SA systap dilemma oor Poetin-inhegtenisneming

Naledi Pandor, minister van buitelandse sake tydens die Brics-vergadering (2 Junie 2023) (Foto: Jacoline Schoonees/DIRCO)

Suid-Afrika het Vrydag gepoog om die aandag te verskuif van sy standpunt oor die Oekraïne-konflik tydens ʼn Brics-vergadering wat oorskadu is deur vrae oor ʼn moontlike besoek aan die land deur Russiese president Wladimir Poetin.

Diplomate van Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika het vir ʼn tweede dag in Kaapstad vergader vir gesprekke oor die groep se ambisie om ʼn alternatief te verskaf vir ʼn Westers-geleide wêreldorde.

Die vraag of Poetin egter ʼn daaropvolgende vergadering van die groep in Augustus gaan bywoon, omdat hy uitgenooi is voor ʼn lasbrief deur die Internasionale Strafhof uitgereik is, het vandeesweek se vergadering gedomineer.

Poetin word deur die Strafhof gesoek oor beskuldigings dat Rusland onwettig kinders van Oekraïne gedeporteer het.

Suid-Afrika is ʼn lid van die Strafhof, met sterk handel- en ekonomiese bande met die VSA en Europa en daar word van die land verwag om die Russiese leier in hegtenis te neem indien hy in die land sou aankom.

Die kwessie het Pretoria in ʼn moeilike posisie geplaas en ministers het grootliks ʼn rits vrae oor Poetin se inhegtenisneming gesystap op die eerste dag van gesprekke.

Naledi Pandor, minister van buitelandse sake, wou Vrydag die fokus weglei van Poetin en die oorlog in Oekraïne.

“Lande is vandag in hierdie vertrek vergader … ons verteenwoordig saam ʼn beduidende meerderheid van die wêreld se grondgebied, bevolking en ekonomie,” het Pandor gesê.

Verteenwoordigers van sowat ʼn dosyn ander lande, insluitend Iran, Saoedi-Arabië, Kuba en Kazakstan, het in persoon of virtueel die vergadering bygewoon as deel van ʼn “Vriende van Brics”-sessie.

Brics-ministers het Donderdag belangstelling deur verskeie lande, om by die groep aan te sluit, verwelkom.

“Ons in hierdie vertrek moet ʼn plan van aksie bepaal vir ons lande en vir die wêreld,” het Pandor tydens haar openingstoespraak gesê. “Ons kan nie toelaat dat konflik in een deel van die wêreld die ambisie vervang om armoede wêreldwyd uit te roei as die wêreld se grootste internasionale uitdaging nie.”

Rusland se besetting van sy buurland het daartoe gelei dat kos- en energiepryse die hoogte in geskiet het en vererger voedselsekuriteit in arm lande.

Pandor het ʼn vinger na Westerse lande gewys en gesê die wêreld het “geaarsel in samewerking” sedert ryk lande se “aandag en hulpbronne elders aangewend is” weens die oorlog.

“Die lot van armes word vergeet en die groot magte is betrokke by ʼn wêreldkonflik,” het Pandor bygevoeg. “Ons moet dit omkeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann ·

Nee nee. NIE SA nie, die ANC wat hulle kamerade verafgod en ons saam deur die modder sleep.

Pietertjie ·

Ek lag my ‘n papie as Interpol bloot die land binnekom, oom Vladimir oplaai en na Nederland neem. Hier is geen sprake meer van veiligheid en sekuriteit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.