Saai help begunstigdes van grondhervorming

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter by Saai; Whiskey Kgabo, plaas Ledzee in Limpopo; Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum; Vuyani Zigana, plaas Bersheba in KwaZulu-Natal en Johannes Bezuidenhout, Nuveld Farming Empowerment Entreprises in die Wes-Kaap. (Foto: Verskaf)

Die landbouorganisasie Saai staan tans ’n aantal van sy lede wat begunstigdes van die herverdeling van landbougrond is, by om eienaarskap van hul huurplase te kry.

Dr. Theo de Jager, Saai se direksievoorsitter, het aan Maroela Media verduidelik dat die organisasie dié boere onder meer help deur druk op die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling te plaas, regsadvies in te win en bystand aan boere te bied om die grond waarop hulle boer by die departement te koop. Saai verskaf ook inligting en opleiding aan boere oor hul regte en magte en die stappe wat gedoen kan word om uitdagings te takel.

Saai het Maandag in ’n verklaring gesê die grondhervormingsprogram in Suid-Afrika het klaaglik misluk en dat die staat, ondanks biljoene rande wat oor die afgelope 28 jaar daaraan bestee is, nog nie daarin geslaag het om ’n klas winsgewende swart boere te skep nie.

“Begunstigdes van die herverdelingsprogram is gedoem tot ewige bywonerskap omdat hulle hul grond van die staat moet huur. Hulle is uitgelewer aan die nepotisme, wanadministrasie, bedrog en ondoeltreffendheid van die staat, wat dit byna onmoontlik maak vir ’n swart boer om kommersieel te presteer en ’n sukses van sy boerdery te maak,” het De Jager gesê.

Maroela Media het vroeër berig dat begunstigdes van grondhervorming raadop is met die departement se stelsel wat hulle skynbaar verhoed om die grond waarop hulle suksesvol boer, te besit. Dié boere voer daagliks ’n stryd om grondsekerheid en is magteloos teen plunderaars en onwettige besetters.

De Jager sê van hierdie boere word boonop gereeld rondgeskuif – onder meer na plase waar daar reeds mense woon en boer.

“Hierdie verskynsel dat hulle van hul grond afgesit word, is baie wyd en span oor provinsies. Dit beteken dat ons nie net een strategie kan volg om hierdie boere te help nie. Ons het van hierdie sake nou al oorgegee aan prokureurs om regstappe te doen. Ons hoop dat die departement die saak sal regstel voordat dit nodig is om hof toe te gaan.

“Dan is daar sake waar ons met provinsiale en nasionale amptenare in gesprek getree het, om eintlik maar vir hulle te sê dat hulle óf die probleem moet oplos, óf ons geen ander keuse laat as om die hof te nader nie.”

Saai verwys onder andere na Vuyani Zigana wat al talle kere van een plaas na ’n ander verskuif is, óf omdat die departement sy huurplaas vir ’n goed ingeskakelde kader wil gee, óf omdat nog ’n aantal ander begunstigdes dieselfde plaas moet deel en die amptenare nie van die bestaande huurders weet nie.

Nog ’n boer, Whiskey Kgabo, wat al 38 jaar lank in die Letaba-distrik boer, word daagliks deur betreders getreiter, maar die polisie weier glo om op te tree omdat die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling volgens hulle die probleem geskep het en dit moet oplos.

“As huurder van staatsgrond kan hy [Kgabo] nie miljoene rande in omheining en veiligheid op die plaas belê nie, want hy weet nie of hy op die plaas gaan bly nie. Hy moet eers sekerheid van verblyf op die plaas bekom deur dit te koop voordat hy sekuriteit vir landboufinansiering kan bekom.”

Volgens Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, is onsekerheid oor die hernuwing of integriteit van die staat se huurkontrakte een van die belangrikste hindernisse in die weg van suksesvolle ontwikkeling van boere.

“Landbou is ’n langtermynbelegging. Privaateienaarskap van landbougrond is die mees algemene element wat suksesvolle landboulande gemeen het, en lê aan die basis van beleggingsaantreklikheid en welvaartskepping.”

“Johannes Bezuidenhout, wat in die Moordenaarskaroo naby Beaufort-Wes boer, is moedeloos met die administratiewe rompslomp in die departement. Hy wag al tien maande dat die verlenging van sy huurkontrak bekragtig word, maar die provinsiale amptenare teken dit nie af nie. Hy kan nie verder boorgate sink, krippe bou of uitbrei nie omdat amptenare al geskimp het dat hulle ’n deel van sy plaas aan iemand anders wil gee.”

De Jager sê eienaarskap van plase is deurslaggewend vir die suksesvolle ontwikkeling van boere.

“’n Plaas is ’n onerneming, en soos in enige ander onderneming is beleggersekerheid nodig. Die boer is die belangrikste belegger op ’n plaas, en as hy nie sekerheid van grondgebruik het nie, ly die boerdery en die plaaslike ekonomie daaronder. Daarom plaas Saai toenemende druk op die staat om aan opkomende boere titelaktes te gee of om hulle toe te laat om hul plase te koop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Baie mooi saai julle is n ligstraal in ‘n land waar jong opkomende wit boere in die VSA op plase moet gaan werk omrede daar nie hulp vir hulle in sa is nie,hou so aan ons is trots op wat julle doen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.