartaal R1 158 miljard beloop het. Dit is meer as die pre-Covid-19-lesing van R1 150 miljard, maar steeds minder as die hoogtepunt van R1 161 miljard wat in die derde kwartaal van 2022 aangeteken is.

StatsSA het egter nie nét slegte nuus gehad nie.

Ses van die land se tien bedrywe het die ekonomie gedurende die vierde kwartaal in die groen gehou. Die vervoer-, bergings- en kommunikasiebedryf het die grootste positiewe uitwerking gehad. Dié bedryf het met 2,9% uitgebrei en 0,2 van ʼn persentasiepunt tot die BBP-groei bygedra.

Alle vervoerdienste oor die hele bedryf het ook verhoogde ekonomiese aktiwiteit aangemeld.

StatsSA wys ook daarop dat die land in die vierde kwartaal minder dae van beurtkrag (63 dae) ervaar het, in vergelyking met die derde kwartaal (91 dae), wat daartoe gelei het dat elektrisiteitsproduksie en -verbruik positief in die BBP-getalle weerspieël het.

Elektrisiteit, gas en water het ook ʼn tweede opeenvolgende kwartaal van positiewe groei behaal en met 2,3% uitgebrei.

Handel, landbou, konstruksie en die regering het egter swakker in die vierde kwartaal gevaar. Landbou, bosbou en visvang het veral ʼn moeilike kwartaal gehad en met 9,7% gekrimp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ronel ·

Elektrisiteit, gas en water het ook ʼn tweede opeenvolgende kwartaal van positiewe groei behaal en met 2,3% uitgebrei.

moeilik om te glo…….

Goldy ·

Gladnie, ons is baie diep in n resessie, die stats is gekook, glo my, al,vir jare en veral nou in verkiesingsjaar.

Papsak ·

Ja kyk onder die anc regering sal niks groei of op gaan nie ek dink ook alles word gekook nee regtig die goed moet uit !!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.