SA vervaardiger se huis in brand verwoes

Die drieverdiepinghuis van die My Octopus Teacher-vervaardiger is erg beskadig. (Foto: Facebook / Cape Medical Response)

Die huis van die vervaardiger Craig Foster – bekend vir die Oscar-bekroonde dokumentêr My Octopus Teacheris Donderdag in ’n brand in Murdoch Valley buite Kaapstad verwoes.

Nooddienswerkers van Cape Medical Response (CMR) en Kaapstad se brand-en‑reddingsdienste is omstreeks 10:00 na die huis in Freesiaweg in Simonstad ontbied.

“Brandspanne van Simonstad, Kommetjieweg en Vishoek is na die toneel ontbied. Die drieverdiepinghuis het grootskaalse skade opgedoen en die gebied moes afgebaken word,” het Jermaine Carelse, woordvoerder van die stad se brand-en‑reddingsdienste, gesê.

Today, 6 October at 10:00am, Cape Medical Response ambulance was dispatched to a house on fire in Freesia Road, Murdoch…

Posted by Cape Medical Response on Thursday, October 6, 2022

Die brand was teen 11:45 geblus, hoewel brandspanne die gebied steeds monitor aangesien daar baie hout in die omgewing is.

Volgens CMR is geen beserings aangemeld nie, en luidens plaaslike mediaberigte was Foster en sy vrou, die natuurbewaringsjoernalis en vervaardiger Swati Thiyagarajan, nie tydens die voorval by die huis nie.

The Daily Maverick berig dat lede van die gemeenskap kort na die brand in die rigting van Foster se huis gehardloop het in pogings om die eiendom met water uit tuinslange nat te maak om te verhoed dat die brand verder versprei.

Die oorsaak van die brand is onbekend en sal deel van ondersoeke uitmaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.