Saak teen Gautengse adjunkspeaker betrap klaer onkant

Adv. Phyllis Vorster (AfriForum), sers. Lizzie Mojapelo en Barry Bateman (AfriForum). (Foto: Verskaf)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid was verbaas om te hoor dat die saak teen die adjunkspeaker van die Gautengse wetgewer, Vuyo Mhlakaza-Manamela, reeds Donderdag vir verhoor geskeduleer was.

Dít nadat Mhlakaza-Manamela maar ’n week gelede haar eerste verskyning op die heringeskrewe aanklagte in die Johannesburgse landdroshof gemaak het en die dossier toe vir die eerste keer aan die aanklaer gegee is.

Barry Bateman, woordvoerder van die privaatvervolgingseenheid, sê die eenheid gaan nou ’n skrywe aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) rig om te probeer vasstel waarom die klaer in die saak, sers. Lizzy Mojapelo, nie oor Mhlakaza-Manamela se eerste verskyning ingelig is nie.

Mojapelo is ook nie meegedeel dat vandag se hofverskyning vir die doeleindes van verhoor was nie.

Bateman sê die eenheid is ten spyte hiervan verlig dat die saak uiteindelik op die rol geplaas is en Mojapelo ’n geleentheid gebied sal word om haar weergawe aan ’n landdros te vertel.

“Die eenheid sal nou breedvoerig met Mojapelo beraadslaag en haar voorberei vir die datum waarop sy geroep word om te getuig.”

Mhlakaza-Manamela staan tereg op aanklagte van aanranding en crimen injuria nadat sy Mojapelo, ’n beampte verbonde aan die polisie se beskerming- en veiligheidsdienste, glo in Februarie 2020 aangeval het.

Die NVG het aanvanklik geweier om te vervolg en die saak is verlede jaar teruggetrek nadat senior aanklaers glo aan Mojapelo gesê het dat dit moeilik sal wees om te vervolg omdat die verdagte so ’n “hoëprofielpersoon” is.

Die privaatvervolgingseenheid het namens Mojapelo vertoë aan die NVG gerig en in Junie het die Gautengse direkteur van openbare vervolging die eenheid ingelig dat hy die vroeëre besluit hersien het en die saak teen Mhlakaza-Manamela weer op die rol sal plaas.

Die eenheid wil egter steeds weet waarom die aanklaer nie vooraf met Mojapelo oorleg gepleeg het nie.

“Waarom is die saak ’n week ná die eerste verskyning vir verhoor geskeduleer toe die aanklaer klaaglik onvoorbereid geblyk het om voort te gaan?”

Bateman sê die privaatvervolgingseenheid gaan ook navraag doen oor waarom Mhlakaza-Manamela nie van inmenging in ’n polisiebeampte se pligte ingevolge die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangekla is nie, aangesien Mojapelo ten tyde van die voorval aan diens was.

“Die eenheid is oortuig dat die skielike dringendheid om van hierdie saak af te sien, daarop dui dat die NVG voortgaan om gunstig op te tree teenoor beskuldigdes wat polities verbind is,” sê Bateman.

“Die omstandighede blyk ontwerp te wees om die staat te benadeel. Die eenheid vra – wie sal daarby baat?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Di ·

NVG net soos die ANC kaders, skelm en onbevoeg. Boeties sorg vir mekaar

Nie Verbaas ·

Sekeres vind dit uiters moeilik om hulle take met integriteit te verrig. Viva ANC narre.

Lillian ·

So wou hulle agteraf die saak afhandel sonder die mede wete van die klaer. Onderduims en agterbaks.

Piet Snot ·

Een ding is slegter as ʼn swak staatsaanklaer. ʼn Onvoorbereide swak staatsaanklaer.

Frank John ·

Aan die een kant word gesê, niemand is bobdie wet nie maar sodra ANC politisie betrokke is word daar woer-woer gespeel met die vervolging, presidente ingesluit.

domheks ·

AfriForum baie dankie vir geregtigheid! NVG is cANCer se kaders.

Swerwer ·

Wat maak dit nou saak wie watter pos beklee. As jy jou wangedra, maak dit mos nie saak wie en wat jy is nie. Straf moet jy dra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.