SA taksman samel meer as R1,5 biljoen in

(Argieffoto: pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het van April verlede jaar tot Maart vanjaar meer as R1,5 biljoen (“trillion”)  ingesamel – ʼn 25%-verbetering van die jaar tevore en ʼn 15%-verbetering sedert die jaar voor die uitbreking van die Covid-19-pandemie.

Die inkomstediens het terselfdertyd die hoogste belastingterugbetaling gedoen sedert dit 25 jaar gelede op die been gebring is.

Waar die kapasiteit van die SAID weens staatskaping, politieke inmenging en wanbestuur uitgehol is, het die organisasie sy omkeerplan suksesvol in werking getel en hom geposisioneer aan die voorpunt van doeltreffendheid, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Die huidige hoë kommoditeitspryse wat tot verhoogde korporatiewe inkomstebelasting gelei het, het tot die jongste meevaller vir die inkomstediens bygedra. Die SAID het boonop verskeie stappe gedoen om sy IT-stelsels en ander infrastruktuur te verbeter, die doeanestelsel reg te ruk, vaardige werkers te lok en belastingontduiking en misdadigheid hok te slaan.

Daar was ook verbetering in die betaling van persoonlike inkomstebelasting, korporatiewe inkomstebelasting en die lopende betaalstelsel (PAYE).

“Die SAID neem die wind uit die seile van belastingontduikers, die begunstigdes van die opbrengs van misdaad en diegene betrokke by korrupte bedrywighede. Dit is alombekend dat die taksman een van die doeltreffendste instrumente is om korrupsie teen te werk,” sê Ramaphosa.

In gevalle waar ʼn individu se leefstyl nie ooreenstem met die inkomste wat hy verklaar nie, het die SAID die afgelope jaar leefstyloudits gedoen. Dit het tot die insameling van ʼn verdere R474 miljoen gelei.

Volgens die president het ander staatsinstellings veel om te leer by die SAID wat in ʼn betreklike kort tydperk die uitwerking van staatskaping omgekeer het.

“Wanneer staatsinstellings goed bestuur en doeltreffend is en wanneer hulle geloofwaardig en regverdig in hul bedrywighede is, dra dit by tot verhoogde vlakke van vertroue in die regering. Sake- en beleggersvertroue verbeter ook, en moedig groter belegging en ekonomiese groei aan,” sê die president.

Volgens Ramaphosa moet die Suid-Afrikaanse belastingbetaler egter ook bedank word vir die vertoning. “Sonder hulle samewerking sou die jongste inkomste nie moontlik gewees het nie. Die SAID het sy belastingbasis met 1,8 miljoen nuwe registrasies oor die afgelope jaar uitgebrei en dit is nog ʼn uitstekende prestasie.”

Die president sê Suid-Afrika kan net herbou word as mense voortgaan om hierdie verpligting te deel en belasting slim en doeltreffend gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Manie ·

As die veldtog teen korrupsie en diefstal maar net so voortreflik was soos die insamelings veldtog.

Casper ·

Die president moet ook net sê dat ander korruptes ook aan die pen gaan ry en dat hulle nie beskerm gaan word nie.

Phillip ·

As iemand elke jaar sy kar verkoop en vir hom n nuwe kar koop van R900,000 of karevaan koop om belasting vreitespring wat na SARS toe moes gaan is dit wettig of nie ? hy werk op kommies . Of het hy n goeie rekenmeester vrae maar net ( hy is nie n boer nie )

Papsak ·

Ja kyk bietjie na die BTW op alles wat so hoog is maak bietjie laer dan kan ons almal by kom en lewe

Nationalist ·

Nou gaan die regering weer Oprah speel en vir al die kaders karre uitdeel!

Lesly ·

Ooh, ek kan net dink hoe die bestellings vir spogmotors nou weer ingestuur word

Swerwer ·

En die ANC dink ons moet die bollies glo…………regtig………….

quartus ·

Dit voel vir my of die meeste van daai geld uit my sak kom

Vonkprop ·

Die ANC sal nooit teruggee gee nie. Hulle vat net. Hulle kan die ekstra geld gebruik vir soveel verligting, maar nee, dit gaan oor die ANC.

Marius ·

Wie is die wat uitbetaal is ? Ek moes inbetaal. Dink nie dis iets om oor te spog nie. Meer as 60% van ons salarisse word gespandeer op verskillende vorme van belasting, heffings en tolgeld. Rooskleurig né…

Wondermaarnet ·

Het die ANC al hul agterstallige geld betaal of gaan dit ook van Jan Publiek verhaal word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.